ek haal my bril af
gaan op my knieë op die gras
buk oor die papier
son op my regter wang
skadu oor die woorde
wil ek hierdie gedig skryf
asof dit die heel eerste gedig
in my lewe is
vergeet van gewoontes
- aangeleer of nie -
vergeet orde spelling sinmaak rym ritme
vergeet alles wat ek voorheen geskryf het
hier is die heel eerste gedig wat ek skryf
proe die penpunt vir die heel eerste keer
die vreemde smaak van die gedig
my hand huiwer-huiwer
die skadu bly stil-stil oor die papier skuif
soos 'n onsigbare kombers val die son op my wang
ek kniel in hierdie oomblik
supplikeer myself voor die digterspapier
skep 'n ritueel
die sweet begin opdam in die waai van my knielende knieë
my nek bly my herinner aan haar stramheid
die gras waarop ek druk bly groei
die halms druk hulle patrone op
die vel van my kuite en elmboë
mag ek gemerk word
deur hierdie knielende oomblik
No comments:
Post a Comment