Monday, 21 August 2023

...vanwaar die karakters op die Kruispad?

ek is die Prehistoriese Pos-Agent wat
bly klou aan die ou nuus
ek is die Alleen-er wat
die skares beloer en oor hulle
en myself kopskud
ek is die Ellendeling wat
so pateties, onkreatief, 
lui en gedisillusioneerd my asem uitblaas
ek is die Grot-Bewoner wat 
die bekende beskerming wil vermenigvuldig
ek is die Anargis wat 
al die mure in my hart wil afbreek
ek is die Kariljon wat 
deur dit alles liries en luid wil bly sing

Sunday, 20 August 2023

vers koning

ek het geen verskoning
laat ek
skryf asof
hierdie
vers
koning
gaan wees
van die lande
van my digterlike verbeelding

Friday, 18 August 2023

sneeuvlokkies

my digdrome is sneeuvlokkies in die afrikason -
hulle toor vlugtig die berghange van my verbeelding
maar gou smelt dit weg in die warm son van vergetelheid

Wednesday, 16 August 2023

verder

elke keer wat ek 'n klavierstuk bemeester
voel dit asof ek 'n tree of twee 
verder van die dood beweeg

Tuesday, 15 August 2023

laat wiel

ek klim binne my gedig asof 
dit ‘n trollie is
en laat wiel met haar die rymende isles af –
geen groter plesier as poetry-on-wheels nie!

Monday, 14 August 2023

moet jouself net nie ophou verbeel nie!

en ek sê dankie
dat ek kan bly asemhaal tot in die einder van die liefde
as my longe te vroeg opgee, laat ek in die heelal se
kolkende sterremaag val en my ore bly drink aan
die sfere se singende fonteine
die wat ek liefgehad het op aarde
sal skielik in hulle slaap wakker skrik
en hulle harte voel gloei en weet dit is ek
wat hulle herinner om
na die wilde elegansie van oorlewing te pyl

ek luister na Antjie en ek dink
wie het vlerke nodig as jy ‘n digter in die omtrek het?
fokkit, moenie verder weg as hier kyk nie –
die perfeksie sit alreeds reg onder jou voete
waiting to leap and cascade with lavacious vivaciousness
ek het genoeg humorsin en avontuurlus om
die poësie te herskeleteer
die skynmuur van ons verbeelding 
sal helder bly skyn in ons doen en late
so asseblief moet jouself net nie ophou verbeel nie!
jy is ‘n boom wat nie anders kan as
om ver en hoog in digte blare-takke uit te spruit nie

en dan wanneer jy huistoe keer
sal die getye nog spel en speel tussen asem en verbeelding
mits jy nie vergeet om in aanraking te bly met die aarde nie
die vers flikker saggies in afwagting
is dit verbasend dat gesig een letter verskil van gedig?

Sunday, 13 August 2023

verwronge gesig

shit, word ek ingekatrol
deur die facebook gat
wanneer ek aan die ander kant uitstrompel
voel my gesig soos die portrette van Picasso
oë, neuse, monde, wenkbroue, ore 
op ander plekke oorgeklim

ek vat my twee hande
en druk en knie
my gesig se vel en bene en 
oog -en neus -en mondholtes
terug na hulle gewone plekke

na ek ingesluk is deur die selfoonskerm
kom ek stotterend terug na die oppervlak
o fok, my gesig het weer uitmekaar geval
in plaas van myself regruk
frommel ek my verwaarloosde gesig op
en gooi dit tussen die kannibalistiese tande van die kuberruimte

6 junie 2023

Saturday, 12 August 2023

ver(s)werking

(gedig geskep uit die eerste versreëls van my 20 gedigte van 2023)

ek soek ‘n lewende woord gestring van
die werwels van die letters
sodat die marionet wat jarelank die pa se hande gedienstig volg
vry kan breek en die verbasing teen mense se wange kan bons
al het ek hoe baie gesien hoedat
die gevoel van die gedig kom platlê soos
‘n lojale hond by my voete
kry ek dit maar min reg om
die digterlike oomblik te verleng na ‘n ordentlike vers
meestal trek my woord kromrug
en my asem jaag soos ‘n ondurige tango
in hierdie begeerte vir woordkapperjolle
aaijaai jaai jaai, fly me to my heart
dit is waar dit sal begin:
dit begin met die eerste tree
buite word die see natter in hierdie reën
die springgetye skuim
my are sluk die golwe heel in
die eksplosiewe K in jou naam
steek vas in my keel 
al waaraan ek kan vashou is
die warm helderheid van jou oë -
dit is presies daar waar ek wil wees
breathe me into your love
dan voel alles weer soos daai eerste dag

