Tuesday, 1 September 2020

ek dans meer as wat ek skryf

die eerste keer vir alles - 
ek skryf hierdie gedig terwyl ek luister
na 'n funky dans remix van Diana Ross
se Love Hangover

ek dans meer as wat ek skryf

die refrain herhaal oor en oor
i don't want to get over this
i don't want to get over this

al my scatter matte op my woonstel 
se teëls omgedolwe deur my voete
wat ook nie die gevoel wil stop nie!

so ook die scatter verse in my gedig
wil nie sit of lê kry
nou ja, hulle moet maar opspring en saam dans...

Tuesday, 26 May 2020

klein odes aan die ClemenGold mandaryn

“a ray of light that was made fruit
the minute fire of a planet”
-         Pablo Neruda

in hierdie oomblik is jy die vrugste van vrugte
die klein ontploffings wat jy ontketen in my sintuie 
stormloop my verbeelding
gooi my toe met 'n duisend trillende mandaryne
laat elkeen van julle soos oranje soene oor my dorstige lyf oopvou
die beswyming gedy wiegend soos wat jou soet getye deur my mond gly

my keel breek oop in sugtende kreune
soos wat die sitrus
mandalas onder my verhemelte oopsprei
rapsodies spruit my tong nog smaakkliere
om elke grein aroma in te suig

jubelend verlig jy selfs die son!

gee my nog tande, tonge en slukpype
om jou oorvloedige feestelikheid
te kan proe en indrink

***

in hierdie tye van newelagtigheid
is dit jy op my tong wat
my weer in vrede en gesondheid laat glo

ek sit jou skil soos ‘n skulp teen my oor
jou sagte wit binnevel
tril met die rillings van vrugbaarheid en oorvloed

met een mandaryn-skil tussen my vingers word ek ‘n clairvoyant
in een oranje spatsel op my voorarm
skyn ‘n glimmerende mirage van die toekoms

jou skyfies soos glinsterende edelgesteentes
gesprei oor die kuslyne van ons monde
weeg elke amberstukkie op die tong
en proe die rare ryk reënbuie van afrika in elke sappige sel
           
***

barnsteen-klokke lui deur die groen takke
kom skil die mandaryne! kom skil die mandaryne!

kyk hoe die oranje skywe soos klein glimlagte
in die palms van hande oopbreek

ons staan met ootmoed en taai wange
en besing hierdie mandaryn-gawe
wat soos ‘n goue skemer
die soete herinnering oor ons kele verf

kom skil die mandaryne! kom skil die mandaryne!

***

o mandaryn, jy is suiwer spontane metafoor
wat roekeloos uit die keelgat lek
en in eeue-oue sillabes
soos stalaktiete van die verhemeltes drup 

***

mag die sterre en hemelliggame vir een aand
vervang word met die mandaryne
sodat die heelal soet en helder
in taai-druppel arabesques
deur almal se drome sal skyn

***

move on with the changing times, Opperman!
en laat my eerder sing
o my nooi is in die ClemenGold mandaryn!

***

die mandaryn-bome is bedrewe marionet-meesters
wat nartjie-poppe-teater speel
en pointillisties die juigende vrugteboorde
met onblusbare oranje inkleur
watter oneindigende skilder-pret sou van gogh en dali kon toor
met hierdie dansende nartjies

***

‘n stille majesteit:
die buigende takke ril oor die swygende lanings in die boord
die lug sy hang vol verwagting

want sy het al vantevore gesien
hoe die oes-seisoene glimmer met juigende hande
soos die oranje orakels
sagte insigte in die mandjies murmel

maar vir nou hang die lug vol verwagting
die buigende takke ril oor die swygende lanings in die boord:
‘n stille majesteit

***

hulle sê
you are what you eat
mag  ek oornag in ‘n ClemenGold mandaryn verander!

***

soos bedrewe alchemiste giet son, water en grond
elke klein oranje koeël wat
so raak deur my sintuie skiet
kwes my verruklik diep tot in die hart van my tong

***

kyk die groot ronde oë wat met innige oranje onskuld
die wêreld soos wyse harlekyne beloer

***

ek smile daai mandaryn-smile
want my duim voel die grootste lekkerte
om daai eerste skeur deur die skil te maak

en hoe frons ek daai mandaryn-frons
wanneer daai gekwesde skil my so slinks
 in die oog spat

nou ja, wat sê hulle van karma?

