ek
móét vandag ‘n gedig skryf
al
moet ek dit by my duim uitsuig!
die
skryf van die digkuns is ‘n komplekse besigheid
as
jy nie oplet raak jou sinne gou die kluts kwyt!
dit
is nie soos ‘n eksamen waar krip-notas ‘n uitweg kan wees
en
jy die antwoorde skelm vanaf jou mou of pennedosie kan lees
ek
is ook geen boheem wat glo poësie sal vloei met ‘n dosis opium of wyn
maar
tog kan dit nie net so vanuit die blote lug of my grysstof verskyn?!
die
gelowiges sê goddelike ingryping is die antwoord
maar
hiermee staan ek nie heeltemal in akkoord
hoe
kan ek my vertroue plaas op 'n vonk om oor my hoof te flits
en
die inspirasie soos vuur aan te hits?
ek
weet dit was eens op ‘n tyd mode
om
te wag vir die aanraking van die muses en die gode
maar ek kan nie alewig wag vir die vonk van ‘n eksterne bron
dit
moet seker kom vanuit my eie skynende son ?
moenie
te veel dink, huiwer of wag
watter
vers dit ookal is, bly skryf elke dag
die digkuns wil ge-uiter wees
al word jou hand en stem lam en hees
glo dat die regte woorde sal kom
en vrylik op jou papier en tong gaan oopblom
die digkuns sal jou smekinge aanhoor
en op sy eie tyd jou sinne raaktoor
No comments:
Post a Comment