Monday, 2 December 2024

eerste gedig vir jou

my oogwimpers wil
jou sternum ontsetel

my wangbene wil 
jou heupbene ontsluit

my vingerpunte wil 
lofliedere oor jou onweerstaanbare glimlag openbaar

my tong wil 
die chiaruscuro in jou siel oplek

my verhemelte slaan uit in hoendervleis
soos jou stembande deur my murg vibreer

my ondeunde tande wil 
jou kniekoppe soet en sappig verbrysel

my soele lang inasem wil 
jou hele rugstring insuig

my basuinende uitasem wil 
al ons ordentlikheid skaamtes versigtigheid en makheid
uit hierdie wentelbaan verwilder

my elmboë wil 
in jou dye insmelt

my nek wil 
diep binne jou murg nesskop

my kop wil 
verdrink in jou ribbekas

my hart sit ek teen jou ore
sodat jy wild en wakker die koorsagtige klop kan hoor

my borste druk in braille
die hartstog teen jou ruggraat in

my hande wil 
die blom van jou lyf oopspiraal

7 sept 2024

Saturday, 30 November 2024

alles pas perfek

sikloniesritmiesdawerend breek 
die begeerte en ongekarteerde erotika
en lei die vlees na die geestelike
die metrum word maatloos
so polsend lewendig
ek voel 'n ongeëweneraade gevoel
wat die woorde ek het jou lief
ver oortref

ek prewel gedigte teen die mure
teen die deure
op met die plafon
uit die vensters
diep in die rumoerige vere van die matras
alles is so helder
so gedelinieerd omlyn
passie só helder vlammend
het ek nog nie ervaar nie
'n passie wat perfek tussen die lywe oopbreek
geen stuwing of wrywing of ongemak
geen struweling of teenstand of weerstand
passie so perfek en vaartbelyn gevorm
in en om die genitalia en ledemate
om alle bewegende begerende begeerlike dele
in perfekte gewig en balans
teen mekaar te laat uitswel en uitrys

na my triomf van 'n konsert het jy gekom
om by my te kom inkruip
om my binnenste en buitenste diep te vertroetel,
ek soek nie na die pieke vanaand
- te veel verrukking vervulling en verligting vir een aand -
loop net oor die kontoere van my flanke
heen en weer in en uit
jy toor my met jou sikloon
en maak my ore intuimel
erotiese inploffing
die tonnels in my lyf het nog nie hierdie vlak
van uitdelwing ervaar
ek voel soos 'n gietsel wat deur
die vuur van mortaliteit
vernedering skaamte vrees
ongeduld frustrasie
verwarring aftakeling
gelouter is
en vandag vir die eerste keer uit
die keramiek-dop breek
jare se weerstand en opstand
in die erotiese vermengsels
oplos en wegsmelt

lê jy nou so self-versekerd en tydloos
soos 'n berg, die see, 'n klip
so gemaklik in hierdie naby-wees

O, Vuur-Lam
pêrel jou sweet onder my vingers
ek staan verbyster oor hoe jy die velde van
my begeerte meet en navigeer
nie net jou lyf
maar jou siel straal van die eros
wat perfek binne my eros inkolk

Tuesday, 26 November 2024

vir breyten

die leemte wat jy los
breek die hart
soos 'n swael-seisoen
wat nooit
ooit
weer sy draai
oor die   a  a  r  d  b  o  l
gaan gooi nie

Thursday, 21 November 2024

jy is onvervangbaar

jy is onvervangbaar
weet dit helder soos 'n vlam in die murg
dit wat jy  weet van my lyf en hart en wilskrag 
en weerloosheid en verwardheid en verlorenheid
en aftakeling en verwyt en spyt

al die harmonieë kras en swewend deur my vingers - 
hoeveel daarvan het jy al gehoor
dit kan ek nie wegvat!
dit sal nooit kan oplos tot in die niet
die volheid van jou menswees
die groot hart in jou borskas
die liefde in jou arms
die berge aan jou voete
die groen tuine wiegend aan jou vingerpunte
dit is onvervangbaar
jy is nog absoluut JY in my hart
geen plaasvervanger
weet dat ek nooit 'n surrogaat vir jou soek nie

my hart sing en skree soos la llorona op my fiets vanoggend
my keel het die bloekoms gevel
al wat bly staan het is my hart wat uitsing na jou
die water en voeding wat jy deur my lewe gepomp het
stroom nogsteeds deur my are
daai lewe wat jy ingeasem het binne my
leef nogsteeds
dit sal bly syfer deur die rivierbeddings van my dae!

