Saturday, 12 August 2023

ver(s)werking

(gedig geskep uit die eerste versreëls van my 20 gedigte van 2023)

ek soek ‘n lewende woord gestring van
die werwels van die letters
sodat die marionet wat jarelank die pa se hande gedienstig volg
vry kan breek en die verbasing teen mense se wange kan bons
al het ek hoe baie gesien hoedat
die gevoel van die gedig kom platlê soos
‘n lojale hond by my voete
kry ek dit maar min reg om
die digterlike oomblik te verleng na ‘n ordentlike vers
meestal trek my woord kromrug
en my asem jaag soos ‘n ondurige tango
in hierdie begeerte vir woordkapperjolle
aaijaai jaai jaai, fly me to my heart
dit is waar dit sal begin:
dit begin met die eerste tree
buite word die see natter in hierdie reën
die springgetye skuim
my are sluk die golwe heel in
die eksplosiewe K in jou naam
steek vas in my keel 
al waaraan ek kan vashou is
die warm helderheid van jou oë -
dit is presies daar waar ek wil wees
breathe me into your love
dan voel alles weer soos daai eerste dag

Eerste lyne van my blog-gedigte 2023

Ek soek ‘n lewende woord
Die werwels tussen die letters
Die marionet het nou vir te lank
Ek sien ‘n pa
Is dit verbasend dat gesig
Al het ek hoe baie
My gedig kom lê plat
Al is hierdie digterlike oomblik
Wanneer my woord kromrug
Soos ‘n ondurige tango
Begeerte vir woordkapperjolle
Fly me to my heart
Dit begin met die eerste tree
Springgetye skuim
my are sluk die getye
the explosive K in your name
the warm clarity in your eyes
dit is daar waar ek wil wees
breathe me to your love
die eerste dag toe ek

Friday, 11 August 2023

lewende woord

ek soek 'n lewende woord
waaragtig so lewend soos 'n hele kloppende hart
nounet geruk uit die hygende borskas van 
'n liefmakende mens
ek honger vir 'n woord so lewend en spartelend soos 
die eerste selverdeling in die fetus
ek kan nie anders as om 'n polsende woord 
teen my hunkerende lippe te wil druk nie
geen ander woord as die lewende woord sal doen nie!
 
'n woord so lewendig soos die bloedige hoes van mimi wat 
in haar laaste boheemse oomblik
gryp na liefde en lewe
'n woord so gretig vir lewe EN oorlewing
stotterend kom die woord oor die vlaktes van my tong aangestrompel
maar lewe sal sy lewe

die akademiese prima donnas en taalkundige skerpskutters 
moet maar vers-ink in 
my onverfynde wildarmige poësie
vir wat wil ek bloedlose woorde in 
vaartbelynde konstruksies met onsielige ongeselligheid
die honger en alleen wêreld instuur?

gee my eerder bloeiende lewende woorde
wat ek 
lomp   giggelend    blosend  
baldadig   self-bewus 
parmantig  twyfelagtig en 
skaamteloos 
uit my mond laat
tuimel

Thursday, 10 August 2023

geen verskoning!

die werwels tussen die letters skarnier ongeduldig
die longe kry skaars asem van die opwinding in 
die voete wat binnekort in die digterlike dans gaan inspring
as antoinette kellerman op 70 krog se woorde lyf en bloed kan inblaas
dan kan ek my eie bloedvlesige woorde lyf en bloed inblaas
ek het geen verskoning!

hier kom ek!

Wednesday, 9 August 2023

ou-bekende

die marionet het nou vir te lank gelê
lig haar stowwerige kop op
span haar toue weer styf
laat haar ledemate stadig begin ritteltit met 
die ou-bekende manipulasies wat deur 
die marionet-meester se kneukels gety

Sunday, 11 June 2023

...en skielik

ek sien ‘n pa
sy klein dogtertjie
stoot in ‘n Woolies trollie
en skielik voel ek die vreugde
van pa-en-kind-wees

ek is nie self ‘n ma nie
maar ek kry die oorweldigende gevoel
om hierdie gedig in ‘n trollie te laai
en haar oor al die paaie te stoot
en haar hoor lag en giggel
en ons altwee borrel van trollie-plesier

Wednesday, 7 June 2023

gesig

is dit verbasend dat
gesig
een letter verskil van 
gedig?

