Sunday 6 October 2019

miskruier

ek sit in die phyl martin tuine in nature's valley
met proteas wat alom my toring

die beweging van 'n miskruier
trek my aandag
hy het pas 'n bolletjie ontkoppel 
van 'n nat hondedrol
hy rol dit na 'n klein streepskaduwee 
onder 'n grasspriet
daar kom sy rol tot stilstand

geen beweging uit sy lyf 

soos hy oor die misbol hang
hy is nou stil
geen avontuurlike wending 
gee hy hierdie gedig nie

ek sprei my serp uit 

en gaan lê langs hom 
prop my kop op
teen 'n nat stuk hout

ek sink diep in 
hierdie tydlose saligheid

dankie miskruier - 
jy laat my plat lê
in die fynbos-skadu's

No comments:

Post a Comment