Wednesday, 26 October 2016

raakvat

ek het nog nooit so baie objekte 
en papiere en klere onder my vingers 
laat gaan soos in die laaste drie weke nie
ek probeer dat die vel van my vingers 
hulle eie geheue-bank opbou
sodat ek niks van die allerlei wonder-teksture 
in Louis se huis sal vergeet nie
ek wil elke herinnering vir goed raakvat

Tuesday, 25 October 2016

my siel is swaar so swaar

dit is in die oorlading van emosies en herinneringe
wat ek nou na my tikbord kom
om woorde te soek en 'n helderheid in my siel te koeël
die dae is warm
die eerste lente sonder jou
die rose blom
die sonneblomsade ontkiem
die bottelborsels pronk hulle pluimtossels al in die wind

vandag het ons hele 'n klomp swart sakke met afval op jou straat gesit
vir die pickitup trok wat sonder 'n grein van simpatie of grasie daarmee 
in die niksseggende niks inry
dinge uit jou huis wat oud, verstreke, geskeur, vuil, stukkend
of net eenvoudig in onbruik gekom het
onder andere twee pick en pay sakke vol ou speserye en kruie
ek het vir dae nie die hart gehad om die botteltjies uit die laaie te haal nie
jy het nie veel van die speserye gebruik 
maar tog was dit netjies ge-etiketeer en alfabeties gerangskik
anys tot by turmeric

my oë hang swaar van die weemoed
ek staan op in die oggende
haal diep asem vir die Groot Pak
ek gaan getrou saam met ma sonja na jou huis toe
63 bellavista weg
suid-johannesburg
maar my hart sleep
ek skud sakke oop met 'n leë hart
ek vou bokse oop met 'n hangende mond
ek pak boeke, skilderye, potlode, kwaste, lappe, 
klere, borsels, naelknippers, 
origami en jou alomteenwoordige handgeskrewe notes-to-self weg
elke objek en artikel doelbewus gekies en gebruik deur jou eie hande

jy was twee-en-sestig jaar in hierdie huis
dit was jy wat elke stuk oppervlak in hierdie huis betekenis gegee het
maar nou sonder jou hang daar 'n futiliteit aan alles
ek is verbaas dat ek nie self in 'n depressie verval nie
ek is hartseer 
moer-hartseer
maar ek bly 'n dryf in my voel
weet nie vanwaar
ek wie so maklik self in futiliteit kan verval
ek het net die nodige energie in my
wat dit moontlik maak om in die donker kuil se oë te staar

tog deur die dryfkrag bly my hart maar sleep
ek het nie tans 'n rede om djollie te wees nie
vir die eerste keer in my lewe voel ek
NOU het ek die beste rede om so hartslepend te voel
vorige kere was my swaarmoedigheid gekweek 
deur ondankbaarheid, onvergenoegdheid
en plein luiheid en onkreatiwiteit 
maar nou voel hierdie swaarte soos 'n ware swaarte
geen om dit dink en om dit voel gaan dit weg vat nie

in die eerste maand na jou dood het ek so lig gevoel
so surrealisties lig dat jou lyding gebreek is
maar nou na drie maande het die swaar klippe van verlies 
in my hart kom lê
en ek wil net lê 
want my siel is swaar
so swaar
sonder jou

enige oomblik gaan jy jou verskyning maak

enige oomblik gaan jy 
jou verskyning maak

dit kan net nie wees dat 
jy dood is nie?!

jou huis maak nog te veel sin
vir jou om nou so weg te wees

hoe veel keer kyk ek op na 
die hemele en glo vas jy is daar
en jy sien watter impak jy op 
my gedagtes en hart gehad het
kan sien hoe ek al jou kante
net so veel mis

ek sal enige van jou beneukte buie kies 
bo hierdie verlies
selfs jou stil-stuipe wat ek toe gedink het 
was so erg soos die dood 
sal ek kies in plek van jou dood

