ek moet weer poësie in my lyf kry
my ledemate moet leer om weer die letters te skryf
hierdie gelê-ery en gesittery terwyl ek die digkuns skryf
moet ‘n einde kry
dit is die probleem:
my hand neem die oorhand in die skryf van die poësie
my rug, my torso,
my skouers, my wange,
my tone, my enkels en
my dye wil ook bydra tot
my tone, my enkels en
my dye wil ook bydra tot
die skryf van die poësie
die hand mag deel hê aan die poësie
mits hy nie die pen gryp om die woorde vas te pen nie
die hand moet eerder lemoene pluk
en in stukke breek en op die tong plaas
sodat die poësie vanuit elke oranje sel
tussen die tande kan ontplof
poësie is nie gelyk aan die skrywershand nie
dit moet meer as dit wees
hierdie kort lyn tussen kop, hand en papier
is net te onavontuurlustig
laat die lyn afdwaal na die kniekoppe
en hulle maak skarnier in klinknael sillabes
draai af na die voetsole wat klim na bergpieke
en poësie onder die hoogste klippe uitgrawe
laat die lyn dan omwentel na die dye
wat met uitbundige krag
die ritmika van die digterlike dans inkleur
ek vra mooi: moenie net jou hand waag aan poësie
waag jou hele lyf daaraan
No comments:
Post a Comment