Wednesday, 10 May 2023

ek hoor weer die eggo's

al het ek hoe baie in die einder van die wit bladsy gestaar
tref die wit my elke keer van 'n ander hoek en skerpte in my oog
my mond trek op 'n effense effe glimlag
net soos 'n bottende blombloeisel wat nou pas
die oopte om haar voel
en haar blare stadig begin inspan vir die nuwe seisoen
so hang my lippe aan die takke van afwagting
stadig-stadig ontkrul my styfgespande lippe en keel
laat vaar die stugheid wat die verkoue oor my gemoed en borskas geblaas het
ontknoop die verstarring van aftakeling
ek hoor weer die eggo's tussen my spiere
blydskap begin lek aan my wenkbroue
hierdie gedig hou my nederig
ek gaan nie te gou op en af spring van jolyt
laat die bors kop siel en lyf ordentlik weer saam inkliek
die vers flikker saggies in afwagting...

Tuesday, 2 May 2023

my gedig kom lê plat op die vloer

my gedig kom lê plat op die vloer
sy voel hoe die metafore uit haar maag
die grond insyfer
laat die ontspanning deur al haar verse uitsprei
laat vaar die spierkragtige inspanning van die digtong
ontsluit al die stywe skarniere

die gedig trek al hoe platter op die grond
wil met elke liewe oppervlak van haar woorddadige lyf
in aanraking kom met die aarde

Monday, 1 May 2023

asem skep

al is hierdie digterlike oomblik net 
om my te laat asem skep
is dit beter as niks
‘n oomblik waar ek uit die ritme van my asem
‘n ritme vir die gedig kan vind
in en uit 
heen en weer 
op en af met die sinne
speel en spel die getye tussen asem en verbeelding

Sunday, 30 April 2023

gaan haal ek haar

wanneer my woord kromrug trek
en vertroue verloor in haar digterlike sin
gaan haal ek haar saggies van
die muwwerige blad en lê haar op my tong
daar vind sy vernuwing en herlewing
proe sy die lewe anders
en spruit ver en hoog
in digte blare-takke

Thursday, 27 April 2023

tangos en hiërogliewe

soos 'n ondurige tango
ruk die winde die lug heen en weer 
die wolke tol soos tientalle voete in 
die ontstuimige dans
met sikloniese onwrikbaarheid
span die winde hulle kuite
en sny met beslissende ritmika
hygende hiërogliewe teen 
die skynmuur van 
ons verbeelding

Wednesday, 26 April 2023

begeerte

begeerte vir woordkapperjolle
fynbesnede metafore
ondeunde rymelarye
wat een na die ander
van die tong afrol
en die vermaaklikheid van
die poësie
herskeleteer

Monday, 24 April 2023

fly me to my heart

fly me to my heart
where i can fold my wings tight
and warm around 
the volcanic core of anticipation
waiting to leap and cascade
with lavacious vivaciousness!

Sunday, 23 April 2023

perfek

dit begin met die eerste tree op die blad
vandaar af sal dit net maklik gaan
daai eerste tree van oorgawe
ontkoppeling
vertroue

wees soos die oseaan
perfek in elke oomblik

die lug is perfek
die golwe is perfek
my bui is perfek
selfs die moegheid vroeër vandag
was perfek
dit het my laat uitkom opsoek na ander perfekte oomblikke
die koue water is perfek
die rotse wat oor Lover's cove kywie hou is perfek
die resident seagull is perfek
die sand se insinking onder my voete is perfek
die gil uit my keel met die eerste onderwaterdompeling is perfek
so cool so sexy so confident so suave is elke oomlik

die strewe swoeg en sweet om perfeksie te bereik is so outyds! 
moenie werk maak van daai perfekte oomblik nie
die perfeksie sit alreeds reg onder jou voete!

Saturday, 22 April 2023

wie het vlerke nodig?

springgetye skuim vuurwitwarm
in ongeewenenaarde hoogtes oor
die kuslyn van my hart
my are bokspring in nuwe kinkels en kabels
en hervorm die spoed en rigting van my bloedvloei

in hierdie ongekarteerde seisoen
vlieg julle met hernieude vlerklose lywe

wie het vlerke nodig as jy 'n digter in die omtrek het?!