Thursday, 20 October 2016

my hele lyf huil

my hele lyf huil
die leegte is nou net te groot
my rug is moeg vir regopstaan
my voete sleep

my pa was groter as groot
met al sy kompleksiteite
en teatraliteite het sy bestaan
my lewe so ryk ingekleur
daar was 'n opwinding
asook 'n senuweeagtigheid 
om hom te ken
beide vrees en jolyt
om sy dogter te wees
ek kon nooit wag om my vriende 
aan hom voor te stel nie
aai om met hierdie besonderse pa van my te spog!

ek was nie een van daai kinders wie nie saam met hulle pa gesien wou word nie
ek wou hê almal moes sy sterk mooi kuite sien
sy trotse kaalvoete
sy verf-bespatte klere
sy humor en intensiteit

johannesburg was gelyk aan Louis
om nou na die goud-stad te kom
en weet hy is nie meer hier nie
maak my ore pieng van semi-waansin
ek voel so gestroop
soos 'n boom van haar bas, takke en blare

vanaand voel ek die brand van die sny
'n waaragtige amputasie

ek kan dit nie help
maar ek is so seer en flou 
tot in die murg van my murg

Wednesday, 19 October 2016

lig

ek kyk na foto's van ons ouerhuis
die tuin, honde, plante, blommerangskikkings
ek is verbaas hoeveel 
lig
daar in elke foto is
elke toneel lyk net soveel mooier
as wat ek dit ervaar en onthou het

dan dink ek nou skielik
hoekom sien ons nie meer 
lig 
in die oomblik raak nie?
ons moet minder jaag en sodoende
minder oë toeknip
ons oë oper oopmaak
sodat meer 
lig 
en skoonheid 
in
kan 
stroom

Tuesday, 18 October 2016

roep

ek het nooit gewaag om jou te roep
toe jy gelewe het
maar nou in jou dood roep ek jou
 - my keelspiere trek in snikkende bulte -
nou roep ek jou
dat jy my wenende verlange kan hoor

salt

why wish you sweet dreams
if i can wish you salty dreams?
dreams made of the salt of the earth 
dreams tasting like sun-parched stones, 
oceans and 
karoo salt pans

wishing you dreams as salty 
as my skin 
after we have made 
sweaty love

why wish you sweet dreams
if I can wish you sultry salty dreams?

Monday, 17 October 2016

hoor

ek lê op my bed 
gebuk oor my foon
ek whatsapp fotos van dinge 
in en om my pa se huis vir jou
ek begin huil
dit is die eerste keer wat ek die trane 
letterlik 
hoor 
val
op die laken

Sunday, 16 October 2016

swing

i weave the resonance of my voice
between my fingers
stringing the frequencies into
two strong chains
and my tongue bolted between 
as a steady seat
whereupon i sit and swing
myself into childlike abandon

***

ek vleg die resonans van my stem
tussen my vingers
ek ryg die frekwensies in
twee sterk kettings
met my tong vasgebout tussen-in
as 'n standvastige sitplek
waarop ek sit en
myself tot kinderlike oorgawe inswaai

Saturday, 15 October 2016

shimmer

...two lovers gliding
through the spring air
the shimmer of their joy
lighting their love-flecked faces

Friday, 14 October 2016

wens jy was hier*

so jy dink jy kan onderskei tussen hemel en hel?
tussen blou lug en pyn?
kan jy onderskei tussen 'n groen veld en 'n koue reling ?
tussen 'n glimlag en 'n sluier?
dink jy jy kan?

het hulle jou oortuig om jou helde vir spoke te verruil
warm as vir bome?
warm lug vir 'n koel briesie
koue gemak vir verandering?
het jy 'n bydra in deel van die oorlog verruil
vir 'n hoofrol in 'n hok?

hoe ek wens, hoe ek wens jy was hier
ons is net twee siele swemmend in 'n visbak
jaar na jaar,
drawwend oor dieselfde grond
wat het ons gevind?
dieselfde ou vrese
wens jy was hier

