Wednesday 18 January 2023

klawer-aarde

        vir my Feetjie-Fiona

die eerste dag toe ek my eie kar besit
op die ouderdom van 37
het ek my silwer rok aangetrek
en agter die stuur ingeklim
vir ‘n spin en fotos
6 jaar later trek ek weer my silwer rok aan
dié keer klim ek agter my nuwe Yamaha klavier in
vir die eerste keer ‘n klavier wat ek waarlik myne kan noem
en ek vat haar vir ‘n spin
ek drapeer my Feetjie se feetjie-liggies oraloor
om haar gulhartige en vrygewige gees hier
oor my te voel dartel
en my hart en vingers staan tuit

ek het nooit grond besit
maar vandag met my vingers al hangend oor die klaviatuur
voel ek hoe dit is om ‘n stukkie aarde myne te kan noem
‘n stukkie swart en wit klank-grond
wat ek met die dieptes en hoogtes op en af kan klim

ah so iets glinsterend wat ek myne kan noem
dit is soos ‘n droom!

hoe baie klaviere het al onder my hande gegaan
onder my palms gesing
gebrand gevloei gevlieg
maar dan moet ek gou koebaai sê
want hulle was nooit myne nie

maar hier staan my eie klavier nou haar stewige staan in my see-huisie
is dit hoe dit voel om ‘n stukkie aarde te besit?
‘n stukkie woud?
‘n stukkie wind?
‘n stukkie oseaan?
‘n stukkie oase?

ek sien uit na die trillende horisonne wat deur die snare gaan oopbreek
die getye van melodieë wat die mure gaan afbreek
en die sterrehemel van die harmonieë
wat in my hart gaan inbreek
ek sien menigte klein oerknalle wat die punte van my vingers gaan lostoor!

maar vir nou,
buig ek neer voor hierdie klawer-aarde
en ek sê dankie
dankie

dankie

No comments:

Post a Comment