Saturday, 11 March 2017

breek

ek begeer om 
te breek 
soos 
porselein

mag die breek nie stil wees
mag die uitmekaarspat alomvattend wees
knallend tot in die einder in en 
verder daar waar die eggos ook in
hulle eie stukke spat

ek is te vas
te heel
te eenstukkig
my nate wil lostrek 
meer lug wil inkom
ek begeer om oop te breek
soos gille wat uit kele skeur
my some wil uitrafel
en al die generasies se pyn en 
onuitgeleefde begeertes uitwoed

my lag my trane wil oopbreek
die lig die donker wil oopbreek
niks wil toe en vasgeklamp wees nie

breek oop lara
splinter in duisende stukke
gee myself oor 
aan die krake en die skeure
die fragmente en die lossighede
die skilfers en die doppe
die spaanders en die skerwe

hoe kan die wêreld kla oor 
die oopbreek van ‘n kreatiewe wese?
hoekom moet die stukke alewig vasgegom 
en reggemaak word?
laat ons 
breek 
en 
die stukke 
val 
waar 
hulle 
wil 
val

No comments:

Post a Comment