Wednesday 15 May 2019

die bloeiende pers tonge

die bloeiende pers tonge van die buddleja salviifolia rinkink teen die hange
ek vergeet die sjambolika van my tye
ek kom sit en asem ink-sugte uit oor die papier

die middernagtelike komplotte om transendentale strewes te koester
gee my siel vastrapplek in die konundromiese penaries 
wat alewig kapperjolle speel in die solders van my sintuie

ek sit pens en pootjies in die middel van die sillabes
wil weer soos 'n kind sorgvry klieder en kruip 
en klouter met al wat nuut en wondertorend is

die tugmeester binne my wil gedurig dinge korrigeer
so venynig hierdie gewoontes van haar
en so versot om my as haar pak-esel toe te snou 

ek keer elke keer terug na die blues van laerskool-herinneringe
hoe ek my moontlike genietinge so dikwels in parentese sit
hoekom verkrag ek die oomblik met verstoppende onmin?!

ek begeer om soos die xmen bomenslike kragte te kan uitvoer
pomp adamantium in my are
beskerm my teen die uitmergeling en aanstootlikheid

No comments:

Post a Comment