Wednesday, 15 January 2025

ag nee, geitjies sterf ook

ek maak my venster oop
en op die vensterbank val
'n piepklein geitjie
                        gekwes

hy het seker in 'n gleufie skuiling gevind
en toe ek hierdie oomblik kies
om die venster oop te maak
                        knyp 
die raam deur
sy dun lyfie
etlike lewenstrillings flits deur sy selle
en skielik net so stil
net so             
                       dood

sy lyfie so weerloos en klein
my skrik so bitter en groot
alle klammigheid in my mond verdwyn
my oë dartel wild oor die kortstondige lewensboog
waarin hierdie brose wesentjie in 
hierdie klein hoekie 
van die aardbol gestraal het

'n halfuur later kom ek terug 
om seker te maak die geitjie is nog daar
en dalk wonderbaarlik weer opgestaan het

                       maar nee
'n hele spul reuse miere
oortrek sy lyfie en
                       verlustig 
hulself aan alles wat
hom eens laat beweeg het

die skok trek my platter
hoe gou so polsende kleinood
                     oplos tot in 
die onpolsende 
                       niet

No comments:

Post a Comment