***

my kakebeen gee oor aan die oranje ontspanning
my mond is uitgelewer aan hierdie soete omsingeling
my nek ontkoppel
ek tuimel neer in ‘n sitrus beswyming

moenie my in die rede val as ek ‘n ClemenGold besing nie!
  
***

Saturday, 16 May 2020

die grassnyer bly dwars

die grassnyer bly dwars en 
dans klippig en pittig
deur die bowling alleys 
van die gewete


Wednesday, 13 May 2020

chemie

ontsluit die bekkenbeen van die gedig
en stort alle lewenslustige beurende vrugbare ontploffings
uit oor die dorstige vlaktes van die papier
verfrissing te vinde in elke nat ink-lyn 
die penpunt tril
met opwinding om die woordrivier
te laat vloei
in aanraking opregte aanraking
is die pen met die digterlike idee
so gereed so toegewyd
aan die metaforiese draaie
altyd op aandag om in diens te wees van die poëtika
die woord smelt in die hitte
van die digterlike kookpunt
selle woorde verhale lyding
insigte insekte sinapse geheue
verrukking wind hartklop
word geklits in die een metaforiese maelstrom en word
uitgewerp oor die kuslyn van die meditatiewe brein
nou kom elke beeld se smaaklike essensie na vore
en versterk die ander sintuie
digtatorika kan ook
chemiese reaksies ontlok
nie net in proefbuise breine kos
borrel en toor chemie nie
maar ook reg hier tussen die eindelose lengte 
tussen die brein 
die digtersoog en
die gretige papier

Tuesday, 12 May 2020

kariljon

die meganiese trots van die kariljon 
kners op sy tande
elke beier van sy klokke loop katvoet 
deur die vergetelheid
wat knobbelrig bly progresseer met groot drif

Monday, 11 May 2020

ek gaan sit in die boom

ek gaan sit in die boom
en speel abbakus-abbakus met die blare
ek moet weer in aanraking kom met 
die in-tel-lig-ensie van die natuur

Friday, 8 May 2020

bedagsame pigmente

al wie bly mediteer in hierdie tye 
is die bedagsame pigmente
wat nie meer die hart het om 
oor die velle te wil spat nie

Sunday, 19 April 2020

soos 'n taksidermis

soos ‘n taksidermis
vat ek die dooie gedig
en stop dit op
plak met bewende vingers
sy smotsige vere in deurmekaar metafore vas
en hoop die wêreld sien
nie sy onpolsende hart raak nie

Thursday, 16 April 2020

grootbekke

dit is hartverskeurend hoe grootbekke 
hoogty vier in hierdie wêreld
ek skaar my maar by die sonskyn
om my sin van standvastigheid te gee
ek nooi die malvablomme en 
die tarentale om saam met my 
in die voortuin piekniek te hou

Sunday, 5 April 2020

die peristalse bly benoud

die peristalse bly benoud
omdat ek die konvensie in my bewerasie gewaar
ek bly dans om die spontane blydskap astraal 
en prontuit uit my tone te laat bloei
my agonie en aggressie word sagter
moenie so besitlik wees oor jou karmenaadjie
haal dit uit die uitsonderlike parentese
die drukkieklikkie raak al hoe meer loslit
soos wat die murgmeter se grafiek verwoed op en af  dans
die wêreld se gemoed raak so katatonies dat die asteroides geen lus het om naby die aardbol verby te wals nie
ek het soveel oog, oor en hartlogika
die bleeksielige opsigter van my beendere
moet gedurig die brandblussers byeenroep
om die wegholbrande in my sinuwees te bedaar
asseblief hou die kliniese klousules ver weg van my digkuns
ek wil met geen era   seisoen  verwagting    of media handskud nie

Friday, 3 April 2020

verbly

die spektrale kariljon bly in my ore lui 
lui alle klaagliedere uit die pen uit!
laat ek die filigraan idée fixe vasvang 
en dit opklits tot een pronkende pou
dit sal die poppemeesters verbly  

Monday, 23 March 2020

die agterdogtige palimpses

die agterdogtige palimpses
agoniseer al jare lank oor die
pandemiese tyding
wat touspring oor die bukoliese juigliedere

wie bedien alewig die swetterjoel anarchiste
wat hulself vermurwe met die karmosyn verdoemenisse?