Eerste lyne van my blog-gedigte 2023

Ek soek ‘n lewende woord
Die werwels tussen die letters
Die marionet het nou vir te lank
Ek sien ‘n pa
Is dit verbasend dat gesig
Al het ek hoe baie
My gedig kom lê plat
Al is hierdie digterlike oomblik
Wanneer my woord kromrug
Soos ‘n ondurige tango
Begeerte vir woordkapperjolle
Fly me to my heart
Dit begin met die eerste tree
Springgetye skuim
my are sluk die getye
the explosive K in your name
the warm clarity in your eyes
dit is daar waar ek wil wees
breathe me to your love
die eerste dag toe ek

Friday, 11 August 2023

lewende woord

ek soek 'n lewende woord
waaragtig so lewend soos 'n hele kloppende hart
nounet geruk uit die hygende borskas van 
'n liefmakende mens
ek honger vir 'n woord so lewend en spartelend soos 
die eerste selverdeling in die fetus
ek kan nie anders as om 'n polsende woord 
teen my hunkerende lippe te wil druk nie
geen ander woord as die lewende woord sal doen nie!
 
'n woord so lewendig soos die bloedige hoes van mimi wat 
in haar laaste boheemse oomblik
gryp na liefde en lewe
'n woord so gretig vir lewe EN oorlewing
stotterend kom die woord oor die vlaktes van my tong aangestrompel
maar lewe sal sy lewe

die akademiese prima donnas en taalkundige skerpskutters 
moet maar vers-ink in 
my onverfynde wildarmige poësie
vir wat wil ek bloedlose woorde in 
vaartbelynde konstruksies met onsielige ongeselligheid
die honger en alleen wêreld instuur?

gee my eerder bloeiende lewende woorde
wat ek 
lomp   giggelend    blosend  
baldadig   self-bewus 
parmantig  twyfelagtig en 
skaamteloos 
uit my mond laat
tuimel

Thursday, 10 August 2023

geen verskoning!

die werwels tussen die letters skarnier ongeduldig
die longe kry skaars asem van die opwinding in 
die voete wat binnekort in die digterlike dans gaan inspring
as antoinette kellerman op 70 krog se woorde lyf en bloed kan inblaas
dan kan ek my eie bloedvlesige woorde lyf en bloed inblaas
ek het geen verskoning!

hier kom ek!

Wednesday, 9 August 2023

ou-bekende

die marionet het nou vir te lank gelê
lig haar stowwerige kop op
span haar toue weer styf
laat haar ledemate stadig begin ritteltit met 
die ou-bekende manipulasies wat deur 
die marionet-meester se kneukels gety

Sunday, 11 June 2023

...en skielik

ek sien ‘n pa
sy klein dogtertjie
stoot in ‘n Woolies trollie
en skielik voel ek die vreugde
van pa-en-kind-wees

ek is nie self ‘n ma nie
maar ek kry die oorweldigende gevoel
om hierdie gedig in ‘n trollie te laai
en haar oor al die paaie te stoot
en haar hoor lag en giggel
en ons altwee borrel van trollie-plesier

Wednesday, 7 June 2023

gesig

is dit verbasend dat
gesig
een letter verskil van 
gedig?

Wednesday, 10 May 2023

ek hoor weer die eggo's

al het ek hoe baie in die einder van die wit bladsy gestaar
tref die wit my elke keer van 'n ander hoek en skerpte in my oog
my mond trek op 'n effense effe glimlag
net soos 'n bottende blombloeisel wat nou pas
die oopte om haar voel
en haar blare stadig begin inspan vir die nuwe seisoen
so hang my lippe aan die takke van afwagting
stadig-stadig ontkrul my styfgespande lippe en keel
laat vaar die stugheid wat die verkoue oor my gemoed en borskas geblaas het
ontknoop die verstarring van aftakeling
ek hoor weer die eggo's tussen my spiere
blydskap begin lek aan my wenkbroue
hierdie gedig hou my nederig
ek gaan nie te gou op en af spring van jolyt
laat die bors kop siel en lyf ordentlik weer saam inkliek
die vers flikker saggies in afwagting...

