soos ‘n taksidermis
vat ek die dooie gedig
en stop dit op
plak met bewende vingers
sy smotsige vere in deurmekaar metafore vas
en hoop die wêreld sien
nie sy onpolsende hart raak nie
dit is hartverskeurend hoe grootbekke hoogty vier in hierdie wêreld ek skaar my maar by die sonskyn om my sin van standvastigheid te gee ek nooi die malvablomme en die tarentale om saam met my in die voortuin piekniek te hou
die peristalse bly benoud omdat ek die konvensie in my bewerasie gewaar ek bly dans om die spontane blydskap astraal en prontuit uit my tone te laat bloei my agonie en aggressie word sagter moenie so besitlik wees oor jou karmenaadjie haal dit uit die uitsonderlike parentese die drukkieklikkie raak al hoe meer loslit soos wat die murgmeter se grafiek verwoed op en af dans die wêreld se gemoed raak so katatonies dat die asteroides geen lus het om naby die aardbol verby te wals nie ek het soveel oog, oor en hartlogika die bleeksielige opsigter van my beendere moet gedurig die brandblussers byeenroep om die wegholbrande in my sinuwees te bedaar asseblief hou die kliniese klousules ver weg van my digkuns ek wil met geen era seisoen verwagting of media handskud nie
die spektrale kariljon bly in my ore lui lui alle klaagliedere uit die pen uit! laat ek die filigraan idée fixe vasvang en dit opklits tot een pronkende pou dit sal die poppemeesters verbly