ek het ‘n brandende begeerte om in die bakstene
te smelt en muur te word
ek is moeg vir mens-wees
my rug en gemoed
trek krom
ek wil alewig omkantel
ek verbaliseer elke woord stadig en hardop
in die hoop dat die sin soos ‘n trotse rugstring my siel
regop regopper regopste sal laat staan
die mure sal my dan beter raaksien
en my in hulle geledere nooi
ek kan nie wag om muur te word
‘n duidelike begrensing van
binne en buite
'n afweer van troebel waters
‘n ondubbelsinnige afkamping
van grys areas
so na aan die mure loop ek
wil inglip agter die pleister
en ook muur word
is ons verbaas dat mens rym met kens
en muur met puur?
No comments:
Post a Comment