Wednesday, 29 September 2021

jy vra wat is my geloof

my geloof is my dissipline wat 
my sielkunde my talent
my lyf my kop 
ondersteun versterk en onderhou

my geloof is my lyf
my tong
my slaap
my vingers
my dans
my musiek
die wêreld se musiek
my digkuns
die wêreld se digkuns

my geloof is my oë
my estetika
my ritme
my kindness
ander se kindness
my lus
my lewenslus
my energie
my vonk
my nuuskierigheid
my ervaring
my herinneringe
my onskuld

my geloof is die natuur en die elemente wat
my lyf bly aantrek om lewendig
en uitbundig te oorleef

Tuesday, 28 September 2021

Stanford haiku

die gaap skuif uit die lyf
bene buig neer in moegte
more-son loer in


koue Stanford lug
voete draf oor die nat gras
harte klop vinnig


blou pen in die hand
blou rivier oor die papier
skadu steel die lig


duiwe en kinders
keelklanke roer die blou lug
my keel bly toe


klein dorpie stilte
kar jaag verby die vrede
my oë volg sy stof


poppie in my hand
die duim kry groot gly-plesier
my gemoed-salfie


ek haal diep asem
met polsende lugpype
vul die longkamers


pendoppie in mond
lippe dink wat om te skryf
spoeg skyn in die son


kussing sus die oor
hare tuimel in vryheid
die gesig gee oor

Monday, 27 September 2021

Ontmoeting tussen foto en gedig



die seisoene
skil
die dae
kalm
een vir
een
van die rame
van
vensters


diep in
die binnenste ruimte
van die hart
trek die uitmergeling
die ootmoed
die verleentheid
die spyt
die weemoed
die verlange

vlak op
die buitenste ruim
van die vel
bly
die
son
skyn


sy regopstaan
in stukke
opgekap


mannekyn

waaragtig nie ‘n harlekyn of vrouekyn
maar inder-woord
‘n mannekyn!

wil die man-heid 
selfs op bloed-en-koplose pop
sy stempel plak!? 


uit gritserigheid
word die
vertederende
vreedsaamheid
van slaap 
gegiet

***
fotos geneem op die Goodwin plaas, Lidgetton, Midlands van KwaZulu-Natal

Sunday, 26 September 2021

niks is dringend

as jy besef 
niks is waarlik dringend
dan het jy vrede gevind

alles gebeur in hulle eie goeie tyd
wanneer jy die intuitiewe tydsberekening vertrou
dan begin die klok volgens
die wyser van jou hart te loop

niks 
is 
dringend

alles val 
vanself
in plek

Saturday, 25 September 2021

daar is jou asem

      vir Kim

ek voel jou asem dartel
uit die gleuwe tussen my klavier se 
swart en wit klawers
soos vlerke fladder jou asem
tussendeur my vingers
selfs deur die stadigste melodie
daar is jou asem
gereed om nes te maak in
die oopgestrekte webbe van my vingers

ek buig af totdat my neus amper
die klawers raak
ek laat jou koel asem
my op my lippe kielie
ek rus my kop teen die klavier se deksel
ek glimlag groot
want ek het nou net jou 
hele asem deur my mond ingesuig
nou is ek reg om Granados te speel

***

Kim's answer:

I will change my peachy colour
To black and white
Mould my rounded form
To hard rectangular keys
Turn my gut into a wooden chamber
My bones and sinews
Will become a metal frame and fine steel strings…
And when your fingers play me
Rhythm of my heart
Resounding in my mind,
I believe I will know your very soul
And for a time
We will be one.

Friday, 24 September 2021

hoekom so onmooi?!

hoekom is so baie digkuns so obskuur
so onverstaanbaar
so onpylbaar 
so woordeliks
so kultureel-verwysend
so mite-deurdrenk
so metafories-insinkend
en net plein onmooi?!

lesers het tog oë
lesers het tog harte
skryf dat hulle sal naderkom
skryf dat hulle hulle warm hande oor hulle oë sal vou
en die ware bewondering
van die digkuns deur hulle ooglede sal voel brand
geen leerskool of akademie
het die resep vir die digterstaal
kultuur hou nie al die sleutels van 
die digterslewe nie


Tuesday, 21 September 2021

ware stroping van onnodighede

bly griffel in die ritmiek van die letters
kry my vredigheid in my kreatiwiteit
sif deur die cover-ups
die twyfelagtighede
die onbetroubaarhede
die sussing
die luiheid
die geraas
die informasie
die vergelykings
die verskonings 
die gewoontes
skryf dit alles weg
breek deur die skanse na
die digterlike lug
laat my hele lyf sink in die diep kern van die woord
'n ware stroping van onnodighede
om reguit by die digterlike punt uit te kom
my kop draai al 
om die soete dronke herinneringe van
vrye vreugdes en nuwe ontdekkinge
ek het so 'n opgewonde hart wat meer en meer bly-wees wil ken
as my hart hierdie een papier is 
wat sal ek daarop skryf vir mense om te lees?

