Thursday 25 February 2021

verbrysel die platvloersheid van my taal

verbrysel die platvloersheid van my taal
ek staan gereed om die klinkklare kontoere
van die beelde in my lasso te vang
ek wil my hart, verbeelding, pen, papier
binne, buite laat versmelt in 
'n maelstrom van oordadige verruklikheid
ek wil alle tekens van iesigrimmigheid, verset en rigiditeit
met een handgebaar wegvee van my sillabes

asseblief, weet net hierdie:
my woorde is by tye 'n verarmde en seningrige gebaar
van 'n diep purperskynende volmoedigheid in my hart
hierdie woorde wat so hard probeer om bloots te ry op 
die runnikende rug van die steekse papier
is maar net 'n vae en uitgehongerde uitbeelding 
van wat regtig in my 
borrelende bloed aangaan

No comments:

Post a Comment