vir pa Louis, in jou laaste dae
twee
aande voor jou dood
pen ek
woorde neer as anker
om jou
laaste paar lydingsdae
iewers in
my hart vashouplek te gee
jy sê op
jou Louis-manier que sera sera
whatever
will be will be
the
future's not ours to see
die
histrionika in jou stem troebel van weltschmerz
deur
poorte woorde
sidder my
verbeelding in die verdoemenis
van jou
pyn en swaarkry
ek wonder
hoe gaan ek
uit
hierdie aftakeling
digterlike
sin kan put?
met
moeite skribbel ek lukraak woorde
die
papier begin lyk na 'n filigraan-net
waarmee
ek hierdie vlietende dae sal moet vasvang
ek maak
my oë toe en sien
ligvlekke deur digte
woude breek
ek smeek
dat johannesburg se stadsliggies
soos stukke
sonne my sinapse sal opwakker met hoop
ek pluk
elke lig soos lemoene
en gaar
dit op in my arms vir die dae
wat ek
die sonnige soet gaan nodig kry
my brein
stotter aan die sillabes wat glibberig bly
soos ek
probeer vastrapplek kry in
die
hartskeurende oomblikke waar ons jou begin verloor
ek skryf
woorde neer soos
marionet-meester
besnaar
die
ink-swart sterre
teen
'n
sanikende hemelruim
beier
en bulder
die
parmantige skoppensboer
wat my
hart se digte hartseer so brutaal wil vertaal
ek smag
na troos
en
verbeel my kaalvoete in modder
ek
inkanteer die woorde
wat
herhaaldelik in my kop skyn
tierlantyntjies
en kapok
sodat
iewers in die donker
'n sagte
lig deur sal breek
26 julie 2016
No comments:
Post a Comment