met
die vibrasie van hierdie nuwe stem
begolf
ek die kuswande
van
die gevestigde Ecca lande
en
slyp ek skerp die snykant van my tonglem
met
die sinsasie van tong teen tand
ril
die rugstring van my verhemelte tot in die verstand
val ek halsoorkop oor elke sinsnede
vermallend
opsoek na woordelike rede
totdat
die kern van alle senuwees versinsualiseer
en
geen tongval my sal keer
dat
wanneer my stem gaan opstaan
my
liggaam en siel agterna sal gaan
*ek het vandag hierdie gedig van my herontdek. Dit is geskryf in 2008 en is die eerste gedig wat Ecca gepubliseer het toe ek lid word van hulle digtersgroep (die bundel Spaces, 2009). Dit is so lekker om 'n gedig van soveel jare terug te herlees en nog gelukkig met die inhoud daarvan te wees. Dikwels is ek skaam oor my jonger dae se digkuns, maar hierdie gedig het my nou verras en weer inspireer!
No comments:
Post a Comment