Wednesday 6 September 2023

altyd oop vir inter-PRET-asie

ek wil 'n gedig skryf wat op 
'n pareidoliese manier wonderbeelde
in jou kop toor
sodat jy nuwe vorme en figure sien 
opdyns en dans met mekaar 

is dit nie maar wat ons almal
elke dag dag doen nie - ?
dat jy sin maak van my sin
op jou manier
en wanneer jy my vertel van 
jou manier van sien
spieël jou ervaring 
weer terug in my brein
op my manier

dit bly maar 'n wonderwerk
dat ons heel sinvolle gesprekke kan hou
en iewers oor die troebel waters
'n helder brug kan vind om oor te klim

***

is die kunstenaar werklik dan die kunstenaar?
die waarnemer kan verseker meer erkenning kry
vir haar eie kunssinnigheid

om jou eie nuwe skepping raak te sien 
binne 'n bestaande kunswerk
is 'n talent 
is 'n kuns

***

dus en daarom:
bly kyk en skep
bly skep en kyk
die inspirasie werk wedersyds

No comments:

Post a Comment