ek klim die heuwel agter ons huis uit
‘n kille
wintersoggend in lidgetton, die midlands van kwazulu-natal
'n wilde
wind terg my ywerige kuite en enkels
met
jagende asems kom ek bo
ek kyk
uit vir die plaat klippe
waarop ek
my gedigte gaan voordra
skielik
breek twee rietbokke die stilte
en snel
pylend oor die vlaktes
al agter
hulle ratse pote slaan
donker koolstof
op uit die gebrande gras
met ‘n
goeie afstand tussen ons
gaan staan hulle stil en kyk my
stip aan
hulle
vertrou nie die vrede nie
en deins
vlugtig uit my sig
ek vind
my verhoog van klippe
en begin my
gedigte een na die ander opsê
ek
herhaal oor en oor die lyne van my gunsteling vers
hoe dig ‘n mens vanuit die denklose plek
daar waar dit net suiwer, spontane metafoor is
wat roekeloos uit die keelgat lek
en in filigraan lettergrepe
stalaktities in oorbuise drup?
ek voel
aan dat iemand na my luister
ek kyk
gedurig om my heen
dit is
net gras, wind en heuwels
ek is nie alleen
ek voel
die land se bloed, vesels,
kleure, liedere,
tonge en
velle
voor my
opdoem
daar is
stemme in die wind
ek wil
glo dat die asems van
my
voorvadergeeste
my omring
en uitbundig my keelklanke toejuig
*Gepubliseer in die Sol Plaatje European Union Poetry Anthology, volume VI, 2016
*Gepubliseer in die Sol Plaatje European Union Poetry Anthology, volume VI, 2016
No comments:
Post a Comment