Tuesday 4 June 2019

Die digter is nie dood nie


photographer: Dani Debellis


Die digter is nie dood nie

geskoei op Die kind van Ingrid Jonker

Die digter is nie dood nie
die digter lig haar tong teen haar demone
wat Waansin skreeu     skreeu die stemme
van sin en behoort
in die konsternasie van die verlore siele

Die digter lig haar tong teen haar gene
in die stryd teen die sinneloosheid
wat Waansin skreeu     skreeu die stemme
van die voorvaders en spoke
in die DNA van ons opstandige woede

Die digter is nie dood nie
nòg in die bad nòg op die pad
nòg met die lem nòg met die gas
nòg op die brug oor die donker rivier
waar haar begeerte lê met salwende water in die longe

Die digter is die skim in die krygsliedere
singend met tonge kele en vuiste
die digter breek deur alle sinne en onsinne
die digter tuur deur donker poele en in die smart
van die aarde
die digter wat net wou skryf in die stilte van haar kop is orals
die digter wat vrou geword het sing deur alle tale
die digter wat mens geword het vlieg deur alle harte

Sonder ‘n woord

No comments:

Post a Comment