Sunday, 9 October 2016

oor die dood van my pa

woorde spaander deur my kop 
ek wil elke oomblik bymekaarkskraap
om hierdie ervaring in totaliteit te absorbeer
my selle gryp aan elke herinnering
vrese skaamtes spyte verwyte vreugdes
iewers moet ek begin om digterlike sin te maak

die dood is so oorweldigend -
die dood van louis my pa
die verlies is groot
die trane taai
die woorde verward

die finaliteit is finaal in die dood
geen hartklop
geen asem
geen kloppende sel
hartverskeurend om aanvanklik te laat gaan
want my hele lewe lank was hy daar
so lewendig en tasbaar daar

my kop moes sedertdien die pa-paradigma skuif 
sonder argument of filosofie
mens het nie kans om te klou aan 
die lewe wat nou net geblus is nie
die finaliteit kom en mens moet regstaan vir 
die ongesêde koebaai

No comments:

Post a Comment