Thursday 5 August 2021

ek sit onder ‘n geel kombers

ek sit onder ‘n geel kombers in
‘n kafee in Onrus met ‘n rustige hart
ek voel skielik so trots op myself dat
ek myself aan die lewe kon hou tot hier
ek is nog nie omgery deur ‘n kar
geen wilde dier my in sy bek gekry
geen dodelike gif gesluk
geen moordenaar tot my slagaar aangetrek nie
geen water my verdrink nie
van geen van my hooggeklimde berge afgedonder nie

ek het in hierdie 41 jaar voluit geleef
sommige kere op die rant van risiko
en hier sit ek - lewendig - onder die geel kombers in
‘n kafee in Onrus met ‘n tevrede hart en dig daaroor

ek tel elke sekonde van my oorlewing
elke voeteval
elke oogwink
elke sprong
elke duik
elke struikel
elke sweetdruppel
elke lagbui
elke lied
elke uiting van liefde
elke gevoel van oorwinning
elke smelt in moedeloosheid
elke hoesbui
elke verte wat nader gekom het

No comments:

Post a Comment