Saturday, 21 December 2024

kolkende kelke

die lyf blom 

in kolkende kelke

waaruit die kuite

regdeur

die son staar

Thursday, 19 December 2024

soos 'n steenbokkie

in die afwagting op jou vele komste na my woonstel
trippel ek soos 'n steenbokkie oor die velde van my opwinding
ek bly spring na die venster en loer verwild na die straat
ek is ongeduldig, bevlinder, mallerig, bewerig
skud my hare alewig reg 
knik my kop en warm my glimlag en 
smeulende kyk op in die spieël
hoeveel keer voel ek gelyktydig mooi en lelik
sal ek ooit bedaar?
ek wil net so perfek en aantreklik vir jou wees


Sunday, 15 December 2024

(o lewe so rojaal en so wreed is jy!)

die gedigte stoot vermallend om en om in my kop
soos die stuwende getye van die oseaan 
teen elke stukkie hygende lewe beur en
skommel my om en om
soos die helder heliksing van die singende DNA
jy vries my dansende lyf in honderde stop-motion tonele
ek is nie bang dat jy my in elke oogknip en uitreik alles laat voel nie:
samehorige verlorenheid
vlietende ewigheid
laggende weenklae
fragmenterende behoort
ontbindende voleindiging
troebel helderheid
en smee-ende verwonding
die cantabile-lyn wat jou siel uit jou keelwand trek
versplinter in honderdduisend lewendige sterftes
die murg resoneer daagliks met die uitgehongerde versadiging
en ons koppe hang oor die helderwarrelende naarheid
van elke sterwende herlewing
(o lewe so rojaal en so wreed is jy!) 
jou vingerafdrukke ets obsidiaan my siel
terwyl die fluweelkyk in jou oë
stralekranse uit elk van my porieë laat skyn

iets bly groei

ahhh, my hart,
ons nou net afgelui op die foon
ek kon jou glimlag hoor straal deur jou stem
so warm sê jy my naam 
sien jou nounou Lara
'n sagtheid, 'n deernis
'n warm verbinding deur my ore direk na my hart
gee my oombliklik soveel vertroue 
in hierdie liefde en omgee tussen ons
iets bly groei 

droom dromer droomste is jy

geniaal meesterlik verleidelik
die perfekte minnaar
op my aardbol
is jy

jou retoriese-erotiese vraag:
het jy genoeg gehad
maak my rasendwild 
hoe jy dit regkry om my verder en verder 
oor die trillende horison te stuur

Saturday, 14 December 2024

jy verhelder my

ek het vir jou gesê jy is geniaal

en ek staan nogsteeds daarby

dit vat 'n genie, 'n sekere meester, toornaar, 

siener, sanger, 

minnaar, man, 

mens, JY

om hierdie klein druppel van 'n mens, vrou, 

digter, tokkelaar, huppelaar, 

lewe-liefhebber, EK

so helder raakgesien en raakgevat te laat voel

dit vat 'n genie om iemand soos my raak te toor

soos wat jy dit doen


ek is vermal ek is verlief ek is versot

ek is verhelder soos nooit vantevore


Thursday, 12 December 2024

sonder oë

die ekstase
  is gestempel
    soos versengende braille
       oor my hele lyf
          sodat jy 
             sonder oë
                 kan lees 
                     hoe verruklik 
                         verlief
                             ek
                                op  
                                   jou 
                                      is

daar is geen woorde

die oggend na die ekstase
breek die huil die gil die kreun los
die verwondering oor so iets intiem
so gehuld so geberg
hoe kan so baie lig so baie vreugde
in my enkele lyf moet vassit
ek wil dit in jou ore skree
hierdie potlood en lettergrepe beperk my
ek wil die mure afbreek
met hierdie nuut-ontdekte plesier
jy verheug, verjeug al my selle
ek sal skryf totdat iets van hierdie ekstase 
verbottel 
ver-dig kan word
die herlewing wat jy in my oopgetoor het
is so stralend magies
daar is geen woorde vir wat jy aan my doen

argeoloog

argeoloog is jy
jy diep skatte op uit my binnenste ruim
en laat dit oop- en 
uitstraal soos verskietende sterre
oor die ganse hemelruim

Wednesday, 4 December 2024

jou aandag is verbysterend

jou aandag is verbysterend,

bo-manlik, bo-menslik

hoe kan een vrou so baie aandag geniet?

jy onthul die geheime in my lendene

ek wil die vreugde, die verrukking,

die oorgawe, die feesviering

die bemagtiging, die erotiese fonteine met die res van die uitgehongerdes deel

- vrou en man -

die dorstiges, die gefrustreerdes

die hartgebrokenes

die vergetenes, die afgeskeeptes,

die moed-verloorders

en selfs hulle wat dink hulle

ken versadiging en verrukking

in elk sal 'n reinkarnasie oopblom

van die loutere ekstase

wat jy met jou enkele veelvuldige toorlyf ontketen


Monday, 2 December 2024

eerste gedig vir jou

my oogwimpers wil
jou sternum ontsetel

my wangbene wil 
jou heupbene ontsluit

my vingerpunte wil 
lofliedere oor jou onweerstaanbare glimlag openbaar

my tong wil 
die chiaruscuro in jou siel oplek

my verhemelte slaan uit in hoendervleis
soos jou stembande deur my murg vibreer

my ondeunde tande wil 
jou kniekoppe soet en sappig verbrysel

my soele lang inasem wil 
jou hele rugstring insuig

my basuinende uitasem wil 
al ons ordentlikheid skaamtes versigtigheid en makheid
uit hierdie wentelbaan verwilder

my elmboë wil 
in jou dye insmelt

my nek wil 
diep binne jou murg nesskop

my kop wil 
verdrink in jou ribbekas

my hart sit ek teen jou ore
sodat jy wild en wakker die koorsagtige klop kan hoor

my borste druk in braille
die hartstog teen jou ruggraat in

my hande wil 
die blom van jou lyf oopspiraal

7 sept 2024