ek vou die wit blad oop voor my
en oombliklik daal daar 'n sware duiseligheid oor my
die plig om die woord neer te lê
lê swaar op my
ek kyk diep die son in
wag totdat hy in 'n brons blom verander
ek kyk diep die volstruis die oog in
sien net sy pote raak
ek het gehoop hierdie gevleuelde wese wat nooit vlieg
sal die antwoorde in my oor kan fluister
die kandelabra met die druppende kerse
kwinkeleer my aandag die dieptes in
demmit kan ek nie eenvoudig dink en skryf nie
waarom moet alles 'n alewige omslagtigheid wees?!?
my voete staan swaar op die aarde
wat het van die veerkragtige dans geword
wat my tot sonsopkoms gedra het?
my tong voel swaar
my bene voel swaar
my hart voel swaar
hoekom daal daar so dikwels hierdie neweligheid
oor al wat 'n droom en gedagte is?
ek het opgegee om te staan
toe gaan lê ek
toe raak ek weer angstig
en spring weer op
want as ek nie op aandag staan nie
mis ek die kans van 'n literêre leeftyd wat voor my oë
mag verby wals
jy het dit, jy het dit!
ReplyDelete(onthou die ligtheid sal weer kom!)
Groete uit Nieu Bethesda,
x M