inkrul in die teddiebeerhitte kom vind ek paar metafore
wat my oggendtee sal wees en my tongkop sal verkwik
ek haal diep asem sodat die suising in my ore sal bedaar
en ek nie na die dowe toekoms hoef uit te sien nie
ek hoor tibetaanse bakklanke is
die beste geweer om tinnitus te keer
dan begin ek sommer dadelik - nooi die singende bakke -
dit gee my rillingvel
ek soek voortdurend die rillings
dit is vir my die salwendste ding
ril tot in die murgkern
laat ek tril en ril tot in ewigheid
maar voor ek agteroor lê moet ek my tongkop trein
om uit haar hoekigheid te dink
digter behoort met nugter en onnugterheid
asemrowendheid te toor
die dreun van die wiele hier op jeffreysbaai se strate
wakker die angstigheid aan
rol die aand se reën met waaierende flirtasies oor die teer
ouma rika, coreen en haar vyfmaande maelan slaap in die hierlangsekamer
ek probeer om diep te asem en my hoesbors stil te hou
die vredelike stilte is net te goed om te steur
watter gedig sal ek hulle hierdie keer skryf?
ek moet hulle epileptiese kat se naam inkanteer.. dit toor dalk iets op
die alewige wegvlug van rook en hoes
ek wonder hoe gaan ek hierdie gedig aanmekaar weef
die gare moet jeffreysbaai se reën wees
en die doek is ouma-grootjie se bonte laslappiekomberse
die lig wat ek gaan nodig hê om my skryfwerk te sien
is heldergeverfde leë plêstiek coke-bottels
vir so bietjie naelbyt gaan krap ek in coreen se stephen king boeke
om so bietjie ouderdomsbeperkende edge te gee
wie glo in ouderdomsbeperking?!
ons is vatbaar vir enige skokeffek tot
in die lengte van ons dae
moenie dink mens word ooit oud, wys of onskokbaar nie
ek gaan snuffel in die koffiepot en
bespiegel oor die betekenis van die lewe
alweer gooi julle die deur oop
daisies en hulle mamsters kan kom intrek
No comments:
Post a Comment