Thursday, 14 November 2024

moenie jaloers wees

Berge - moenie jaloers wees op
hoe hoog die pieke van my liefde
my laat uitstyg nie!


Oseane - moenie jaloers wees op
die grootsheid van die golwe wat
hy deur my gety nie!


Bome, my liewe Bome - moenie jaloers wees op
hoe diep en vinnig hierdie liefde
my menswees vasankering en behoort gebring het nie


O Engele - moenie jaloers wees op
mý vlerke -
julle sal nog leer hoe om 
só verruklik 
vér en 
hóóg te vlieg

Wednesday, 13 November 2024

ek staan verstom hoe alles om my blom

jy's 'n wonderwerk tussen my bene
'n sagte gety wat hoër en hoër
in my opstoot
elke deel van my spruit vaginas
om elke polsende sel van jou
in te suig
elke holte van my ontvang jou met eerbied
ek buig voor jou vrygewigheid
jou nabyheid
ek rol myself uit en oop 
soos honderdduisend roosblare oor die gryse aarde
wilde aromas breek los onder die son van jou soene
my verhemelte vat vlam
my slape sidder van die 
sielskudding wat jy in my ontketen 
ek het in superwoman verander
vandat jy my met jou soene, jou hande, jou towerblom
aangeraak het
is niks onmoontlik, te ver, te moeilik, te veel
my tyd, my energie, my gedigte het vertiendubbel
juigliedere stap langs my flanke
ek staan verstom 
hoe alles om my blom

Poem, you shall be written down!

Poem, you shall be written down!
no squirming or sidestepping, 
ducking or diving,
darting or dodging allowed

the paper will look well after you
you will be nourished by our eyes and hearts
your roots will thrive
your branches will reach for his eyes
and your leaves will pulse
my love straight into his heart

The Lovers know

The Lovers know how to dance without limbs
With one look they turn each other’s eyes
Into galaxies of overripe plums
Their organs throb like underground springs
They do not breathe like you and me
They suck and spit air greedily as
If their lungs will expire by the stroke of twelve tonight
They can’t tell horizontal from vertical
They jump out of high storied windows
Trusting earth will vault them to the stars
The Lovers know they are blind
But they choose not to see
Because they can féél
The Lovers know the way is unclear, at times dark
That is why you see them walking with their arms stretched out
Feeling their way around
Bumping their shins and heads -
The pain tells them the glorious truth that
They are alive and in lóve

Monday, 11 November 2024

my gedigte is emmers

my gedigte is emmers
dit vloed hier by my hart uit
oral sit ek emmers om my heen
dis nie wát ek met die vloed gaan verloor nie
dis dat die vloed kan ophou

darem het ek emmers
wat die bewyse sal opvang

Thursday, 7 November 2024

The lover's heart knows

the lover's heart knows
the lover's eyes know
the lover's lips know
the lover's arms know
The lover just knows
crystalised instinct
percolated drops of ecstasy
leak from her temples

Sunday, 27 October 2024

terugkeer

hierdie atmosfeer tussen my en 
die papier en die digterlike draad - 
so sag, so intiem, so privaat
wanneer die wêreld en die twyfelinge
vergete lê 
is net hierdie
klein glimmerende sirkelgang
die werklikheid 

hierdie terugkeer na papier
hierdie vertroue in die potlood

o ritme van dig, jy oortref
die beste van ritmes
die gu-bu, gu-bu van my hartpols
word versterk deur die digkuns
wat verhelderend deur my are pomp
o, poësie, jy politoer my ore
jy skaaf my vingerpunte
jy verskerp my tong
jy laat my pupille klein trek
met jou verblindende lig
my neusflanke waaier met jou ontembare reuk
my papier en sintuie tuit 
in 
die 
gretige 
afvoerpyp 
van 
die 
tregter
sekuur gefokus dat 
geen druppel van jou 
ontsnap!

30 maart

die gedagte aan jou

die gedagte aan jou

stoot soos 'n wilde springgety 

deur my borskas

breek my ribbes in splinters


vandat die fontein van jou mond 

die tuin van my mond natlei

blom my tong in honderd hibiskusse


Thursday, 24 October 2024

ek is nie jammer

die lewenskreun is onverskrokke
al is ons hoe kwesbaar

die kontrapunt in my lewensfuga
soek alewig na die ontwykende voltooide kadens

die onrus bly
smeul in die smeltkroes

die primordiale gil bly
diep-versonke in my ongekarteerde hart

die heilspellende soeke
hou nie op om binne my borskas te vibreer

die trillings laat my speeksel
in my kieste opdam

die begeerte vir glorieryke seges
bly die bloed wild en wakker uitpêrel soos kwiksilwer

ek is nie jammer dat ek voel begeer en reageer nie
hierdie gedig kan my hart genadeloos vir die wêreld oopspalk

