Thursday, 1 November 2018

die gekartelde wensdenkery

die gekartelde wensdenkery laat die vel jeuk
van ongeduldige komeet-stert-sparteling
wie het lus om nors te wees as daar soveel druppels
oor die aarde galop?
mense is maar net aspris om die euforie te besmet
met hulle gladdebek verskonings

die kraai verspil sy gesteelde juwele in die wind
oral spring vingers die lug in
en gryp gryp gryp
en met aandete word daar gekloek om die
glibberige vondse wat net nie wil tuisvoel in die hande nie

voel die kastaiing ooit voltooid in sy mildelike
groei van pienk bloeisels?
hoekom vra ons dit van natuur –
om iets te voel?
die kompanjie van ons maplotter-koppe
dink en voel onsself gedurig binne-in die van ander
ag ek moet seker meer simpatiek wees
want is dit nie wat ons soek nie –
meer barmhartigheid?

die gepantserde beslissings smee met akkurate fokus
al die kosbare metale tot een verboureerde leermag
hoekom word hierdie aksies alewig bekroon en nageboots?
ek kan net kners op my tande
en hoop al hierdie sjambolika bedaar
in die harte van die onstuimige kansvatters

deur die glaserige oë van die skilpad sien ek
die heliks van ons tyd
spin en spin en spin
mag die spin sy rigting verander
die ongurigheid uitsif en
die skurwe psige skoon spin

deur dit alles word die reisbiljette
in miljoene kopieë nogsteeds uitgedruk by die drukkers
en wee o wee die vliegtuie probeer hard
om die globalisasie vasgegom te hou

die selekant kom skril uit die donker tonnels van
ons verlede gegil
hoe imposant moet die wêreld vir hom nou lyk
wanneer is dit klaarpraat met die verwaande oortuigings
wat so selfvoldaan oor die landskap slenter?

maar die slange sal bly vervel en  
krul van plesier
sekere ritmes ken nie belemmering en kniehaltering
dit sal bly pols en sis en stoom
al is die bastion van ons taal al so uitgetrap deur
die wilsmoedige tonge
bly praat
sal ons bly praat
en bly skryf
sal ons bly skryf
die strewe om aan ‘n doelgerigte skepping
geboorte te gee
is nie te versmaaie nie