jy sal moet ligloop vir die smotsige kombuishande
wat hard probeer ‘n inkomste verdien
die verskoonagtige versies skitter verboureerd met
die modieuse arsenaal lettergrepe wat die gedagtes wil orkestreer

die grassnyer bly dwars en dans klippig en pittig
deur die bowling alleys van die gewete

die heuning en die dou vergaar behendig al die swerkater
se verskonings en verdedig die besimpelde ritteltits
al wie bly mediteer in hierdie tye is die bedagsame pigmente
wat nie oor die nuutgeborenes se velle wil spat nie

die meganiese trots van die kariljon kners op sy tande
en elke beier van sy klokke loop katvoet deur  die vergetelheid
wat knobbelrig bly progresseer met groot drif

die geluksalige gesant raadpleeg die fatsoenlike karbonkel
om die droom te laat bedaar

kom eet jou selerysop
daai groen vesels sal die agoniserende palimpses balanseer
met onslordige verduidelikings

ek parafraseer maar net die groot idee wat so graag 
sy duisendjarige verjaarsdag wil vier
komaan, vergeet van die alewige afskeping
my dierbare agterdogtige palimpses
blaas die duisend kerse dood
en sing vollebors die bukoliese juigliedere!

Friday, 20 March 2020

peul

die metafore peul bont uit die oksels van my arms
geen enkele woord sal in my taal
ongesê gelaat word nie!

Friday, 13 March 2020

hoekom skryf ek?

hoekom skryf ek?
ek skryf opsoek na ‘n helderte
‘n vrybreek van fiksasies
ek skryf opsoek na vryheid
‘n ontkoppeling van die verrotting
ek skryf om my eie skreeu te vind
die skreeu wat my binnewande sal louter
ek skryf om my kop, longe
en lyf se disharmonie weer in stem te bring
ek skryf omdat ek net sin wil maak
dis al

Tuesday, 3 March 2020

wieggedig

sil-la-bes
een-twee-drie
glip-glip-glip
jou o-re
weg na die
ver-weg-se
sus-se-ling
een-twee-drie
drup-drup-drup
een-vir-een
deur my pen
let-ter-tjies
slaap nou gou
los nou die
kop-pie uit
sy wil net
doe-doe-doe
draai nou weg
let-ter-tjies
kom weer 'n
an-der dag
sa-li-ge
droom-lan-dy
wil ons nou
bin-ne gly
o wat-ter
lek-ker-te
voel ek nou
met hier-die
dak-tie-le
wat met my 
tong af-gly!

Saturday, 29 February 2020

duisternis

die nadenking van
die problematiek te vinde
in die regverdiging
van nagemaakte informasie
en die blinde verdediging
van onopregte kuns

die sinmaak is alreeds arrogansie
van progressiwiteit

tuimel

die

l
e
t
t
e
r
s

die

d
u
i
s
t
e
r
n
i
s

in

Friday, 28 February 2020

maak dit saak?

maak gedigte begrip
of maak begrip gedigte?

***

maak gedigte misterie
of maak misterie gedigte?

Wednesday, 26 February 2020

klank-spiere

in die kaskades van akkoorde wat val in die diep poele
van tyd
hoor ek die geeste gly deur die vingers se verbeelding
die klank-spiere skarnier met bedrewenheid
deur die oortonnels
die ontspanning en spanning in elke klank
kalibreer elke keer 'n nuwe hoopvolheid
dit is son vir die sintuie
wat deur elke porie insyfer
en die hart toor tot 'n bronsrooigoue klok
wat uit nuwe hartkamers tril en beier

en nogsteeds bly die kern van klank 
so glibberig 
dit gly gedurig uit ons tastende hande
ons soek beheer
ons soek tyd
dit is die musiek waarmee ons buite tyd kan klim
en dit is met musiek wat ons nuwe tyd kan maak
dit is ons verslawing
ag as die musiek maar heeltyd deur my siel kan filtreer
en my gemoed stroop en suiwer

ah musiek! wees genadig wees goedhartig wees geil
sonder jou stotter ek aan die sillabes van die lewe
met jou in my ore is niks vergesog
jy groei oor my hart soos mos oor klippe
maak die genadelose hoekigheid 
binne my
so sag en plooibaar
soos jou klank-spiere

