Wednesday, 25 February 2015

ratstokke en oopgebreekte skalie

I

in die karmosyn delta
dryf die appelkose tussen
die humeurige opdrifsels van wrakke
die aarde is lankmoedig
maar wee o wee sy bereik nou gou haar
kwota van hierdie vraatsugtige snuiters
wat bekend staan as die mensdom

ek is keelvol van allerhande gekierang
met mens-en-dier-en grond-siele in
die naam van rykdom
is dit dat meeste mense blind is
vir hierdie kullery?
hoeveel keer kan die mens se hart
die verraad wat hulle pleeg verduur?

die buitensporige sloping van woude
word deur die gieriges met so ‘n saaklikheid bespreek
dat hulle die werklikheid van die afmaaiing van
ons lewens-aar te gerieflik ontwyk

o, hoe ek ‘n smaadrede teenoor
die hardvogtige industrieë
sal klink uit my brandende bors

II

padkonstruksie hou net nie op nie
dis asof ons versot is op konneksie
hoe meer hulle plekke verbind met 
versnellende paaie in die naam van vooruitgang
hoe meer distansieer hulle ons

weliswaar ons is in die middel van ‘n korrupsie van
die edele grootsheid waartoe die mense-hart in staat is
dis net trokke en rekenmeesters
en ratstokke en oopgebreekte skalie
en olie, sweet en bloed wat op die teer drup

die gewelf is ontsteek met
hierdie ontgroening wat 
geen mens kan aanskou
die verwaande senioriteit van die politici
word hoogs geaffronteer as hulle teegegaan word
hulle noem jou maklik ‘n fanatikus of terroris
as jy nie saam stem met hulle 
mens ruik net stink deur hulle duur parfuum

III

ek raak gedurig aan’t tob
as ek nie sterker was en
meer afgesny van die waarheid
sou ek my oë uit my kop gesanik het

waar is die saligmakers van ons tyd?
ons die digters, die musikante
die akteurs, die kunstenaars?
wat kan ons doen?
dalk is ons gelyk aan die niksnut armchair massas,
net met meer luide en kleurvolle stemme?

soms oorweeg ek ‘n kluisenaarslewe wat 
ver weg van die sinjaal van ons tyd is
net doof wil wees in my eie stille onkunde
net visioene onaangeraak deur begeerte
te sien flikker in die dag se ontvouing
wat help dit om te mix en te mingle
en idee’s uit te ruil
wat help dit werklik?!

IV

dit is vieslik baatsugtig om so krygshaftig
te wees in strewe van magdom
almiskie, dit was van vroeg tot nou so maklik om
die kreperende volkere te ontroer en ontplooi
borste opgepof op die galjoene van die sees
               
die oorwinning is so kortstondig
in die sig van die ongenesende wonde
die wêreld fraaiing aansienlik uitmekaar soos
‘n ou ou trui
wat makeer ons dat ons net kan aangaan?
dat ek in die see kan staan en skoon gewas voel?
hoekom raak ons meegevoelens so gou ontslape

ek gryp gedurig die jammerlappie in die kombuis
en vee al wat ‘n oppervlak is daarmee skoon
hoekom net jou kombuis en nie ook die wêreld nie?
helaas, ons is so apaties dat ons ware erbarming verleer het

ek wil nie ‘n relaas van die hele koeëlbloedige prentjie maak nie
maar omdat hierdie woorde voor my oë hang
gryp ek hulle en moet ek dit hier uitstort

soos ‘n skool sardientjies swem ons verwoed deur die fluweel waters
so meesterlik in ons vin-beheer en groepsaanpassing
dit korrelleer nie met ons flambojante smagting na
onafhanklikheid en identiteit nie

V

dit is so griewend dat my digkuns
met soveel wrewel deurdrenk word
maar ek is vir eens ‘n kind van my tyd met
al hierdie gevoelens wat diep in my bors kroepeer

ek wens ek was ‘n goëlaar wat met een swierige klits
al die kwaadwillige mense se wrikbaarheid kon wegtoor
as hierdie woorde deel was van ‘n redenaarskompetisie
sou hulle seker nie ver gekom het nie
maar hier staan hulle spesiaal geselekteer in hierdie gedig
en verspil geen tyd om te sê wat daar gesê wil word nie

