ek bly
loop op die aarde
opsoek na
'n opregte ars poetica
ek blaas
my asem oor die pieke van berge
en raak
net-net aan die bevryding wat
die kleur
van my bloed elke dag beloof
my
kop dans oor die duiselige afgrond van die dood
dit is
die droom wat
die gemoedstoestand laat
bly pendulum
die swaartekrag se gevangeskap
laat my nie die grond minder liefhê
ek klou verbete aan die herinneringe
van humor wat my identiteit sal
verkwik met klanke van lag en skerts
want klip het mos ook lagspiere
wat oor eone verewig is in
die sediment van kreatiwiteit
aha die kuns is waaragtig om
die liefde
die lig
en die liggaam
met oorgawe te vertrou
dit sal ons moederskap versterk en
die sterre sal deur ons selle breek
die sterre sal deur ons selle breek
ons siele sal in skaamtelose naaktheid
terug die natuur insmelt
en sodoende sal die oer weer vernuwe
en hoera! ons perspektief halsoorkop gooi
die pols versnel tot heling
ons moet nie vergeet van ons ritueel
en van ons seksualiteit
ons moet bly sing in ons slaap
sodat die smagting kan bedaar
en ons kan fokus op die son
ons stemme sal oprys in stilte
en verbasend sal almal ons hoor!
beskuldig my van surrealisme
ek gee nie om
want die tong is die nuwe sekondewyser
gooi die woordeboeke weg
want die vel is aangestel as die nuwe vertaler
dit is nou die tyd om te vlieg
verder en meer volhoubaar as die mees
manjifieke voëls
dit is nou die tyd vir vrede
wat deur alle vroulikheid sal vuur
ons sal uiteindelik die betekenis in
die waters sien glinster
No comments:
Post a Comment