Sunday 27 October 2019

fluweelagtige verwarring

sy en haar rebelse ribbes kom lê
onder die goeiste genade groen van die bome
haar bene bulder van verligting om 
vry van stoel te wees
haar agsiestog arms wil net wegsink 
in die spierkragtige sintaksis
van somer
haar wag-‘n-bietjie wange bloos van 
lekkerkry in haar verbeelding
haar dragtige duime kan nie wag
om lofliedere oor sy vel te baar

deur die geweldlose gordyne sien
hy haar baanbrekende borste
hy lig sy waansinnige wenkbroue
en gaan staan styf teen die koel malvapoeding mure

hy mik-mik na haar 
maar die kniehalterende tafelhoeke
en slinkse stofballe pootjie hom 
hy bly tuur na buite waar 
die bloeiende ballonne net nie wil stol
die lug slaan uit vol kneusplekke in pleitende pers

al wat haar sal red is 
'n piromaniese pasaangeër
hy sal dan dalk in haar hart kan begin glo

sy sien die triestige tarentaal oor 
die hygende hoofweg hol
die migrerende marionette weet nie waarheen!
alles voel soos fluweelagtige verwarring

vreesaanjaende frikatiewe glip uit haar mond

haar beneukte boude kry uiteindelik sit
soos wat die waaghalsige wolke
die roekelose donker invaar

sy klim binne-in die kabbelende kerslig
en vou haar woorde een-vir-een uit 
oor die pruimedantkleurige papier

No comments:

Post a Comment