Thursday, 17 October 2013

Self-ondersoek



ek het lank laas geskryf. ek was siek. ek was aan't hoes vir 4 weke en my kop duiselig en gedisoriënteer! lewe het aangegaan, tog my wakkerheid en teenwoordigheid van denke was nie hele-mal so lekker nie. net gister begin ek weer soos myself te voel. ek sit toe die eerste woorde wat in my kop kom op papier neer en maak die volgende gedig daarvan. In die tweede gedig wat daarop volg gebruik ek weer dieselfde woorde maar skep 'n ander gedig. ek wou sien of my gedagtegang en assossiasies met die woorde sou verander met die tweede gedig - 'n tipe van "self-ondersoek".

al hierdie self-verkenning maak my vreeslik pedanties

al hierdie self-verkenning maak my vreeslik pedanties
my maag voel lighoofdig
hoeveel tyd sal ek moet verspil om
beter snot te oes?
ek lê weer my woorde soos die stukke
van 'n legkaart uit
en amper glo ek dit sal my verbeelding verskerp
maar al wat gebeur is my hart palpiteer
en die papier wat net stil bly

een goeie ding van verveling
is dat dit so 'n skoon gevoel is
gestroop van modderigheid

die heeltyd huh en frons ek
ek druk my ore toe
want die grommende hoofweg
trek stywer soos 'n galgtou om my gedagtegang

ywerig skrop ek alewig my tande
maar die wol bly sit!
hoeveel tandeborsels het ek al deurgeborsel?

beterskap gaan kom slegs met drome en berge
my skelet wil weer die kontoer van dans en klippe voel
hoekom soek ek 'n lewe wat lê?
die horisontaliteit sus my kop
hoe kan ek op enige moet en behoort aandring?
gaan hou piekniek met sjampanje
dit sal jou voorskrywende geaardheid temper
of dalk nie

raai-raai die wit sal eendag tot 'n einde kom
en die 5 kg ink wat ek agter in die pad laat lê het
maak my beter voel, ek glo so

asseblief laat die keuse maklik wees
my voorkop en kneukels is al lekker senerig van al die tob

hoe sal die lees van hierdie woorde in jou kop klink?

dis interessant om te sien hoe die eerste sin
altyd netjies en venynig die gedig bepaal
maar weet: geen begin kom sonder 'n einde

- - -

en die tweede gedig:

raai-raai jou skrywershand sal van sy senerigheid ontslae raak

hardloop weg van die elf ekke van die vorige venynige gedig!
hulle probeer jou nou net te verwar

my maag lees die eerste woord "hardloop"
en frons vraend "waarnatoe?!"
ek kan nie 'n maag wees sonder 'n ek nie!
ja, hy is seker nou al dik van die verveling
van hierdie self-verkenning

die ek wil altyd 'n nes skrop
homself kom neervly op die papier
stil kan hy ook nooit wees nie
altyd besig om pedantiese berge van alles te maak
dit maak glo die hoofweg vir die verbeelding oop
hy behoort eerder sy kop laat lees
dis nie sjampanje wat hom so lighoofdig maak nie!

toe, toe, moet nou nie so voorskrywend wees nie
die lewe is 'n legkaart wat gedurig
daai laaste paar verlore stukke soek

dit klink asof jy minder jou tande moet borsel
of selfs beter, gooi die dekselse tandeborsel weg
jy verspil tyd man!
gaan sus jou skelet met 'n piekniek
lê en droom van skoon lug
die galgtou van jou keuses sal verdwyn
en die snot wat heeltyd jou neus laat palpiteer
sal teen 'n einde kom

so maak hierdie wit jou ken lig
en geen hoeveel en hoekom sal jou weer kom pla nie
en raai-raai jou skrywershand sal van sy senerigheid ontslae raak
bietjie vleis aan sit is goed vir tye van die grommende honger
en eet daai 5 kg sak boontjies!

al wat oorbly is: ek wens jou beterskap toe!

huh, is dit jou manier om my goed te laat voel?
asseblief!
hoe netjies-verbaal soek jy al weer skoor

No comments:

Post a Comment