‘n woordsmit mag mos ook vol berisping wees
in luide lettergrepe mag die metafore op mure gegraffiti word
dit is nie vandalisering nie
dit is die verspreiding van die digterlike waarheid

laat die woorde ver in die Kaapse kastaiing oprank
en siedaar! kierts regop sal die letters
die wêreld laat wakker skrik
opstaan
en
aandig gee

Monday, 23 February 2015

weier

al om my 
sit die gedigte vas 
in die objekte 
en die lug
hulle weier om los te trek 
en hier op my papier 
te kom sit 

Friday, 13 February 2015

ode to the shiver

where do you come from?
all of a sudden out of nowhere
you shake and spread from
my spine through the flanks of my back
up my neck 
through my head and 
down my arms to
each follicle of skin
rising open and out into
the very tips of my hair

be it cold, empathy or music
you are the palpability of these
bodiless and ephemeral things
you are the bridge between
the intangible and the tangible
oh shiver, you are evidence that our bodies
are catchments for the invisible
the enigmatic power of sound and feeling
made manifest in the surge called
the shiver that all sentient beings can feel

oh shiver you make me believe in
the reconciliation of body and soul
how the invisible filters through our cells
you are the sign that passion sparks us into vitality
flashing and inciting
a spontaneous biological phenomenon through
our neural pathways

our temperaments will keep on seeking stimulation
for that physical shudder that quakes
our instinct to feel and be alive
how these shivers capriciously delight our anatomy
when the organic and psychic melt into each other
these little quivers electrify our bodies
and on a trip of imagination one can incarnate
the sensual into various states of shivering being

this impulse to shiver right into
our sensory somatic selves
reveal our ability to transcend our weighty carnality
and rise with thrilling lightness
above
and
outside
of
ourselves

Tuesday, 10 February 2015

heilige harmonieë

sit ek voor my gedig met
die franke reuk van st josefslelies wat
teen die dakhoeke uitklouter
en die dwarsbalke dreig om hulle in twee te breek

die klaviermusiek van messiaen en stravinsky
laat die mense hulle middagslapie uitstel
hoera! hoe kan enige iemand wil slaap
met hierdie heilige harmonieë?

ek teug heerlik aan my drome van
dahlias en volkspele
kinderlike jolyt wat geen sambok
kon kortwiek nie

wrintiewaar! hoe die gedig sal swets
as ek haar in die wiele moet ry
sy wil vry loop tussen die slamaaier-kopdoeke
en kerries en donker glimlagte

ek tiep die glasbottel vertikaal oor my mond
laat al die water soos ‘n kaskade
diep in my dors val en my heel van
moontlike hart- en-woord-versaking

Friday, 6 February 2015

vastrap

aha, dit is die antwoord - 
lyf en siel hou van
vastrapplek -
hoe vlietend en klein dit
ookal mag wees
so bietjie vastrapplek:
tydelike behoort 
aan 
die grond

Wednesday, 4 February 2015

dolosgooier van ‘n gedig

I

die ambisie van die gedig is so indringerig
dit laat my nie toe om oor te
gee aan ‘n sukkelary nie
so 'n waaragtige astrante houding
het hierdie woordkuns!
ek probeer my skaar met
‘n hardvogtigheid
probeer anderkant toe kyk
maar nee! die kleine lettertjies
kom sit met alle mag
so grieselig in my kop
en kom lek hier by my vingers uit


II

ek het al vir jare die voorgevoel gehad
dat hierdie gedig haar verskyning gaan maak
meer as ‘n verskyning
is dit ‘n harlekinade
met al die gekskeerdery en geverfde gesigte
ek weet nie wie spot met wie nie!
dit is asof ek kompeteer
met my sinne in die verspring-pit
die stof spat al om ons enkels
maar ons wedywer vurig met mekaar
beide wil die ander een ver uit-spring


III

die kuilvoer word so gistig en suur in my kop
selfs die blêrende skape in
my stompe en passiewe gedagtegang
wil nie eet daaraan
ek kyk verlief na die moepel
en lê my warm lyf teen sy stam
“hoe wild en vry groei jy nie!”
en so dompel die natuur my in die romantiek
van haar polsende hart
ek pluk verwoed al die wilde-als
al om my enkels en
kook dit op in ‘n swetende en swetsende tee
selfs die kakkerlakke laat vaar hulle
alewige geskarrel en kyk my verbyster
aan hoe ek die bitter van die als in my keel
afstort
inderdaad – hierdie passie om kruie-gesond te leef
is vir meeste doemwaardig
hulle dink die pluk van blare is meer grusaam
as die moordpleeg van bloed en siel-diere
aai, sekere idee’s moet net in die son
bly lê en verskrompel