Saturday, 8 February 2020

ironiese onreg

by Gearing's Point in Hermanus
vanwaar mens die mooiste kuslyn vir myle kan sien
met die berge en lug wat alles perfek omlyn
staan daar 'n paartjie
 - selfone in die hand - 
ek hou veral die vrou dop
tydens die lang en uitgebreide voorbereiding van 
die hele selfie proses
is haar mond strak en nors
naarstigtelik opsoek na daai perfekte komposisie
van gesig en see
 - haar boyfriend tol iewers vergete in sy eie selfie-sikloon - 
soos wat sy net reg is om die knoppie te druk
verskyn daar verbasend 'n glimlag op haar gesig
so onspontaan
so geoefen
so aangeplak
so geselfie
soos wat haar foon wiegend oor haar kop troon
val haar oog op my 
ek glimlag met deernis vir haar 
haar eie glimlag verdwyn in 'n oogwink
die strak en norse mond is weer terug
genade!
almal aan die ander kant van daai foto sal net like knoppies druk
min wetend dat sy net vir haar skerm smile
nie vir die lewende mense om haar
nie vir die see
nie vir die berge
nie vir haar boyfriend
net die doodse selfoonskermpie het die toorkrag
om haar te laat glimlag

Wednesday, 5 February 2020

ek klieder in 'n verwarring

ek klieder in ‘n verwarring van 
‘n oorlading van onkunde
ek skryf om te wys hoe
leeg ek waarlik is
geen metafore sal ek agter skuil
om my vakuiteit te verdoesel
skryf die leegte
spel dit letter vir letter uit
hulle sê mos skryf en skep vanuit dit wat jy ken
ek ken leegte
daar sal ek begin

Tuesday, 4 February 2020

brokkel

die ontstuimige kleintongetjie grom vir
die geroesde musiekboks wat nog
sulke wonder-klanke kan uittoor

die donsige suikerbekkie-kuiken duik diep
in sy nes en maak die benoude geute vergeet van
al die brandnetels wat binne hulle oprank

die afgeskeepte Rubik kubus skaats en bons
verby die teësinnige handskoen
wat enige kubisme ten alle koste wil ignoreer

die gemmer verdrink in die tee
ek probeer hom red
maar hy is te glibberig

die laken sleep haarself oor die vloer
sy voel nie beskore vir hierdie nuwe dag nie
haar emosies is net te brokkelrig

al die dreine om die huis voel ook 'n ongemak
die vensterbanke kruip al
hoe nader aan die grond
die blitse springtoue dartel
al om my enkels
maar ek wil niks weet van spring

hoe ek ookal die woorde vaskram
die lettergrepe lê oral geskif
hoe de donder kan ek hierdie uitsaai?

Monday, 3 February 2020

ek gee myself oor aan hierdie kak-gevoel

hoekom lieg
hoekom voorgee
hoekom wegskram
hoekom gril vir hierdie kak-gevoel
hierdie gevoel wat alle ander gevoelens
oorkakuwee
omarm dit
omskryf dit
vertaal dit
dat daar iewers op hierdie skerm van voorwendsels
'n stukkie waarheid
 - kakkerige -
waarheid sal deurskyn

Saturday, 18 January 2020

*The seed who wanted to live on the soil of defencelessness

Artwork and photo by Kim Goodwin (Tankwa Artscape, Tankwa Karoo, 2019)

The seed is not dead

 the seed pushes its heart against the drought
 the smell of earth and growth  screams   screams Belonging
 in the ephemeral breath

 The seed pushes its heart against the mutilation
 in the race of the egos
 the smell of sprouting and radication screams   screams Belonging
 in the tunnels of the inextinguishable survival

 The seed is not dead
 not on the mountain nor by the sea
 not in the forest nor in the desert
 nor in the baptismal fire of the sun
 where it lies with cuts through its skin

 The seed is the silent voice in the cosmos
 waiting with rain wind and hail
 the seed is present at all deliberations and decisions
 the seed peers through the ground of secrets and in the hearts of children
 the seed that just wants to sprout in the sun of the Karoo is everywhere
 the seed grown into a tree radiates through the whole world
 the seed grown into a forest rises to the stars

 Without a leaf 

* A re-interpretation of The Child by Ingrid Jonker

*Die saad wat wou leef op die grond van weerloosheid

Die saad is nie dood nie
die saad stoot sy kern teen die droogte
wat Behoort skreeu skreeu die geur van grond en groei
in die verganklike asem

Die saad stoot sy kern teen die verminking
in die jaagtog van die ego’s
wat Behoort skreeu skreeu die geur van ontkieming en vasworteling
in die tonnels van sy onblusbare oorlewing

