Friday 9 August 2024

Lied van die vroue

     Vir my mede-musici, Rea & Bea
     Voorgedra tydens konsert vir stem, viool en klavier op Vroue-dag
     9 Augustus

ons bly loop op die aarde
al is die elemente ongenaakbaar
hoe hulle die vel verteer
ons pols bly diep en sterk
ons wilskrag is onverskrokke
in die stryd teen die skaamte
teen die vrees
teen die vlees
en
teen die donker

die pols van ons voete
gee die aarde rede om te glimlag
ons blaas ons asems oor die pieke van berge
en raak net-net aan die bevryding wat
die kleur van ons bloed elke dag beloof

ons koppe dans oor die duiselige afgrond van die uitdagings
maar ons weet van vasbyt en deurdruk
dit is die hoop en droom van die vrou wat
die gemoed laat bly uitstyg

aha die kuns is waaragtig om
die liefde
die lig
die lag
en die liggaam
met oorgawe te vertrou
dit sal ons vroueskap versterk en
die sterre sal deur ons selle breek

ons moet bly sing in ons wakker en in ons slaap
die smagting sal bedaar
en ons oë sal vanself na die son toe draai
ons stemme sal oprys deur die stilte en die geraas
en almal sal ons hoor!

beskuldig ons van self-vertroue
ons gee nie om
gooi die klokke weg
want ons tonge is die nuwe sekondewyser
pak weg die woordeboeke
want ons hande is aangestel as die nuwe vertalers

dit is nou die tyd om te vlieg
verder en meer volhoubaar as die mees manjifieke voëls
dit is nou die tyd vir vryheid en vrede
wat deur alle vroulikheid sal vuur
ons sal uiteindelik ons waarde op
die kruine van golwe sien feesvier!

Tuesday 6 August 2024

Thursday 1 August 2024

no time

no time to write poetry

no time to get depressed

no time to die


die fokn relentlessness
van survival