Hier die gedig wat ek spesiaal vir die FLORHA! vertoning in die Baxter Teater, Rondebosch, Kaapstad geskryf en opgevoer het >> die foto's is tydens die opvoering geneem >>
In die grond en blom skyn die hoop
En so het sy opgestaan uit die blomme-velde,
'n besete vrou gevul met drome van die aarde se diepe waters
so doen sy haar daaglikse pligte met grond onder haar naels,
borduur sy die lande aan een met die stingels van blomme
sy is alleen, net sy en haar tien vingers,
soms van haar kop af, maar altyd geheg aan haar hart en haar blomtuin
sy is deels vrou, deels aarde, deels blom
hoor hoe haar stem deur die blom-woude breek!
kyk hoe sy haar menswees bevry
deur met grond en blom liefde te maak
in grond en blom skyn die hoop
wat nog by ons mense spook
sy het vele sonkoper velde ontdek langs die kusste
het hul gevul met voetspore vol ryp wense
die dou lek sy vroeg-oggend van die lelie-blare
vee haar wange met die sagte son wat deur die struike breek
sing sy alomheen die liedere wat resonant oor die vlaktes aanrol
'n vrou soos hierdie mag nie stil bly!
hoor hoe haar stem deur die blom-woude breek!
kyk hoe sy haar menswees bevry
deur met grond en blom liefde te maak
in grond en blom skyn die hoop
wat nog by ons mense spook
dit is daar waar sy wil wees
daar waar blomme vry, wild en helder kan bloei
waar grond diep gegtrap kan word
waar groen, geel, oranje, pers en rooi
rys uit modder en 'n nuwe wêreld aanbreek
ja, dit is daar waar sy wil wees
daar waar haar siel saam resoneer met die seismiese aardskuiwings
wat tril met die geboorte van elke nuwe blom
daar waar grond haar die ritme van wind en water leer
haar leer hoe om haar vel ten volle te voel
soos wat net 'n blom kan voel
blom sing haar lyf uit elke hoek en porie
tril die vrugbaarheid regdeur haar voetsole
trap sy versigtig want blomtyd is 'n vlugtige en delikate seisoen
en tog dans sy diep, hard en vinnig omdat blomtyd uitbundig en grensloos is
hoor hoe haar stem deur die blom-woude breek!
kyk hoe sy haar menswees bevry
deur met grond en blom liefde te maak
in grond en blom skyn die hoop
wat nog by ons mense spook
grond is bly om te voel hoe diep vrou haar spoor trap
blom is bly om te sien hoe passievol sy deur die vreugde van kleur stap
sy druk haar lippe en bors ferm teen die aarde
voel die vibrasie van die magtige minerale groei
wat stoot en rys deur wortel en blaar
hoe lank het sy vir hierdie blomtyd gewag!
nóú is dit hier en blom sy saam met een helse vrugbare krag
No comments:
Post a Comment