*vertaling van Pink Floyd se befaamde lied Wish you were here

Thursday, 13 October 2016

ek wil net sit tussen jou goed

ek wil net sit tussen jou goed
net sit en sit en sit
niks wegpak nie

dit is nou amper 3 maande na jou dood
en nogsteeds om te sê jou dood
wil net nie gemaklik op my tong lê nie

ek en ma sonja gaan die laaste week na jou huis 
om jou dinge te begin oppak
ons het begin met jou boeke

ek moes elke liewe boek oplig en deurblaai
om stukkies van jou vingers tussen die blaaie te kan indrink
jou kuns en botaniese boeke was die moeilikste - dies was jou gunsteling

en vandag het ons jou klere uitgepak
jirre ek moes elke stukkie teen my neus hou
om myself diep in jou reuk te kan invou

jy is nog so aanwesig in elke hoek
jou gees is nog so lewendig
hoe kan ek jou goed net so in bokse en swart sakke wegpak?

ek kan nie glo ek doen dit aan jou dinge nie
jou dinge wat jy met soveel intensie en 
kreatiwiteit georden het

gee my krag of 
maak my blind en gevoelloos
want niks het my voorberei op hierdie pynende verlange

Wednesday, 12 October 2016

klou

my metafoor 
wil klou aan 
die papier soos 
vlekke taai tee-koppie-ringe 

Tuesday, 11 October 2016

sympathetic

when i type the sentence 
my father's death on my phone
even the predictive text is 
hesitant to spell out death
only by the time i reach the t 
does it register the word
as if my phone too is sympathetic to
my trepidation for using the word

Monday, 10 October 2016

wou

Many stars are in heaven.
There are whole clans of people - 
men, women, and children - 
long since become stars
 - Stephen Watson - Return of the Moon: Versions of /Xam

jy wou ons nog een keer die Johannesburg stadsliggies wys
van bo-op jou huis se dak in Turffontein

ons wou jou nog treat by die Mojo restaurant by Zoolake
vir jou verjaarsdag brêkfis

ons wou jou nog vat op die stoomtrein deur die aalwyne 
van Creighton in Oos-Griekwaland

ek wou nog een keer sien hoe jy tussen al jou skilderye staan
en gloei soos jy vertel van 'n nuwe teken-tegniek

ek wou nog gemakliker en vertroud raak met jou 
om vir jou in die presiese woorde te sê
hoe lief ek jou het Louis

ek wou hê jy moes nog een keer in
'n lang warm bad klim om 
al die pyn, bitter en lewensmoegte weg te was

ek wou nog een keer hoor hoe jy sê
it is not what you say
it is that you say

daar is net te veel dinge wat ek nog met jou wil deel
ek sal dit maar met die sterre deel
want iewers vanuit die gewelf glo ek 
jy wink vir my

Sunday, 9 October 2016

oor die dood van my pa

woorde spaander deur my kop 
ek wil elke oomblik bymekaarkskraap
om hierdie ervaring in totaliteit te absorbeer
my selle gryp aan elke herinnering
vrese skaamtes spyte verwyte vreugdes
iewers moet ek begin om digterlike sin te maak

die dood is so oorweldigend -
die dood van louis my pa
die verlies is groot
die trane taai
die woorde verward

die finaliteit is finaal in die dood
geen hartklop
geen asem
geen kloppende sel
hartverskeurend om aanvanklik te laat gaan
want my hele lewe lank was hy daar
so lewendig en tasbaar daar

my kop moes sedertdien die pa-paradigma skuif 
sonder argument of filosofie
mens het nie kans om te klou aan 
die lewe wat nou net geblus is nie
die finaliteit kom en mens moet regstaan vir 
die ongesêde koebaai

Saturday, 8 October 2016

dood is eenvoudig

dood is eenvoudig
dit kom
glip in die are
knip die draad
en siedaar
lewe geblus

hoe kan die dood so eenvoudig wees?
hoekom aanvaar ons
dit so maklik?

