Monday 2 February 2015

Lied van Europa

Blaas die spookasemstof van die koue
klip van my borste Loop deur die labirint
van my roetmoskotskobbelstrate Kruip blinde-
links deur die kronkelpaaie van my hart
Sny jou oë met die splinterslig wat deur my
baksteenskeure breek Jaag agter die sneltrein van
my ondergrondse siel Swem deur die snotpiskak
van my kanale Dans met die eenoogman
oor die brûe van my waters Lag met die
eenbeenman in my doodloopstegies Drink met die
eensaamdigter van my straatkafees Balanseer
geblind-en doofdoek op die ysterlane van my
treinspore Vang jou asem op en af met die trappe
van my ribbes Lê een van jou beendere in my
sepul-krale Skud die stof soos dobbelstene oor
die spel van my lewe Ruk elke skaamhaar soos
onkruid uit die driehoek van my tuin Ruik die
binneholtes van my pistonnels Val oor die
skaduwees van my katedrale 
Vergeet jou moeder-
grond 

Onthou my 

Beendere treine siele strate klip
kanale digters skaamhare brûe kafees trappe pis-
reuk verdwyn nie sommer nie

No comments:

Post a Comment