Sunday, 29 September 2024

no one knows

where do all the fragments of moods go?
last week i blamed the moon
the week before that my shedding womb
this week the warm berg winds unexpectedly melting
our hibernating hearts
the blood and bones collide
no one knows which direction to go
out of joint
the widening gyre 
the people can not hear the poets
the poets do not hear themselves
the sky crumbles
the anchor dissolves
the heart sinks

still 
the soul 
keeps 
rising

may 2024

Wednesday, 18 September 2024

klou

 verbete klou ek 

styf vas

aan 

die steierwerk

van

jou soene

Sunday, 8 September 2024

hoekom kom jy nie nader nie?

my spiere is in die pad
die stopstrate is in die pad
my ribbekas is in die pad
die definisies is in die pad
my oë is in die pad
die ratstok is in die pad
my hart is in die pad
die geheue is in die pad
my self-beeld is in die pad
die woorde is in die pad
my weersin in teleurstelling is in die pad
die voorouers is in die pad
my verbeelding is in die pad
die begeerte is in die pad

Friday, 9 August 2024

Lied van die vroue

      Vir my mede-musici, Rea & Bea
      Voorgedra tydens konsert vir stem, viool en klavier op Vroue-dag
      9 Augustus

ons bly loop op die aarde
al is die elemente ongenaakbaar
hoe hulle die vel verteer
ons pols bly diep en sterk
ons wilskrag is onverskrokke
in die stryd teen die skaamte
teen die vrees
teen die vlees
en
teen die donker

die pols van ons voete
gee die aarde rede om te glimlag
ons blaas ons asems oor die pieke van berge
en raak net-net aan die bevryding wat
die kleur van ons bloed elke dag beloof

ons koppe dans oor die duiselige afgrond van die uitdagings
maar ons weet van vasbyt en deurdruk
dit is die hoop en droom van die vrou wat
die gemoed laat bly uitstyg

aha die kuns is waaragtig om
die liefde
die lig
die lag
en die liggaam
met oorgawe te vertrou
dit sal ons vroueskap versterk en
die sterre sal deur ons selle breek

ons moet bly sing in ons wakker en in ons slaap
die smagting sal bedaar
en ons oë sal vanself na die son toe draai
ons stemme sal oprys deur die stilte én die geraas
en almal sal ons hoor!

beskuldig ons van selfvertroue
ons gee nie om
gooi die klokke weg
want ons tonge is die nuwe sekondewysers
pak weg die woordeboeke
want ons hande is aangestel as die nuwe vertalers

dit is nou die tyd om te vlieg
verder en meer volhoubaar as die mees manjifieke voëls
dit is nou die tyd vir vryheid en vrede
wat deur alle vroulikheid sal vuur
ons sal uiteindelik ons waarde op
die kruine van golwe sien feesvier!

Tuesday, 6 August 2024

Thursday, 1 August 2024

no time

no time to write poetry

no time to get depressed

no time to die


die fokn relentlessness
van survival

Saturday, 27 April 2024

kuns van die kleine

elke dag word my hande hergebore

met die saad van 'n oneindige veld

van gebare


*


die kuns van die kleine

is die strewe werd:

een klein tree

is die begin van

die duisend-myl pelgrimstog


*


hier met die woorde

so digby my

voel ek so tuis en geanker

deel van genesing lê 

in taal


*


speel spel

spul spaander

spat spalk

spoel spoeg

spuit sprei

sproei spog 

spruit

die woordspieëlings    


*


drup-drup die dig-druppels


watter grond 

gaan hulle natlei 

vandag?


*


uit die traankliere van die druppelinge


 - motreën - 


die stil ekstase van 

seëninge


Friday, 16 February 2024

stukkies

wanneer ek jou sien
blom my oë artisjokke

*

ek skree onder die water
die name van
my ongebore gedigte

*

drome bloei 
soos shweshwe mandalas 
uit haar slape

*

die bome skud 
hulle koppe vir die wind

*

die gedig karteer haarself 
oor die lengtegraad 
van die ritme
en die breedtegraad 
van die rym

*

die tande byt die naels 
die lyf soek alewig vasbytplek
in hierdie wankelrige bestaan


Wednesday, 14 February 2024

streel en dekodeer

streel die papier
tot in die hart van die hoendervleis
al is dit al wat my potlood vanaand doen

*

watter elegante aksie is skryf
fyn aanmekaarwewing van woorde
om die draadwerk van die hart
te dekodeer