IV

die dae se skarniere verslyt
met elke sonsopkoms
maar die gedig bly om die dolosse te gooi
hardnekkig in haar gewoonte om
hier in my nek te blaas
as gedigte maar ‘n blywende effek kon blaas
en die koersskommeling tot ewige stilstand ruk
sal ons dalk koebaai sê vir
die weghardloop-verbeelding van geld

V

die dolosse ontaard in vonk-proppe
wat mekaar begin jaag in
die hippodroom van my kop
hulle begin lyk na artisjokke op hitte
as daar maar ‘n hofmaarskalk was
wie ek kon roep wat vir my in die bresse kon tree
maar, nee, ek is op my eie

VI

ek gaan skaar my by die vrouens in die harem
en vra hulle of hulle ook so verlei word deur die Woord?
nee, sê hulle, maar hoekom probeer jy
nie ‘n ontwapeningsveldtog nie?
haai, ek het nooit daaraan gedink nie
die geheim van hierdie driftige aanteel van woorde
deel dieselfde lankmoedigheid aanwesig in stalaktiete
‘n stille, onopmerklike groei
hoe kan ek hulle nou ontwapen?
wat is die wapen wat ek voel op my geteiken is?
ek gee moed op
ek gaan slaap met ‘n ellelange hanglip
en hoop die aand gooi nie
nog dolosse in my half-wakker drome nie
al wat ek kan doen is om op my tande te byt
en te hoop niemand sien my dolsinnige gryns raak
een greintjie van ’n  kyk in my rigting
sal jou in ‘n sout-pilaar verander
al hoe ek hiermee leef is om deur die dag so
hiperbeleef as moontlik te loop
iewers sal die gedigte se gedrag raffineer
met my invloed
en die harlaboerla van hulle ledemate en tonge
tot orde roep
en soos die moeder-owerste sal ek hulle
siele deur ‘n ring kan trek
so netjies en heilig sal hulle voor my staan

VII

teen hierdie tyd sal die gedig
die stadsvryheid verdien
en vry deur die strate wals
en enige kafee inloop en homself knuppeldik
aan die atjar eet
die burokrate sal met nuut-ontdekte ywer
die verse se skoene poets
en die posmeester sal teen geen tarief 
die digkuns aan elke lid van die wêreld pos
nodeloos om te sê
die poësie sal ‘n groot hawiksneus groei
en homself luid op die skouer klop
en trots elke kruiwa vul met leestekens en sillabes
en die bakstene en sement vervang met dit
wat meer sin maak
met die gedig se pralery
sal hy homself oortuig dat hy
skuiling en warmte kan bied vir die massas

VIII

en so gooi die gedig haar dolosse
selfs in die aspidistras en krisante
dit help nie ek is ‘n suurknol
vier fees saam met die verse se
brutale parmantigheid
ek kan seker net gulhartig daarvan afkom
dit help nie om hulle misbaksels te noem
of die hoof-inhoud van my ontlasting nie
laat ek eerder bieg dat hulle soos
pypkaneel en die geelste borrie
goed is vir die selle
elke dag wiegel hulle voor my oë
met hulle volywerigheid
hard aan die werk om
my uit te daag met die beste van
harsinggimnastiek

Monday, 2 February 2015

Lied van Europa

Blaas die spookasemstof van die koue
klip van my borste Loop deur die labirint
van my roetmoskotskobbelstrate Kruip blinde-
links deur die kronkelpaaie van my hart
Sny jou oë met die splinterslig wat deur my
baksteenskeure breek Jaag agter die sneltrein van
my ondergrondse siel Swem deur die snotpiskak
van my kanale Dans met die eenoogman
oor die brûe van my waters Lag met die
eenbeenman in my doodloopstegies Drink met die
eensaamdigter van my straatkafees Balanseer
geblind-en doofdoek op die ysterlane van my
treinspore Vang jou asem op en af met die trappe
van my ribbes Lê een van jou beendere in my
sepul-krale Skud die stof soos dobbelstene oor
die spel van my lewe Ruk elke skaamhaar soos
onkruid uit die driehoek van my tuin Ruik die
binneholtes van my pistonnels Val oor die
skaduwees van my katedrale 
Vergeet jou moeder-
grond 