Tuesday, 2 May 2023

my gedig kom lê plat op die vloer

my gedig kom lê plat op die vloer
sy voel hoe die metafore uit haar maag
die grond insyfer
laat die ontspanning deur al haar verse uitsprei
laat vaar die spierkragtige inspanning van die digtong
ontsluit al die stywe skarniere

die gedig trek al hoe platter op die grond
wil met elke liewe oppervlak van haar woorddadige lyf
in aanraking kom met die aarde

Monday, 1 May 2023

asem skep

al is hierdie digterlike oomblik net 
om my te laat asem skep
is dit beter as niks
‘n oomblik waar ek uit die ritme van my asem
‘n ritme vir die gedig kan vind
in en uit 
heen en weer 
op en af met die sinne
speel en spel die getye tussen asem en verbeelding

Sunday, 30 April 2023

gaan haal ek haar

wanneer my woord kromrug trek
en vertroue verloor in haar digterlike sin
gaan haal ek haar saggies van
die muwwerige blad en lê haar op my tong
daar vind sy vernuwing en herlewing
proe sy die lewe anders
en spruit ver en hoog
in digte blare-takke

Thursday, 27 April 2023

tangos en hiërogliewe

soos 'n ondurige tango
ruk die winde die lug heen en weer 
die wolke tol soos tientalle voete in 
die ontstuimige dans
met sikloniese onwrikbaarheid
span die winde hulle kuite
en sny met beslissende ritmika
hygende hiërogliewe teen 
die skynmuur van 
ons verbeelding

Wednesday, 26 April 2023

begeerte

begeerte vir woordkapperjolle
fynbesnede metafore
ondeunde rymelarye
wat een na die ander
van die tong afrol
en die vermaaklikheid van
die poësie
herskeleteer

Monday, 24 April 2023

fly me to my heart

fly me to my heart
where i can fold my wings tight
and warm around 
the volcanic core of anticipation
waiting to leap and cascade
with lavacious vivaciousness!

Sunday, 23 April 2023

perfek

dit begin met die eerste tree op die blad
vandaar af sal dit net maklik gaan
daai eerste tree van oorgawe
ontkoppeling
vertroue

wees soos die oseaan
perfek in elke oomblik

die lug is perfek
die golwe is perfek
my bui is perfek
selfs die moegheid vroeër vandag
was perfek
dit het my laat uitkom opsoek na ander perfekte oomblikke
die koue water is perfek
die rotse wat oor Lover's cove kywie hou is perfek
die resident seagull is perfek
die sand se insinking onder my voete is perfek
die gil uit my keel met die eerste onderwaterdompeling is perfek
so cool so sexy so confident so suave is elke oomlik

die strewe swoeg en sweet om perfeksie te bereik is so outyds! 
moenie werk maak van daai perfekte oomblik nie
die perfeksie sit alreeds reg onder jou voete!

Saturday, 22 April 2023

wie het vlerke nodig?

springgetye skuim vuurwitwarm
in ongeewenenaarde hoogtes oor
die kuslyn van my hart
my are bokspring in nuwe kinkels en kabels
en hervorm die spoed en rigting van my bloedvloei

in hierdie ongekarteerde seisoen
vlieg julle met hernieude vlerklose lywe

wie het vlerke nodig as jy 'n digter in die omtrek het?!

Thursday, 20 April 2023

die verrukking in die slukpyp van die see

my are sluk die getye heel in
en ek word 
golf 
    soutdruppel
seewier 
        diep sonlose kolk
wat spinnend en tollend
na die wilde elegansie van oorlewing pyl

Saturday, 18 March 2023

K i m

the explosive K in your name
breaks open in my ears like a blazing kaleidoscope

i hold a little longer onto the crackling kernel of that first plosive
keenly my breath is taken aback by
the knockknockknocking of its percussivity

over the years your K has become so kindred to my throat
what would my soft palate be without it?
i keep kindling it between my tongue and velum

no wonder the word Kiss also begins with this knightly letter!

how kind your kismet has been to carry your essence on the wings
of this fortifying sound!

K!!!
i let the kiln of my throat fire it once more before
it sinks
into
the closure of
the last two dreamy letters

immmmm

Yes! himmmm with the K
whom i love

Thursday, 9 February 2023

abdullah

the warm clarity in your eyes
seeps into your fingers

you hum along on
the bank of the river

the chords rise one after the other
like ships on the oceans' swells

softly proud the nails of your fingers
beam with the fertility

of harmony


my ears keep drinking

Wednesday, 25 January 2023

sterremaag

dit is daar waar ek wil wees -
daar hangend oor die afgrond van
die heelal se slukpyp in die oomblik wat
hy sy tong teen sy verhemelte vasdruk
en gereed maak vir sluk

dis so ‘n verruklike uitsien –
om ingesluk te word deur die heelal en
in sy kolkende sterremaag te val