Thursday, 20 April 2023

die verrukking in die slukpyp van die see

my are sluk die getye heel in
en ek word 
golf 
    soutdruppel
seewier 
        diep sonlose kolk
wat spinnend en tollend
na die wilde elegansie van oorlewing pyl

Saturday, 18 March 2023

K i m

the explosive K in your name
breaks open in my ears like a blazing kaleidoscope

i hold a little longer onto the crackling kernel of that first plosive
keenly my breath is taken aback by
the knockknockknocking of its percussivity

over the years your K has become so kindred to my throat
what would my soft palate be without it?
i keep kindling it between my tongue and velum

no wonder the word Kiss also begins with this knightly letter!

how kind your kismet has been to carry your essence on the wings
of this fortifying sound!

K!!!
i let the kiln of my throat fire it once more before
it sinks
into
the closure of
the last two dreamy letters

immmmm

Yes! himmmm with the K
whom i love

Thursday, 9 February 2023

abdullah

the warm clarity in your eyes
seeps into your fingers

you hum along on
the bank of the river

the chords rise one after the other
like ships on the oceans' swells

softly proud the nails of your fingers
beam with the fertility

of harmony


my ears keep drinking

Wednesday, 25 January 2023

sterremaag

dit is daar waar ek wil wees -
daar hangend oor die afgrond van
die heelal se slukpyp in die oomblik wat
hy sy tong teen sy verhemelte vasdruk
en gereed maak vir sluk

dis so ‘n verruklike uitsien –
om ingesluk te word deur die heelal en
in sy kolkende sterremaag te val

Thursday, 19 January 2023

Breathe me to the end of love

~ A parody inspired by Leonard Cohen’s Dance me to the end of love

Breathe me to your love with a flaming aloe
Breathe me through the longing ’till I’m folded in your arms
Lift me like a laurel leaf and be my summer swallow
Breathe me to the end of love
Breathe me to the end of love

Oh, let me see your heart when the lights go out
Let me feel you breathing like they do in the dance-halls
Breathe me slowly what I know that makes me gasp
Breathe me to the end of love
Breathe me to the end of love

Breathe me to the mountains, breathe me on and on
Breathe me very velvety and breathe me very long
We’re both of us behind our joy, we’re both of us in front
Breathe me to the end of love
Breathe me to the end of love

Breathe me to the forests who are begging to be grown
Breathe me through the lips that our kisses have outworn
Cup your hands now, though the water runs out
Breathe me to the end of love

Breathe me to your love with a flaming aloe
Breathe me through the longing ’till I’m folded in your arms
Touch me with your naked breast or touch me with your heart
Breathe me to the end of love
Breathe me to the end of love


Wednesday, 18 January 2023

klawer-aarde

        vir my Feetjie-Fiona

die eerste dag toe ek my eie kar besit
op die ouderdom van 37
het ek my silwer rok aangetrek
en agter die stuur ingeklim
vir ‘n spin en fotos
6 jaar later trek ek weer my silwer rok aan
dié keer klim ek agter my nuwe Yamaha klavier in
vir die eerste keer ‘n klavier wat ek waarlik myne kan noem
en ek vat haar vir ‘n spin
ek drapeer my Feetjie se feetjie-liggies oraloor
om haar gulhartige en vrygewige gees hier
oor my te voel dartel
en my hart en vingers staan tuit

ek het nooit grond besit
maar vandag met my vingers al hangend oor die klaviatuur
voel ek hoe dit is om ‘n stukkie aarde myne te kan noem
‘n stukkie swart en wit klank-grond
waarmee ek die dieptes en hoogtes op en af kan klim

ah so iets glinsterend wat ek myne kan noem
dit is soos ‘n droom!

hoe baie klaviere het al onder my hande gegaan
onder my palms gesing
gebrand gevloei gevlieg
maar dan moet ek gou koebaai sê
want hulle was nooit myne nie

maar hier staan my eie klavier nou haar stewige staan in my see-huisie
is dit hoe dit voel om ‘n stukkie aarde te besit?
‘n stukkie woud?
‘n stukkie wind?
‘n stukkie oseaan?
‘n stukkie oase?

