ek moet blindelings oor die papier dans
met oë toe en hart oop
laat die sillabes musiek in my ore oopbreek
die intervalle klim my woorde soos trappe
die verlangende mineur sesde en
die hygende chromatika van die mineur tweede
oor die toontrappe gly ek
met dronke voete op en af
en vind my sinne hulle eie melodie
ek weier dat enige argitketonika
met reëlmaat of simmetrie
die rym in my kop pons!
kyk net hoe my hande en
heupe en hare
en vel so vrypostig oor die papier dans
die metafore peul bont uit die oksels van my arms
geen enkele woord sal in my taal
ongesê gelaat word nie!
No comments:
Post a Comment