Tuesday, 15 July 2014

in ons spore skyn die volheid

Die volgende gedig is geskryf ter nagedagtenis van 'n wonderlike ervaring om vir 'n derde keer die befaamde Otter-wandelroete te stap langs die Tsitsikamma kus in die Suid-Kaap.

in ons spore skyn die volheid

opgedra aan my mede-Otter-stappers

in ons spore skyn die volheid
van die glinster maan
daar is ‘n onverskrokke lus vasgevang in
die ritme van die klim
op en af
en
dan weer
ah
op 
en 
af
styg ons sydelings en
direk van voor die hellings uit
of dit nou ysige winde is wat
dreig om ons van ons voete te gooi
of die see wat heeltemal te vroeg
met 'n diep riviermond rendezvous hou
sal ons aanhou bly loop en klim
en kruip as dit moet

die seerotse is taai onder die klouende vingers
die sand kners ons tussen die tone en tande
maar glimlag ons diep
want die suur knoffel-reuk van die fynbos
maak ons hoog
my vingers gly oor fluweel proteas
en verbeel hoe die pelgrims van vervloë dae moes voel
met soveel getye, woude en wild wat al om
die enkels gluur

dit is stip-oog hinkepink oor klipstrande
behoud van balans grasie en humor
word gedryg en gedryf deur trillende spiere
mag die voetpad oor sand, klip en krans
ons nie laat wankel

dankie Otter vir die droomspore wat ons loop
oor wondersigte van oseaan en krans en woud!

die holte van my mond ril
soos dolfyne en walvisse
       stil-stil kerf deur die kolos water
kom lê die suisende inkantasies diep binne my keel
laat dit resoneer met herinneringe wat
blink met silwer skuim en glinster-golwe
wat diep in poele vasgevang word en
soos die getye
met die aantreklikheid van
die maan
orent
staan

dis die hart wat diep murmuleer oor die kameraderie wat
ons leer om in gelid en harmonie te loop
saam saam
jaag
  die
    asem
      en
        brand
          die
            bene
              met
                die
                    op
                      en
                 klinknael
             die
         knieë
    met
 die
af

nou sit ek ver daarvandaan
in ‘n stralekrans van seesout suurbos en koel-mistigheid
soos wat ek terugdink aan 
die bene wat vlieg oor die heide-plato’s
en ons geen einde ken aan
die vreugde wat vuur en feesvier in ons ledemate
soos          wat             ons                   die                                          vertes
met                         elke                      tree   nader bring

No comments:

Post a Comment