die gedigte stoot vermallend om en om in my kop
soos die stuwende getye van die oseaan
teen elke stukkie hygende lewe beur en
skommel my om en om
soos die helder heliksing van die singende DNA
jy vries my dansende lyf in honderde stop-motion tonele
ek is nie bang dat jy my in elke oogknip en uitreik alles laat voel nie:
samehorige verlorenheid
vlietende ewigheid
laggende weenklae
fragmenterende behoort
ontbindende voleindiging
troebel helderheid
en smee-ende verwonding
die cantabile-lyn wat jou siel uit jou keelwand trek
versplinter in honderdduisend lewendige sterftes
die murg resoneer daagliks met die uitgehongerde versadiging
en ons koppe hang oor die helderwarrelende naarheid
van elke sterwende herlewing
(o lewe so rojaal en so wreed is jy!)
jou vingerafdrukke ets obsidiaan my siel
terwyl die fluweelkyk in jou oë
stralekranse uit elk van my porieë laat skyn
No comments:
Post a Comment