ek weier om
sy stille, slinkse maniere
so doodluiters
te aanvaar

Thursday, 6 October 2016

nimmereindigende begeerte vir konneksie

vloei van lyne deur die brein
en oor die aardbol
konnekteer alles soos sinapse 
aanmekaar
lyne dik en dun
kort en lank
lyne van goud, grit, grond, 
wind, water, vuur,
yster, teer, 
draad, vesel, ink,
klank, siel, sintuig, 
asem, bloed
oral lyne 
sigbaar en onsigbaar
wat ons met 
die Groot Alles 
verbind

Wednesday, 5 October 2016

Ockie se Hokkie

meeste mense dink 'n lucky strike is diamante opdiep of die lotto wen
maar laat ek julle vandag vertel met my hand styf om my pen
van die lucky strike wat ek gestrike het en wat net hier duskant die Kouga lê
net die vertel daarvan laat my nou sommer meer daarvan wil hê

laat die tromme rol, terwyl ek aankondig met blydskap: dit is Ockie se Hokkie!
inderdaad, sowaar as vet, wrintiewaar, ek jokkie
dit is 'n huisie van hout regop en fier
daar waar die Kouga so draai maak met 'n swier

met Ockie se eige hande is hy getimmer en gebou
om in alle storms, vloede en siklone sy staan te hou
skaars 'n dekade terug het die reënwaters tot sy heupe opgedam
die aanhoor van hierdie Groot Vloed maak my bene sommer lam

al wat rym met Ockie se Hokkie is ek jokkie!

so laat ek julle vertel van die muskeljaatkat wat daar toweragtig in 'n luiperd transformeer
dit is nie wegholverbeelding nie, ek sweer!
en kyk, net daar om die rivier se naaste draai
skinnydip 'n ouma met jubelende gejuig en tieties en arms wat onbegrensd alom swaai

ooo en wat van die jerepicho wat so bo-baas skitter en proe na meer
nog nooit het ons so witwyntjie so vinnig in kele sien afglip
en wat van die paptert waarin ons tonge al kwylend indip?
ja jong, die jollifikasie ken geen keer!

ons sal maar stilbly oor die vis
die vuur het te gou sy moisture geblus
en Meneer Veearts wat in die aand so snork en brul
en elke hoekie in die Hokkie uit sy slaap uit kul - 
oor die snorkery sal ons maar nie verder skinder
dit mag dalk toekomstige besoekers verhinder

nietemin, meeste mense dink 'n lucky strike is diamante opdiep of die lotto wen
maar laat ek julle vandag vertel met my hand styf om my pen
van die lucky strike wat ek gestrike het en wat net hier duskant die Kouga lê
net die vertel daarvan laat my nou sommer meer daarvan wil hê

al wat ek nou oor het om te vra:
jinne Ockie, hoe het jy dit reggekry
dat jou se Hokkie ons harte so verbly?


Monday, 3 October 2016

my dye wil ook bydra tot die skryf van die poësie

photographer: Daniele Debellis
calligrapher: Andrew van der Merwe


ek moet weer poësie in my lyf kry
my ledemate moet leer om weer die letters te skryf
hierdie gelê-ery en gesittery terwyl ek die digkuns skryf
moet ‘n einde kry

dit is die probleem:
my hand neem die oorhand in die skryf van die poësie
my rug, my borskas    ,
my skouers, my wange, 
my tone, my enkels en
my dye wil ook bydra tot
die skryf van die poësie

die hand mag deel hê aan die poësie
mits hy nie die pen gryp om die woorde vas te pen nie
die hand moet eerder lemoene pluk
en in stukke breek en op die tong plaas
sodat die poësie vanuit elke oranje sel
tussen die tande kan ontplof

poësie is nie gelyk aan die skrywershand nie
dit moet meer as dit wees
hierdie kort lyn tussen kop, hand en papier
is net te onavontuurlustig

laat die lyn afdwaal na die kniekoppe
en hulle maak skarnier in klinknael sillabes
draai af na die voetsole wat klim na bergpieke
en poësie onder die hoogste klippe uitgrawe
laat die lyn dan omwentel na die dye
wat met uitbundige krag
die ritmika van die digterlike dans inkleur

