Wednesday 4 December 2019

ek sal altyd stukkies van die waarheid inasem

deur die tekens van die trekkrag en invloed van die afgestorwenes
is daar steeds die oorheersende honger vir die genadelose opregtheid van klip
en kan ek altyd doen met die aanmaning tot
die liefde vir vry en wilde plekke
sodat ek na myself kan terugkeer met oop gemoed
en fris en vars van voor begin

daar bulder stemme in my bors
ek is nie alleen nie!
ek sal altyd stukkies van die waarheid inasem
en stukkies van die droom uitasem

laat my oë oop en wyd strek sodat meer lig en skoonheid in kan stroom
geen luide gekerm sal iets kan verander
iewers sal die vreugde weer op my hartseer-bevlekte wange skyn

goue lyne kronkelend rondom die wolke
sal die luidrugtige poësie in haar eie onbegrensde ritme spel
die wolke is nie altemit die wasems van my voorvadergeeste
wat my keelklanke toejuig
'n sagte lig sal deur die donkerte breek
kom digkuns, breek oop met oorgawe
sprei elke versmaat oop in die dans
en laat elke asem oopbreek in verruklike vonke

No comments:

Post a Comment