Friday 7 November 2014

goddelike polsering

mag ek die oer-pols
diep in my borskas weer voel
daai pols wat my voete in sy mag neem
en my pas vervorm tot 
die wilde dans van diep-versonke ritmes
annekseer my kop met 
die onbedwingbare hartslag van die aardkors
neem my ledemate oor met 
die veelvuldige trom-patrone
kolonialiseer my hart met 
die onverskrokke polsslae van
'n diep-egte menslikheid
evangeliseer my ore met 
die goddelike polsering vasgevang in 
die meedoënlose stukrag van 
die dierlike oorlewingsdrang
hervorm my skelet met die aansteeklike dryfkrag van
hierdie onstuitbare maatslag
daar móét meer en beter woorde wees vir pols
palpiteer
klop
golf
tril
bons
‘n woord wat hierdie onblusbare 
dwa dwa 
in my sielsbrein
kan vergestalt
en
verpolseer

No comments:

Post a Comment