Die saad is nie dood nie
nog by die berg nog by die see
nog in die woud nog in die woestyn
nog in die folteringsvuur van die son
waar hy lê met snye in sy vel

Die saad is die stille stem van die kosmos
op wag met reën wind en hael
die saad is teenwoordig by alle oorwegings en besluite
die saad loer deur die grond van geheime en in die harte van kinders
die saad wat net wou spruit in die son in die Karoo is orals
die saad wat ‘n boom geword het rank deur die wye wêreld
die saad wat ‘n woud geword het groei deur die hele sterrestelsel

Sonder ‘n blaar

* 'n her-interpretasie van Ingrid Jonker se Die Kind

Tuesday, 31 December 2019

hoe anders?

hart is deurvloei deur 
die yster van bloed
hoe kan 'n hart anders
as om sterk te wil wees?

Friday, 20 December 2019

staar

beide die lewe en die dood lê in my mond
altwee kompeteer vir verbale aandag op my tong
daar is net ‘n stilte wat my keel wil sus
oor geen van die twee wil ek nou dink nie
net ’n bloue vakuum wil my geestesoog teen vasstaar

Sunday, 15 December 2019

ek bid met en vir my tong

ek bid vanaand dat as daar 'n hemel is
my tong reguit soontoe sal gaan na my dood
en as een van my liggaamsdele kan inkarneer
dan wil ek hê dat dit my tong is wat herlewing sal ervaar
'n tong sonder herinnering of
bewussyn
'n tong met net die hier-krag
die nou-krag
‘n tong wat vir geen iemand
se onthalwe sal klink of rol nie
net vir die onthalwe van haarself -
vir haar eie spierkragtige verrukking
mag my tong die een wees
wie die ewige lewe mag ervaar
en in eindelose kolke en maalgate
die ore van die grond altyd sal bly bekoor
ek bid
ek bid
ek bid met en vir
my tong vanaand

Saturday, 14 December 2019

waaraan?

fiksasies en slegte onwillekeurige gewoontes het 
die gate in my kop diep ge-erodeer
as daar so baie gate is
waaraan kan my woorde klou?

Wednesday, 4 December 2019

ek sal altyd stukkies van die waarheid inasem

deur die tekens van die trekkrag en invloed van die afgestorwenes
is daar steeds die oorheersende honger vir die genadelose opregtheid van klip
en kan ek altyd doen met die aanmaning tot
die liefde vir vry en wilde plekke
sodat ek na myself kan terugkeer met oop gemoed
en fris en vars van voor begin

daar bulder stemme in my bors
ek is nie alleen nie!
ek sal altyd stukkies van die waarheid inasem
en stukkies van die droom uitasem

laat my oë oop en wyd strek sodat meer lig en skoonheid in kan stroom
geen luide gekerm sal iets kan verander
iewers sal die vreugde weer op my hartseer-bevlekte wange skyn

goue lyne kronkelend rondom die wolke
sal die luidrugtige poësie in haar eie onbegrensde ritme spel
die wolke is nie altemit die wasems van my voorvadergeeste
wat my keelklanke toejuig
'n sagte lig sal deur die donkerte breek
kom digkuns, breek oop met oorgawe
sprei elke versmaat oop in die dans
en laat elke asem oopbreek in verruklike vonke

Tuesday, 3 December 2019

die visioenêre waatlemoen breek in stukke

die visioenêre waatlemoen breek in stukke
op die geteisterde teer
die agterdogtige akkedisse skarrel opeens
in wye sirkels om die sanikende stroopspatsels
die eenoog eekhoring trippel in pastorale parentese nader aan die soete mise-en-scène
die merkwaardige mites probeer hard om nie
onder die klas van buitensporige bewerings
gekatalogiseer te word nie
dit is so 'n onbeduidende onreg wanneer
die argetipiese aksies deur die peremptoriese patriarge en burokratiese boelies so waansinnig weggevee word
die parate pruimedante en pluimende proteas
omsingel die fanatiese foonaanbidders en
hulle kettingvormende kak
en smyt hulle die suigende seestrome in
dit is te verwagte dat die duistere dwingelandy 
waaronder ons onsself en ander sit
die yslike eina veroorsaak waaraan die weemoedige wêreld ly 

ek staan aspris

ek staan aspris in die weerlig
op die mees trefbare punt
ek wil getref en geskok word tot in
die kern van my senuwees
al moet ek pikswart skroei
wil ek uit hierdie
knaende vonkloosheid
gepluk word