daar is twee klein walvisse wat na-aan
die eerste golwe hulle lywe uitsteek
die hele middag is hulle daar
ek loop na die water
ek is die enigste mens op die strand
ek het nie my bikini by my
ek trek my rok oor my kop
kaal loop ek reguit die golwe in
soos dit hoort
(hoe wonderlik dat 'n walvis nie hoef te verduidelik
dat hy nie klere hoef aan te trek nie)
met arms uitgestrek
my rug en kop fier en regop
voel asof ek na die binnekamer van my voorouers loop
ek kan nie my gewone onderwatergille gee nie
ek wil nie die walvisse wegskrik nie
met my kop onder die water kreun en grom ek saggies
- ek glo vas hulle hoor my en dat hulle terug gesels
dit is net ek wat nie die ore het nie -
ek kreun vir hulle die gedig van my dansende bene
ek skop vurig met my voete
stuur ek helder seine van my lewenslus
en my rede vir leef die diepsee in
skielik raak ek stil
ek probeer my seine terugsluk
ek is 'n mens wat deel is van die kak aanjaag en injaag die see in
ek is jammer Walvis vir die Mense wie ons is
kom ons bly stil en luister...
Mamela uLwandle
Luister na die Oseaan
Mamela Umnenga
Luister na die Walvis
No comments:
Post a Comment