Saturday 27 October 2018

olfaktoriese plesiere

            vir Paul & Glenn

ek hou elk van julle persente

wiegend in die holte van my hand
en druk elkeen styf teen my neus

die skil van die meyer suurlemoen krap ek oop met my naels 

en ruik die soele aroma breek deur 
die selle van hierdie geel wonderwerk

ek spuit die clarins parfuum op my voorarm 
en raak in 'n beswyming van 
die sag-soete blommereuke

die chinese porselein koppie laat ek klingel met genot

ek laat my neus diep verdrink in die blou blom-patrone
ruik ek meesterlike vakmanshande deur die koue glas 

en laaste maar nie die minste is die tuisgebakte rogbrood

keurig gegeur met karwysaad wat my op 'n verbeeldingstog 
wegvoer na diepnat en donker duitse woude 

glinster my neusgate van plesier vandag

hoe kan een enkele mens so gelukkig wees om 
so baie wonder-reuke in een dag te ontvang?!

No comments:

Post a Comment