Friday 26 February 2021

die gedig wil-wil werk

wat ek voel
dit is wat jy gesë het ek moet oor skryf
nou ja, wat voel ek?
ek voel wat?
voel ek wat?
ek wat voel?
klein repies ambisie wil-wil vat kry in my tone
my hart wil-wil gryp-gryp aan ‘n knusheid van
koestering, tevredenheid
en miskien-miskien ‘n vreugde
my gemoed wil nie te veel vra nie
ek voel semi, half,
bietjies-bietjies
ietwat-ietwat
so-so
ek antwoord my gevoelens half-half
die verbale lus vir uitdrukking
loer net-net met krokkodil-oë oor
die stille water-oppervlak
die oorlewingslus sal dalk-dalk weer in hoër rat inkliek

die ironie met die Afrikaanse herhaling van woorde is
om die half-mas gemoed te benadruk
dalk-dalk sal die dubbeldoor-woorde
hulself kanselleer hoe meer ek hulle neerskryf
interessant dat wil-wil werk in herhaling
maar nie moet-moet nie
nie kan-kan
nie sal-sal
nie gaan-gaan
wil-wil is net soveel meer oop vir verandering, verbuiging, ont-wil-ling
moet is ondubbelsinnige instruksie
kan ‘n versekerde vermoë
sal en gaan ‘n imperatiewe toekomstige toewyding
maar wil kan enige tyd haar kop onder die grond druk

kom ons inkanteer nog half-mas tweelingwoorde
effe-effe is so perfekte voorbeeld wat wil-wil iets wil wees
maar net nie kan flankeer met ‘n konkreetheid
flou-flou
skaam-skaam
stil-stil
so sal hierdie gedig droom-droom
deur die lewe gaan
sug-sug
val die lettergrepe dubbel en dwars
oor die sitvlak
die oortuiging van die vers wil-wil net net
vat-vat

laat ek dit bly doen – speel-speel
trippel-trippel deur die woordeskat
en bly lek-lek aan die lekkerte van versiemaak

No comments:

Post a Comment