die ontstuimige kleintongetjie grom vir
die geroesde musiekboks wat nog
sulke wonder-klanke kan uittoor
die donsige suikerbekkie-kuiken duik diep
in sy nes en maak die benoude geute vergeet van
al die brandnetels wat binne hulle oprank
die boeiende plakkaat tol in die wind
en beduie my duiselige kierie
die afgrond in
draai my in smaaklose geskenkpapier toe
en gee my vir die uitgehongerde beslissings
wat in hul langdurige afpersings verkrummel
die beskeie skuurpapier skarrel besorgd
oor die korale en vermy
enige troebele uitdagings
die piekante wierook pamperlang
die smotserige fatsoen
die opgesmukte parfuum syfer hangkop verby
die afgesaagde skerpmaker kla kwistig
oor die blikoopmaker se skrille motivering
om aan die werk te bly
die afgeskeepte Rubik kubus skaats en bons
verby die teësinnige handskoen
wat enige kubisme ten alle koste wil ignoreer
die gemmer verdrink in die tee
ek probeer hom red
maar hy is te glibberig
die laken sleep haarself oor die vloer
sy voel nie beskore vir hierdie nuwe dag nie
haar emosies is net te brokkelrig
al die dreine om die huis voel ook 'n ongemak
die vensterbanke kruip al
hoe nader aan die grond
die blitse springtoue dartel
al om my enkels
maar ek wil niks weet van spring
die kruppel rasper maak net klonte van alles
ek vly en stamp maar
niks wil werk
die plektrum is ook skielik so porieus
enige langtermyn planne wat die kitaar in die mou voer
kan netsowel geelimineer word
hoe ek ookal die woorde vaskram
die lettergrepe lê oral geskif
ek kan dit nie waag om hierdie uit te saai nie
hierdie gedig bepaal die vlak van siel-uitsuiging
hoe kry hierdie verse dit reg om
enige hoop te laat verdamp?
No comments:
Post a Comment