Friday 5 July 2019

gee die waternimfe hulle swemplek

photographer: Dani Debellis
         
    vir Billy

hou die poele dop
en jy sal jou begeertes in die
water-arsenaal vind
en binnekort op die water loop

die waterdraers is die uitverkorenes
om deur die donker stroom te vaar
en diep dieper
diepste waters oop te kerf

jy dink dit is net waterrympies
wat soos olie op die water lê
as jy mooi kyk sal jy vlammende voorspellings
in die stille golwe se opwellinge sien

dit is sillabes wat die waterweë
met kwartsiet uitspel
moet nie jou ledemate se gehegtheid
aan die warmwaterbron verkwalik nie

elkeen van ons het ‘n diepe waterbehoefte
wat nie met leë waterbeloftes verwar moet word nie
los die waterpolitiek op die agterstoep
die kinkels gaan nie my pype indring nie

laat ons die kuns van
die ongekunstelde waterminnaars leer
en gee die waternimfe hulle swemplek
hulle sal die immer migrasie van water laat voortblom

No comments:

Post a Comment