ek sien uit na die trillende horisonne wat deur die snare gaan oopbreek
die getye van melodieë wat die mure gaan afbreek
en die sterrehemel van die harmonieë
wat in my hart gaan inbreek
ek sien menigte klein oerknalle wat die punte van my vingers gaan lostoor!

maar vir nou,
buig ek neer voor hierdie klawer-aarde
en ek sê dankie
dankie

dankie

Thursday, 1 September 2022

laat ons terugkeer hiernatoe

met die arrivering van die nuwe seisoen
staan ek gereed met vlamme wat warm oor my skeen flits
ek sien ver voor uit in
die onvreedsaamheid van die wêreld
as ek sou bid dan is dit nou
want iets skort in die lewe
die harmonie van saamleef en skep
en mekaar die vryheid van grond en atmosfeer gun

in die uithoeke van ons bestaan sal daar
nog humor moet vasklou om ons siele te red
want as ons eers ons waardigheid verloor het met
die uitwissing van liefde en vrede
gaan ons nie veel hê om aan vas te hou

laat die basuinende klanke van visionêre stemme diep in
die holtes van ons ore vibreer – helder stemme wat
ons uit ons hibernasie sal pluk
en ons bloed die rigting sal wys
en asseblief, herinner ons om te skep in plek van ruineer
en dat dit ook okay is
om te observeer eerder as om te reageer

leef met oop gemoedere en juig uitbundig oor
al die passievolle mooi wat
pols en groei uit hande en monde
laat ons nooit ophou leer
laat ons bly kyk na die groei van
die sade in en om ons
laat ons sonder voorbehoud wortel en blaar spruit
wat van lig en son
skadu en vorm sal maak

laat ons terugkeer hiernatoe:
die eenvoud van skep
laat vaar die kompleksiteite en hoogdrawendhede
stroop die skeppingsdaad tot iets
so vaartbelyn en ongerep
dat ‘n enkele resonans die iris van die hartsoog
sal laat oopblom en tot verligting ruk

Tuesday, 30 August 2022

dolosgooier van 'n gedig

I

die ambisie van die gedig is so indringerig
dit laat my nie toe om oor te
gee aan ‘n sukkelary nie
so 'n waaragtige astrante houding
het hierdie woordkuns!
ek probeer my skaar met
‘n hardvogtigheid
probeer anderkant toe kyk
maar nee! die kleine lettertjies
kom sit met alle mag
so grieselig in my kop
en kom lek hier by my vingers uit

II

ek het al vir jare die voorgevoel gehad
dat hierdie gedig haar verskyning gaan maak
meer as ‘n verskyning
is dit ‘n harlekinade
met al die gekskeerdery en geverfde gesigte
ek weet nie wie spot met wie nie!
dit is asof ek kompeteer
met my sinne in die verspring-pit
die stof spat al om ons enkels
maar ons wedywer vurig met mekaar
beide wil die ander een ver uit-spring

III

die kuilvoer word so gistig en suur in my kop
selfs die blêrende skape in
my stompe en passiewe gedagtegang
wil nie eet daaraan
ek kyk verlief na die moepel
en lê my warm lyf teen sy stam
“hoe wild en vry groei jy nie!”
en so dompel die natuur my in die romantiek
van haar polsende hart
ek pluk verwoed al die wilde-als
al om my enkels en
kook dit op in ‘n swetende en swetsende tee
selfs die kakkerlakke laat vaar hulle
alewige geskarrel en kyk my verbyster
aan hoe ek die bitter van die als in my keel
afstort
inderdaad – hierdie passie om kruie-gesond te leef
is vir meeste doemwaardig
hulle dink die pluk van blare is meer grusaam
as die moordpleeg van bloed en siel-diere
aai, sekere idee’s moet net in die son
bly lê en verskrompel

IV

die dae se skarniere verslyt
met elke sonsopkoms
maar die gedig bly om die dolosse te gooi
hardnekkig in haar gewoonte om
hier in my nek te blaas
as gedigte maar ‘n blywende effek kon blaas
en die koersskommeling tot ewige stilstand ruk
sal ons dalk koebaai sê vir
die weghardloop-verbeelding van geld

