Tuesday 22 October 2019

kwiksilwer asems

            vir Kaolin

waaragtig die kreun in
ons ribbes hou nie op nie
die selle weier om te ontrafel
ons speel die vrees weg
ons klou verbete aan ons kele in die duister tye
bang en bly dat ons siele sal ontsnap na
beter sinsasies
o hoe ons hou daarvan om
te speel met die klanke gedoop in
primordiale herinneringe

diep in ons oorkanale bloei daar vlerke
wat nie kan wag om te vlieg
die rugstring loop hier reg uit ons kele uit
en spat in kwiksilwer asems deur die silwer pype
die vlees volg die klank
ongeag van skaamte
sal die vlees luister en onverskrokke
ons kwesbare siele bly omhul

ons polsslag verteer elke dag tot ‘n vlugtige gedig
ons ledemate bly hardloop agterna
die hande wil gryp gryp na vashouplek

die tornados in ons heilspellende inkantasies
sal bly kolk solank die kwiksilwer asems
in aanraking bly met die oer-grond

al wat ons wil hê is dat ons klanke
resonerende spore sal agterlaat
versadiging dartel soos warm silwer
deur ons klei-lywe

mag die kwiksilwer asems
ons kele
smelt en
giet tot 
in
vermurwende vrede

No comments:

Post a Comment