ek huppel vlugvoetig oor die klippe
met die ou tannies se sing-alongs
helder ingekleur
in my gemoed
hoe de donner moet die groen onder my
eie voete groei as ek die heeltyd om een plek staan?
die gras sal mos verdor!
al gedra ek myself hoe,
dis altyd so moeilik om my wispelturigheid
hok te slaan
ek verpes verleentheid
en donder, hoekom sit geleentheid
so na aan verleentheid?!
ek hou van die grond onder my voete
dis kaalvoet wat my leer om die weerstand te laat vaar
en net te staan
voete klou vanself
moenie my opinie deesdae vra
want ek forseer so dikwels om nie saam te stem nie
drapeer die winde van weerstand om my
my vel sal wild wapper
en die duiwels op my skouer sal grinnik
onmiddelike lewegewendheid sit
hier in my asem
hoekom nie mildelik asem skep
duisend keer per dag
ek sal 'n paar muggies insluk
maar meer suurstof in die longe
sal verseker 'n magtige sin-dikaat
van helder gedigte skep
ek sal die spel van die lewe ook beter speel
ek hou van krismis-tyd – die neute skyn
meer goud en brons as gewoonlik
die strikke maak my tone krul van krismis-plesier
en die allerlei koekies gepak in hulle blink blikke
bulder skaamteloos die vretende tering van
die verorberende verbruikers
deur die kunsliedere wat deur
my vingers sypel
word my verwarring gesus
en kan ek weer helder dink
No comments:
Post a Comment