V

die dolosse ontaard in vonk-proppe
wat mekaar begin jaag in
die hippodroom van my kop
hulle begin lyk na artisjokke op hitte
as daar maar ‘n hofmaarskalk was
wie ek kon roep wat vir my in die bresse kon tree
maar, nee, ek is op my eie

VI

ek gaan skaar my by die vrouens in die harem
en vra hulle of hulle ook so verlei word deur die Woord?
nee, sê hulle, maar hoekom probeer jy
nie ‘n ontwapeningsveldtog nie?
haai, ek het nooit daaraan gedink nie
die geheim van hierdie driftige aanteel van woorde
deel dieselfde lankmoedigheid aanwesig in stalaktiete
‘n stille, onopmerklike groei
hoe kan ek hulle nou ontwapen?
wat is die wapen wat ek voel op my geteiken is?
ek gee moed op
ek gaan slaap met ‘n ellelange hanglip
en hoop die aand gooi nie
nog dolosse in my half-wakker drome nie
al wat ek kan doen is om op my tande te byt
en te hoop niemand sien my dolsinnige gryns raak
een greintjie van ’n kyk in my rigting
sal jou in ‘n sout-pilaar verander
al hoe ek hiermee leef is om deur die dag so
hiperbeleef as moontlik te loop
iewers sal die gedigte se gedrag raffineer
met my invloed
en die harlaboerla van hulle ledemate en tonge
tot orde roep
en soos die moeder-owerste sal ek hulle
siele deur ‘n ring kan trek
so netjies en heilig sal hulle voor my staan

VII

teen hierdie tyd sal die gedig
die stadsvryheid verdien
en vry deur die strate wals
en enige kafee inloop en homself knuppeldik
aan die atjar eet
die burokrate sal met nuut-ontdekte ywer
die verse se skoene poets
en die posmeester sal teen geen tarief
die digkuns aan elke lid van die wêreld pos
nodeloos om te sê
die poësie sal ‘n groot hawiksneus groei
en homself luid op die skouer klop
en trots elke kruiwa vul met leestekens en sillabes
en die bakstene en sement vervang met dit
wat meer sin maak
met die gedig se pralery
sal hy homself oortuig dat hy
skuiling en warmte kan bied vir die massas

VIII

en so gooi die gedig haar dolosse
selfs in die aspidistras en krisante
dit help nie ek is ‘n suurknol
vier fees saam met die verse se
brutale parmantigheid
ek kan seker net gulhartig daarvan afkom
dit help nie om hulle misbaksels te noem
of die hoof-inhoud van my ontlasting nie
laat ek eerder bieg dat hulle soos
pypkaneel en die geelste borrie
goed is vir die selle
elke dag wiegel hulle voor my oë
met hulle volywerigheid
hard aan die werk om
my uit te daag met die beste van
harsinggimnastiek

Monday, 29 August 2022

klitsgras van die kundige letterheid

die kilte van die klitsende wind
karnuffel my sintuie
dis kompleet asof konyn-agterbene 
in my kieste groei
en ek die klitsgras van die kundige letterheid
klutskwyt spring

Thursday, 25 August 2022

oseaan is 'n gevoel

en aan die begin was die gevoel
en die gevoel het idee geword
en idee word woord
en woord word tong
en tong word sprong
en sprong word sweet
en sweet word reën
en reën word oseaan

Tuesday, 23 August 2022

sugte

die golwe kom uitgerol
soos sugte uit 
die kieste van die see

Monday, 15 August 2022

verstrakte soetheid

dis net ek en ek en ek -
die trio wat alewig hier om die heuningkoek van my woorde hang
ek wag dat die son van 'n metafoor oor die verstrakte soetheid sal val
en stroperig die rymelary van my vingers sal drup

Sunday, 14 August 2022

net soos die wind

net soos die wind
sal die hardkoppigheid
van die kreatiewe verstarring gaan lê

Saturday, 13 August 2022

ek wil net wil

ek wil net wil
dis al
om te wil
is genoeg
wil wil WIL
oorlewing se kernwoord

om te wil 
is om sukses halfpad te ontmoet
om te wil
dui op 'n vonk
'n lus
'n oortuiging
al is die wil hoe fluisterend

ek wil net wil -
dit my grootste oorwinning vandag