Thursday, 19 January 2023

Breathe me to the end of love

~ A parody inspired by Leonard Cohen’s Dance me to the end of love

Breathe me to your love with a flaming aloe
Breathe me through the longing ’till I’m folded in your arms
Lift me like a laurel leaf and be my summer swallow
Breathe me to the end of love
Breathe me to the end of love

Oh, let me see your heart when the lights go out
Let me feel you breathing like they do in the dance-halls
Breathe me slowly what I know that makes me gasp
Breathe me to the end of love
Breathe me to the end of love

Breathe me to the mountains, breathe me on and on
Breathe me very velvety and breathe me very long
We’re both of us behind our joy, we’re both of us in front
Breathe me to the end of love
Breathe me to the end of love

Breathe me to the forests who are begging to be grown
Breathe me through the lips that our kisses have outworn
Cup your hands now, though the water runs out
Breathe me to the end of love

Breathe me to your love with a flaming aloe
Breathe me through the longing ’till I’m folded in your arms
Touch me with your naked breast or touch me with your heart
Breathe me to the end of love
Breathe me to the end of love


Wednesday, 18 January 2023

klawer-aarde

        vir my Feetjie-Fiona

die eerste dag toe ek my eie kar besit
op die ouderdom van 37
het ek my silwer rok aangetrek
en agter die stuur ingeklim
vir ‘n spin en fotos
6 jaar later trek ek weer my silwer rok aan
dié keer klim ek agter my nuwe Yamaha klavier in
vir die eerste keer ‘n klavier wat ek waarlik myne kan noem
en ek vat haar vir ‘n spin
ek drapeer my Feetjie se feetjie-liggies oraloor
om haar gulhartige en vrygewige gees hier
oor my te voel dartel
en my hart en vingers staan tuit

ek het nooit grond besit
maar vandag met my vingers al hangend oor die klaviatuur
voel ek hoe dit is om ‘n stukkie aarde myne te kan noem
‘n stukkie swart en wit klank-grond
waarmee ek die dieptes en hoogtes op en af kan klim

ah so iets glinsterend wat ek myne kan noem
dit is soos ‘n droom!

hoe baie klaviere het al onder my hande gegaan
onder my palms gesing
gebrand gevloei gevlieg
maar dan moet ek gou koebaai sê
want hulle was nooit myne nie

maar hier staan my eie klavier nou haar stewige staan in my see-huisie
is dit hoe dit voel om ‘n stukkie aarde te besit?
‘n stukkie woud?
‘n stukkie wind?
‘n stukkie oseaan?
‘n stukkie oase?

ek sien uit na die trillende horisonne wat deur die snare gaan oopbreek
die getye van melodieë wat die mure gaan afbreek
en die sterrehemel van die harmonieë
wat in my hart gaan inbreek
ek sien menigte klein oerknalle wat die punte van my vingers gaan lostoor!

maar vir nou,
buig ek neer voor hierdie klawer-aarde
en ek sê dankie
dankie

dankie

Thursday, 1 September 2022

laat ons terugkeer hiernatoe

met die arrivering van die nuwe seisoen
staan ek gereed met vlamme wat warm oor my skeen flits
ek sien ver voor uit in
die onvreedsaamheid van die wêreld
as ek sou bid dan is dit nou
want iets skort in die lewe
die harmonie van saamleef en skep
en mekaar die vryheid van grond en atmosfeer gun

in die uithoeke van ons bestaan sal daar
nog humor moet vasklou om ons siele te red
want as ons eers ons waardigheid verloor het met
die uitwissing van liefde en vrede
gaan ons nie veel hê om aan vas te hou

laat die basuinende klanke van visionêre stemme diep in
die holtes van ons ore vibreer – helder stemme wat
ons uit ons hibernasie sal pluk
en ons bloed die rigting sal wys
en asseblief, herinner ons om te skep in plek van ruineer
en dat dit ook okay is
om te observeer eerder as om te reageer

leef met oop gemoedere en juig uitbundig oor
al die passievolle mooi wat
pols en groei uit hande en monde
laat ons nooit ophou leer
laat ons bly kyk na die groei van
die sade in en om ons
laat ons sonder voorbehoud wortel en blaar spruit
wat van lig en son
skadu en vorm sal maak

laat ons terugkeer hiernatoe:
die eenvoud van skep
laat vaar die kompleksiteite en hoogdrawendhede
stroop die skeppingsdaad tot iets
so vaartbelyn en ongerep
dat ‘n enkele resonans die iris van die hartsoog
sal laat oopblom en tot verligting ruk