Friday 20 September 2019

Boomkerk

      Eikeboom in die tuin van die Moederkerk, Stellenbosch

ek sit hier by my Boomkerk
die lig wat deur die nuutoopgevoude blare breek
is die geruite vensters waardeur die goddelikheid straal
die knewel van 'n boomstam is 
God se bobeen wat sonder swik of swig 
sy goddelike staan staan
die juigende takke is die kerkbankies waarop 
die voëls lofliedere tot die hemele sing
die wortels is die geloof wat in 
onsigbaarheid die goddelikheid vasanker

o Boomgod, jou asem blaas die wêreld aan die lewe
jou groen mantel pomp kleur in ons anemiese siele
jou takke-prag ken geen argitektoniese perke
jy is milddadig in jou genade
en verrykend in 
jou standvastige omarming

o Boomgod, al wat ek jou vra is:
wees my genadig 
in die tye van my ongenade

No comments:

Post a Comment