photographer David Cushing |
photographer Gilles Chevalier |
gode van die vurige vrees
die gode loop angstig al om my enkels
wag vir net die regte tyd om hulle tande in te sink
soos wilde oerdiere wag hulle met die aarde se tyd
lank groei hulle ledemate met hierdie wag
en nog langer groei hulle lus met elke nag
die gode loop onverskrokke oor die aarde
kyk nie links of regs
loop ongedeerd deur die lug en oor die klippe
hulle rugstringe buig met die wind
hulle knieë knak met die stof-blitse
hulle oë styg en sak met die son
nooit sal jy hulle uit die oog kan verloor
soos vrees sit hulle om jou keel
herinner jou aan die rigting waarheen jy moet trap
soontoe, soontoe
van daardie middag toe die gode oor my pad stap
was niks anders dieselfde daarna
met skouers, arms, borste, boude en bene
het die landskap gegil van
dierlikheid
'n wilde dierlikheid
gefokus, stil, onstuitbaar
is hulle voete-pas vasgenael in die grond
met soveel oortuiging is hulle god
is hulle dier
is hulle mens
uit hulle oogholtes broei die donker wolke
kolk die lug in een heilspellende inkarnasie
wat god-weet enige oomblik los kan skeur
maar staan, staan hulle in die oog van die storm
vlug nie, lag nie,
geen histerie
net 'n kreun wat saggies deur die linker bo-been breek
staan, staan hulle
op die vlaktes
die gode van die Vurige Vrees –
No comments:
Post a Comment