Onthou my 

Beendere treine siele strate klip
kanale digters skaamhare brûe kafees trappe pis-
reuk verdwyn nie sommer nie

Sunday, 1 February 2015

Sonnet I

uit die sonbeligte wolke sien ek
jou gesig breek soos ‘n droom hang
jy oor my teen die blou lug helder bly
jou oë in die veranderende wolke

deur die suis van blaar en wind
strek jou hande uit om my oor my
hals te streel die wind gaan lê
maar die rillings bly helder tril

dit word nag en die lug word koud
teen my bors en lippe smelt die gedagte aan jou
ek lê stil dat my geestesoog jou elke hoek raaksien

in die koue oggenduur skrik ek in ‘n sweet
van verlange wakker die ure weg van jou
lê so ver uit mekaar

Saturday, 31 January 2015

Campaign-in-the-arse

you might see it as a lofty demonstration
or a revolt or an influential song of protest
with banners and shouts flying
at first your heart feels something
against the horrors, the injustices
your throat tightens
you swallow on your counterfeited tears
and then you try hard
to suppress your attraction to these misfortunes – as long
as they are happening far far away
you can not help to sprout a smug smile as
you feel very chuffed with yourself in
keeping up appearances and
indulging in mock compassion
this whole act wishes to quote all the idealism the world has ever known
I refuse to use any metaphoric descriptions
in fear that this piece of white's desire might get nebulous
we do not want that, do we?
these words beseech you to stop listening to
any lecturing, flattery, poems, anthems, anecdotes and confessions
they are all ego-driven and  emotion-based
and stay away from protestations
they are simply an expression of a spoilt childhood
these black-and-too-easily-decipherable-hieroglyphs do
not wish to be interpreted as an ultimatum
and do not want to incite praise, prayer or discussions
pay attention to the undercurrent!
you might think it is all dumfounded truths and unholy lies
but that is only your inner turmoiled dialogue
bursting out of its thought-bubble-seams
if you want to learn the steps on how to choreograph a campaign
please do not read the attached memorandum
and please do not ever petition from near or afar
this laptop-pretending-to-be-an-armchair fighting for a cause
will not stop the poverty and injustice
i can only pull tears out of my eyes and murmur
a blessing on the gullibility of the congregated masses
as they continue to hope that there will be
a cause hidden in the dust of the marches

Friday, 30 January 2015

agter tralies

ek wil net slaap
maar hier staan ek
met my uil pantoffels
voor die laptop en
maak sin van die
punt blare wat wieg
in die wind die
hoenderhaan kraai die duif
tortel ek sug en die
rooi kar sny deur
die grondpad en groen
weivelde dit trek my
oog na die bottelborsel
wat net so lekker
aan't wieg is en
ek raak op my
voete aan die slaap
ek moet net nog
een keer kyk na
wat daar so graag
gesien wil word my
oё raak weg in die
jasmyn en die plantasies
en my ore word
ge-abba deur krieke ek
hoor die vlieg agter
tralies ek maak die
venster oop
hy vlieg buitentoe
en laat my
alleen
hier binne agter

Thursday, 29 January 2015

raka

  > drink dié gedig met 'n bottel Raka rooiwyn <

ek wil jou voed met
die bloed
van Raka
sodat jy die wilde dans-pas
van sy stam kan ken
en die ritmes van
Oer
kan
sweet

Wednesday, 10 December 2014

tussen die kriek en die stilte

~ English translation at the bottom ~

ek soek daai element

dit is nie klip
dit is nie water
dit is nie lug
dit is nie aarde
dit is nie vuur
dit is nie mineraal
dit is nie plant
dit is nie metaal

dit vloei nie
dit lê nie
dit groei nie
dit brand nie
tog is dit daar

ek soek daai element
daai iets wat die donker woud op
‘n windlose volmaan-nag
so perfek aanmekaar hou
daar waarin die insekte en voëls
die oorlewing-sparteling vir
‘n wyle
laat vaar
en
net 
stil
word

dit lyk asof al die ander elemente
leef vir hierdie een element
die element wat eenvoudig net hang
dik en ryk

ja dit is ‘n hang-gevoel
so ‘n lywige sensasie  in die neusgate
wat die asemteug eindeloos laat strek
tot in die einder van die longe