ek vra mooi: moenie net jou hand waag aan poësie
waag jou hele lyf daaraan

Saturday, 1 October 2016

nuwe stem / new voice

photographer: Daniele Debellis
calligrapher: Andrew van der Merwe
nuwe stem

met die vibrasie van hierdie nuwe stem
begolf ek die kuswande 
van die gevestigde digterslande
en slyp ek skerp die snykant van my tonglem

met die sinsasie van tong teen tand
ril die rugstring van my verhemelte tot in die verstand
val ek halsoorkop oor elke sinsnede 
vermallend opsoek na woordelike rede

totdat die kern van my senuwees versinsualiseer 
en geen tongval my sal keer
dat wanneer my stem gaan opstaan
my liggaam en siel agterna sal gaan

new voice

with the vibration of this new voice
i push the waves over the coastlines 
of the established lands of the poets
and sharply whet i the cutting edge of my tongue

with the sensation of tongue against teeth
trembles the spine of my palate right into my mind
i tumble head over heels over every phrase
madly in search of verbal sense

till the core of my nerves sensualize
and no tongue-fall will stop me
so that when my voice will rise
my body and soul will follow

Thursday, 29 September 2016

waxing lyrical

one refrain that will keep on singing from my heart
is the unnamed joy in the sensation of confident happiness
it is closely linked to a texture of life
a smell
a fully fledged nostril sensification of this awesome reality
it is in moments like these that immortality licks the throat
one can envision foreverness in the pursuit of all things beautiful
and heart-poundingly rich
i will not lie down when this effervescence sits so
close to my throat
it makes me rise in a lightness wanting to explore all 
the corners of the sky
let alone all the corners of the earth
i will make a study of all the twist and turns of metaphors
and search for an elegance of word contours that flank
the mountains deep into the heart of adventurous verbaciousness
it will be a sight to behold!

the refrain keeps on ringing in my soul
let me cling onto the faith of words
insatiably intertwined in my veins and fibres
let me never rest from this pursuit

it is in the harmonies of words that i will find resonance that
will keep the bells ringing mellifluously
into the honeycombs of my cells

let me not stop with the weaving
somewhere a combination of thread and texture 
will reveal a beautiful line of my own making
what more enriching thing is there?

once again hear the refrain in my heart
it is going to be a beautiful day in the sky
golden lines serpentining around clouds
spelling their own poetry
in their own unbounded rhythm

Monday, 26 September 2016

omring *

ek klim die heuwel agter ons huis uit
‘n kille wintersoggend in lidgetton, die midlands van kwazulu-natal
'n wilde wind terg my ywerige kuite en enkels
met jagende asems kom ek bo
ek kyk uit vir die plaat klippe 
waarop ek my gedigte gaan voordra

skielik breek twee rietbokke die stilte
en snel pylend oor die vlaktes
al agter hulle ratse pote slaan 
donker koolstof op uit die gebrande gras
met ‘n goeie afstand tussen ons 
gaan staan hulle stil en kyk my stip aan
hulle vertrou nie die vrede nie
en deins vlugtig uit my sig

ek vind my verhoog van klippe
en begin my gedigte een na die ander opsê
ek herhaal oor en oor die lyne van my gunsteling vers
hoe dig ‘n mens vanuit die denklose plek
daar waar dit net suiwer, spontane metafoor is
wat roekeloos uit die keelgat lek
en in filigraan lettergrepe
stalaktities in oorbuise drup?

ek voel aan dat iemand na my luister
ek kyk gedurig om my heen
dit is net gras, wind en heuwels 
ek is nie alleen
ek voel die land se bloed,  vesels,
kleure, liedere,
tonge en velle
voor my opdoem
daar is stemme in die wind
ek wil glo dat die asems van
my voorvadergeeste
my omring
en uitbundig my keelklanke toejuig

