Friday, 28 February 2025

Big Mouths

it is heartbreaking how the Big Mouths
hold power in this world
i’d rather join the ranks of the sunshine
to anchor my sanity
i invite the geranium and the guinea fowl
to have picnic with me in my garden

(one of my first poems written in Lockdown 2020; I recently translated it into English)

Thursday, 27 February 2025

kniel die son

kniel die son in
die palm van my hand
hy sê dankie vir 
hierdie oophandige gebaar
wat hom so sag 
ontvang en omvou

Wednesday, 26 February 2025

my huis staan reg hier

ek voel my skrywery is so aan die lewe
daar is 'n vibrancy,
'n onhuiwerigheid,
'n voortgriffelende openbarigheid
ek skryf sonder daai huilerigheid
daai vrees, daai twyfel
ek skryf nie omdat dit goed of sleg is nie
of mense dit gaan lees of nie of
gaan goed-of afkeur nie 
ek skryf dood-een-voud-dig-lik
omdat dit FOKKIN lekker is!
ek wil nie brei, ek wil nie koekbak
ek wil nie mure bou, ek wil nie toilette regmaak,
ek wil nie trokke bestuur, ek wil nie byeneste aanhou
ek wil nie verf of teken 
ek wil nie wegkruip of weghardloop
ek wil skryf skryf SKRYF:
my heenkome 
wat eenvoudig vloei uit die punt van my potlood
ahhh ek huil nou sommer - 
my huis staan reg hier tussen potlood en papier
nou sal jy soet slaap, skat-Lara

Tuesday, 25 February 2025

komaan Lara 2024 is lankal verby!

is ek nou binne die 5 van 2025?
die 5 voel nog so vreemd onder my potlood

oefen nou Lara:
ek wil en moet meer gemaklik en 
teenwoordig word met hierdie 5
5 5 5 5 5 5 5 5
 5   5   5   5   5   5
5 5   5 5  5555  5555  5 5 555    555 
5

nee! dis 'n ongemaklike gekrappery!
wat 'n onelegante vetpensnommer
moet ek myself maar oorgee aan 
die lompheid van hierdie jaargetal?

ahhh ek het so baie van 2024 gehou as 'n getal en 'n jaar
 - dit kan nie oor en verby wees nie?!

komaan Lara 2024 is lankal verby!
span jou kreatiwiteit vingers en tone in
om hierdie 5 met vollywige selfvertroue en 
feestelikheid in te kleur:
komaan: doen dit more eerste ding:
vat soveel moontlik kleurpotlode en 
griffel en dans 
daai f*kkin 5 vaartbelyn en 
swierig aan die lewe!

Thursday, 13 February 2025

smelling-the-low-lying-tiny-flowers-pose

      for Fiona

the little flowers growing closest to the ground
are the best yoga teachers in the world!
effortlessly they succeed
to get me to crouch down on all fours

without word or gesture
i am guided to
press my knees against the earth
bend my head forward
open palms gently to push aside the grasses
and get as close a look at the teensy-weensy flowers
and it does not end there!
my head is pulled even further 
to stick my nose right into their little faces
i have to see if they smell of anything

as i said:
the little flowers growing closest to the ground
are the best yoga teachers in the world!

Wednesday, 12 February 2025

in sy oë

             dit is koud vanaand in kaapstad
die bedelaar soek 'n stuk warmte in
sy kartonbed
sy mond is hard soos
die betonmure
wat oral
om
hom
oprys
maar in sy oë
sien ek iets van sy siel skyn soos
'n perdeblom wat
deur
die krake
breek

Tuesday, 11 February 2025

klok

my hart trek
in die vorm van
‘n klok

ek prewel ‘n gebed
mag ons nie lui raak met liefde en
nooit die noodsaak van die skeppingsdaad minag

ek begin lui van diep binne my bors
dit tril en ril deur al my spiere totdat my lyf
opstyg en beier die wye lug in

       word wakker wêreld, word wakker!
       die nuwe dag breek aan soos ‘n swael-seisoen
       in vlug na die reuk van somer

Monday, 10 February 2025

in die grond en blom skyn die hoop

En so het sy opgestaan uit die blomme-velde,
'n besete vrou gevul met drome van die aarde se diepe waters
so doen sy haar daaglikse pligte met grond onder haar naels,
borduur sy die lande aan een met die stingels van blomme
sy is alleen, net sy en haar tien vingers,
soms van haar kop af, maar altyd geheg aan haar hart en haar blomtuin
sy is deels vrou, deels aarde, deels blom

hoor hoe haar stem deur die blom-woude breek!
kyk hoe sy haar menswees bevry
deur met grond en blom liefde te maak
in grond en blom skyn die hoop
wat nog by ons mense spook

sy het vele sonkoper velde ontdek langs die kusste
het hul gevul met voetspore vol ryp wense
die dou lek sy vroeg-oggend van die lelie-blare
vee haar wange met die sagte son wat deur die struike breek
sing sy alomheen die liedere wat resonant oor die vlaktes aanrol
'n vrou soos hierdie mag nie stil bly!

hoor hoe haar stem deur die blom-woude breek!
kyk hoe sy haar menswees bevry
deur met grond en blom liefde te maak
in grond en blom skyn die hoop
wat nog by ons mense spook

dit is daar waar sy wil wees
daar waar blomme vry, wild en helder kan bloei
waar grond diep gegtrap kan word
waar groen, geel, oranje, pers en rooi
rys uit modder en 'n nuwe wêreld aanbreek
ja, dit is daar waar sy wil wees
daar waar haar siel saam resoneer met die seismiese aardskuiwings
wat tril met die geboorte van elke nuwe blom
daar waar grond haar die ritme van wind en water leer
haar leer hoe om haar vel ten volle te voel
soos wat net 'n blom kan voel
blom sing haar lyf uit elke hoek en porie
tril die vrugbaarheid regdeur haar voetsole
trap sy versigtig want blomtyd is 'n vlugtige en delikate seisoen
en tog dans sy diep, hard en vinnig omdat blomtyd uitbundig en grensloos is

hoor hoe haar stem deur die blom-woude breek!
kyk hoe sy haar menswees bevry
deur met grond en blom liefde te maak
in grond en blom skyn die hoop
wat nog by ons mense spook

grond is bly om te voel hoe diep vrou haar spoor trap
blom is bly om te sien hoe passievol sy deur die vreugde van kleur kan stap
sy druk haar lippe en bors ferm teen die aarde
voel die vibrasie van die magtige minerale groei
wat stoot en rys deur wortel en blaar
hoe lank het sy vir hierdie blomtyd gewag!
nóú is dit hier en blom sy saam met een hemelse vrugbare krag

Sunday, 9 February 2025

ek kan nie wegkyk

proteas loer uit
hulle donker oë oor
die hange
die fluweel ooghare
flikker
oor die velde

ek kan nie wegkyk
die uitlokking is
onweerstaanbaar

Saturday, 8 February 2025

oopblom

ek stoot my bors uit
gooi my kop agteroor
met 'n mond wat laggend
al my werwels soos 'n wisteria
laat oopblom die wye wêreld in!