hierdie element is waaragtig ‘n noodsaaklikheid

dit is die gom tussen
organika en habitat

daai iets tussen die kriek en die stilte

dit is die heenkome vir verdwaling
dit is die lig wat bly hang in die oog
al het die donker gedaal
en die ooglede toegeval

mens vang nie hierdie element vas nie
dit sal jou ontwyk as jy ander kant toe kyk
en tog, as dit eers aan jou verhemelte gelek het
het dit jou siel verewig gemerk

dit is die element wat die oer-oorsaak is
van rusteloosheid
jy wil dit vashou 
jy wil dit vasklou
jy blameer dit – regverdiglik – vir jou geluk

jou binnenste weet dat
dit ook die wortel is
van
ongeëwenaarde saligheid en
jou hele lewe lank
sal jy daarna bly honger

between the cricket and the silence

i am searching for that element

it is not stone
it is not water
it is not air
it is not earth
it is not fire
it is not mineral
it is not plant
it is not metal

it does not flow
it does not lie down
it does not grow
it does not burn
yet it is there

i am searching for that element
that something that holds together
the dark forest on
a windless full-moon-night
there wherein the insects and birds
let go of
the survival-bustle for
a while
and
become
silent

it seems that all the other elements
live for this one element
the element that simply hangs
thick and rich
in
the
air

yes it is a hanging feeling
such a full-bodied sensation in the nostrils
that endlessly stretches the breath
to the furthest ends of the lungs

this element is veraciously a necessity

it is the glue between
organica and habitat

that something between the cricket and silence

it is the sanctuary for lostness
it is light that stays hanging in the eye
long after the darkness has descended
and the eyelids have closed

one does not capture this element
it will elude you if you look the other way
and yet once you have stood in it and
felt it licking on your palate
it has marked your soul forever

it is the element that is the root cause
of restlessness
you want to hold and cling onto it
you blame it – rightfully – for your happiness

yet your innards know that
it is also the source
of
unequaled beatitude and
your whole life
you will
hunger for it

Tuesday, 9 December 2014

net perfek

diep asemhaal 
met die gladde aanraking 
van pen op papier
die sus en soelheid 
van die skrywersoomblik
kondisies net perfek
temperatuur onverbeterlik
vreedsaamheid in die kol
fokus sekuur
en oog-knip ondesperaat

diep asemhaal
tot in my tone
en tot op die skiereiland 
van my boude
voel die wonderskone lewe 
deur elke sel trek
dit is tot in die kop en hart 
van verbeelding wat ek moet asemhaal
tot daar waar elke suurstofsel 
omskep word 
in 
skouspelagtige technicoloured dreamcoats

Thursday, 4 December 2014

kieslowski

sluk die sleutel van jou eie gevangeneskap
i want to be equal
but also want to get equal

                                                                vrou in skadu van hartseer
ek hoor die sluk van haar slukpyp

          kyk na haar
hartseer
deur
‘n
vergrootglas

                                                                to define destiny is vanity

Wednesday, 3 December 2014

gebrande kekerertjies

en in die oggend is sy vroeg uit die bed
om haar van haar woelige kop te red
gaan sit sy op haar laptop en tik ‘n gedig
om haar energie op iets konstruktiefs te rig

jy sien, al bly ‘n mens op die platteland
wil mens gedurig dinge gelyktertyd doen
dink mos multi-tasking is goed vir die verstand
en sal aandag en afleiding met mekaar versoen

so wil sy kekerertjies kook terwyl sy dig
al weet sy haar aandag sal dalk onder die druk mag swig
nietemin, sy is goed op dreef
glo vas sy sal die digkuns en kekertjies aanmekaar kan weef

dit is wonderlik hoe sy aanvanklik elke hoeveel minute opstaan
om die kookpot te bly vul met water uit die kraan
die hoop is hoog, die uitsig is blink
terwyl sy aan erte én gedigte bly dink

maar wee o wee, dit was nie bedoel
dat die oggend uitdraai soos ‘n gladde stil poel
sy het paar minute te lank bly skryf
en die erte in vergetelheid laat dryf

al wat haar uit haar dommel kon pluk
is die stank van ‘n pot wat brand
word sy summier uit haar multi-tasking trots geruk
wie kon raai haar gemoedere sou so in die swart rook beland?!

gooi die vensters oop! brand die wierook!
niemand mag weet watter brand sy’t gestook
gryp die skuurwol en skrop en skuur
sy is net te bly die erte het nie ontaard in ‘n helse vuur!