Wednesday, 31 January 2024

talisman

poetry won't make things better
but it makes things feel better
even if only in this moment

poetry doesn't take away the moods
it definitely doesn't unsay the said things
or unsees the hard looks
it is a bit of a panacea
a lovely soft ball of cotton wool
easing the wound and sheltering it from sight
i do not write this poem to undo anything
maybe to unknot something
 - a tightness
     -  a forgetfulness
 - a mindless habit

maybe my poem is simply a talisman
to tie around my wrist
to sing into my veins
to call the rhythm and beauty
back after the fall

for now lie a little bit
gently stroke the wounds
whisper that i forgive myself
patterns go deep
it is okay to fall into
the same trap many twices thrices over
and over and over

nature is instinct
and habit-forming
but come here to this poem
forget about the habits
 - good or bad - 
writing is a wave that shapes over time
it can not become pernicious
or malicious
there are much too many
pauses and daydreaming 
and blinking and erasing 
and rephrasing in writing for it 
to become an ill intention
a spiteful business
or
a bad habit

write for goodness' sake!
it is one way
to keep myself from falling
if it is not myself i shall keep upright
then let it be my pencil!

Saturday, 27 January 2024

ek kies

ek opt nie vir laptop- of foonskerm vanaand
ek kies die reghoekige oppervlak van my skryfboek
geen glurende lig wat my psige en aandag  
in duisend stukke opkerf nie
geen kranksinnige duim
wat breindood tot in die doldrums van bestaan
a
f
s
c
r
o
l
l
nie
geen stywe voorkopfrons 
wat vol inspanning probeer kophou
met al die senutergende stimuli en
    uitspattighede 
  en klaekouse    
          en afshowers

dit is net ek en my potlood
en my 192 bladsy A5 skryfboek
waar dagdroom, planne-beraam,
verbeelding, dankbaarheid,
openhartigheid
en
saligheid uitkrul

nuwe gewoonte vir 2024:
gryp nie die skerm - 
gryp die magtige 
POTLOOD!

Thursday, 25 January 2024

stunt-double longe

ek probeer om te skryf terwyl 
ek deur die slym moet asemhaal
dit voel asof al die digkuns
wat dalk kon asemhaal
verpletter word deur
hierdie onfatsoenlike gehoesery

ek voel soos 'n sub-mens
ek haal nie deur longe asem
ek haal asem deur 'n roggelende ondergrond
van swerende slymtonnels
ek loop so verstar en verskrik
in hierdie wêreld
my nek-, rib- en laerugspiere
word so gelouter
hulle het geen benul wat 
pynloosheid en ontspanning beteken nie

ek ploeg deur hierdie donker mensgrond
my gemoed verstar in 
hierdie meedoënlose aftakeling

die roggelende slym-slierte 
is soos tralies waaragter
haar lewe gesluit is
sy het gehoop dat haar beste geweer teen verweer
haar asem sal wees
maar meer en meer
is haar longe oortrek met
kraak-roggel-verstikkende slym
hoe leef 'n mens wanneer
jou asem gyselaar gehou word?

hierdie skryfboekie sal moet instaan vir my longe
my nuwe lewenslyn waardeur
ek my verlangende digtersasem sal blaas
-  my stunt-double longe

kom my digkuns, wees my asem!

Wednesday, 6 December 2023

straal

wees elegant in my rouheid
wees opreg in my wildheid
wees tevrede met my talent
en staan nooit terug vir die moontlikhede wat
uit my porieë kan straal

Tuesday, 5 December 2023

laat ons onthou

ons het geen verskoning
die nuwe kleur van elke dag
borduur haarself in die vlae van ons lewens
laat ons onthou om te juig met
ons wapperende kleure wat
tuimel
uit
ons monde
en arms

Monday, 4 December 2023

klein en groot

my kleinlywige bestaan op
hierdie groot aarde!

my groothartige gemoed in
hierdie kleinlywige lewe!

Sunday, 3 December 2023

soos ‘n nartjie

ek wil 'n gedig skryf
wat so maklik skil soos 'n nartjie
'n rympie wat gemaklik en tuis
in die mond lê soos die glimlaggende lyfie
van 'n nartjieskyfie
'n vers wat glimmer soos die sitrus-barnsteen
in die son van jou oë

Saturday, 2 December 2023

sonleser en blare-digter

die son van jou oë
straal deur my gedig
die verse fotosinteer en golf
suurstof na jou longe

die gawe is wedersyds:
sonleser
en
blare-digter

dit is al wat ons vandag benodig:
son en gedigte