*Gepubliseer in die Sol Plaatje European Union Poetry Anthology, volume VI, 2016

Thursday, 8 September 2016

die suising van my taal die suiwerste troos

          vir pa Louis, in jou laaste dae

twee aande voor jou dood 
pen ek woorde neer as anker 
om jou laaste paar lydingsdae
iewers in my hart vashouplek te gee
jy sê op jou Louis-manier que sera sera
whatever will be will be
the future's not ours to see
die histrionika in jou stem troebel van weltschmerz

deur poorte woorde 
sidder my verbeelding in die verdoemenis 
van jou pyn en swaarkry 
ek wonder hoe gaan ek 
uit hierdie aftakeling 
digterlike sin kan put?

met moeite skribbel ek lukraak woorde
die papier begin lyk na 'n filigraan-net 
waarmee ek hierdie vlietende dae sal moet vasvang

ek maak my oë toe en sien 
ligvlekke deur digte woude breek
ek smeek dat johannesburg se stadsliggies
soos stukke sonne my sinapse sal opwakker met hoop
ek pluk elke lig soos lemoene
en gaar dit op in my arms vir die dae 
wat ek die sonnige soet gaan nodig kry

my brein stotter aan die sillabes wat glibberig bly
soos ek probeer vastrapplek kry in 
die hartskeurende oomblikke waar ons jou begin verloor

ek skryf woorde neer soos 
marionet-meester
besnaar
die ink-swart sterre 
teen 
'n sanikende hemelruim

beier en bulder
die parmantige skoppensboer
wat my hart se digte hartseer so brutaal wil vertaal

ek smag na troos
en verbeel my kaalvoete in modder
ek inkanteer die woorde 
wat herhaaldelik in my kop skyn
tierlantyntjies en kapok
sodat iewers in die donker 
'n sagte lig deur sal breek

                  26 julie 2016

Wednesday, 7 September 2016

water...

you are the fill
of my hands
that
overflows
with the delight of
you
on my tongue
and makes
the tremor
on my
skin
cause
the spin
in my head
to make
the celebration
of my
throat
break open
with
abandon

Tuesday, 6 September 2016

spark / vonk

for clarinetist, Morné van Heerden

and in the beginning was the spark
and the spark became breath
and breath became sound
and sound became throat
and throat became pipe
and pipe became finger
and finger became man
and man became dance
and dance became man
and man became finger
and finger became pipe
and pipe became throat
and throat became sound
and sound became breath
and breath became spark

aan die begin was die vonk
en die vonk het asem geword
en die asem word klank
en die klank word keel
en die keel word pyp
en die die pyp word vinger
en die vinger word mens
en die mens word dans
en die dans word mens
en die mens word vinger
en die vinger word pyp
en die pyp word keel
en die keel word klank
en die klank word asem 
en die asem word vonk

Monday, 22 August 2016

ongegrendelde danse

uit hierdie wilde dans steier ek
die roekelose energie
nog taai om my kuite
spin ek uitbundig in sirkels met
die onstuitbare pols wat fakkels deur my are pomp
dit kan net vrugbare klank wees
wat so lewendig in my binnenste kom sit

met ‘n indringerige ritmika
jaag die koors van die wil deur die klank-tonnels
en hervorm my voete tot
primitiewe passies dans

styfgespande spiere tril ritualisties
soos die ongegrendelde danse oor die vlaktes skud
waaragtig! hierdie vasgevange energie ken geen gelyke
die dans praat in een taal
wat alle lywe kan verstaan sonder serebraliteit 
as jy ‘n paar druppels van ware vryheid wil proe
sprei jou lyf oop in Die Dans


unbridled dancing

from this wild dance i stumble
the reckless energy
still clinging to my calves
i spin unguardedly in circles with
the irrepressible pulse that pumps firelight through my veins
it can only be fertile sound
that comes and sits so alive in my guts

with an insistent rhythmica
the fever of the will comes charging through the tunnels of sound
and reforms my feet into
primitive pulsations of dance

tautly strung muscles tremble ritualistically
as the unbridled dancing quakes over the plains
yes, indeed! this captured energy knows no equal
the dance speaks in one language
that all bodies can fathom without cerebrality
if you want to taste a few drops of true freedom
spread your body open into The Dance