Friday, 17 September 2021

nog mens nog vlam

ek sien die mense wie verby my loop
en bewonder elkeen se hier-wees

hulle het glip gly stik crash bang
val huil vuur virus 
water mes gif van die aanvallende lewe oorleef
om hier te staan

nog mens
nog vlam

Thursday, 16 September 2021

teen die inhokking

deesdae voel ek so kloustrofobies 
met 'n boek of foon voor my oë
ja, die twee dinge sluit wêrelde oop
maar as ek net begin dink aan die fisiese spasie
wat 'n foon en 'n boek inneem 
- so min, so klein -
ironies hoe sulke klein objekte 
 - wat ek sonder sweet of moeite
tussen my vingers fliek -
my sig en brein so kan kolonialiseer
ek wil dan
 - sonder doekies omdraai of fokken beskaafde eufemismes gebruik - 
KOTS!
dis waarlik 'n fisiese reaksie
tussen my oë, kop en maag

gee my die oop, uitspanselende landskap
die stuwende lewendige oseaan
die wonder perkeloosheid van my verbeelding
dit alles is medisyne teen die inhokking
die inhegtenisneming van my oë

Tuesday, 14 September 2021

maar die honger bly

ons sit almal vasgenael aan
ons fone
bukkend-desperaat opsoek na
die antwoord

honger vir heling 
vir samestemming
'n bevestiging
'n vonk
'n deurbraak
wêreldvrede
hongersnoodverligting

maar die honger bly
honger

honger

    honger

Wednesday, 8 September 2021

one breath

with one breath
i blow the universe from my mouth
i step on the accelerator of my tongue
rev so that the smoke peels from my ears!

haiku

ek skryf die vrees weg
in sewentien sillabes
haal ek weer asem


die see roep my hart
hy wil met haar speel vanaand
see, kom toor haar weg


wolmus op my kop
lê ek by die oop venster
wil die see insluk


blindelings skryf ek
tas met lompe vingers rond
wat vra die haiku?


ek gryp die pen styf
huiwer nie hierdie keer nie
die digkuns sal rys


die see ken ritme
die see is vol self-vertroue
laat ek in haar klim


sewentien polsslae
drup van my honger tong af
 - toe, lek vinnig op!


ek maak my oë toe
gedig rus op my gesig
voel die verse toor


pamperlang my tong
dan sal die woorde kom
bederf my dig-klier


kortpad na die hart
is die diep asem van rus:
die tevredenheid

Wednesday, 25 August 2021

'n hard-op gedagte

ek kan myself indink binne
die lyf van klip
maar kan klip homself indink binne
die lyf van Lara?

Tuesday, 24 August 2021

die lag

buite die grense van my kop
verby die bastion van my skedel
ander kant die filter van my vel
is 'n sosio-medies-politiese wêreld   
met so baie verbeeldingsryke kaalgatkonings
so veel blinde aasvoël-en-heyna aanhangers
en altyd die waarheidsoekende harlekyne
wat meer sukses het as die yogis
om lug in mense se longe te kry
dit is nie geld wat die wêreld tans red nie
dit is die lag

Monday, 23 August 2021

die janfiskaal

die janfiskaal bly loer deur 
die ruigtes van my verse totdat 
hy 'n paar onwaaksame krieke van 
my woorde plattrek
en hulle doodluiters oor
die doringdraad van 
my tong 
hang

Sunday, 22 August 2021

soos camelias

ek wil skryf totdat die bloed uit 
my tong en vingerpunte loop
ja, laat dit so wees
vir 'n damn goeie vers
sal ek bereid wees om liters van my bloed te bloei

die bloed spruit soos camelias
uit die groeipunt van my tong

hoor die bloed eggo deur my verse

simfonies, blommerig en bloederig 
rys my siel in poëtiese ekstase

Saturday, 21 August 2021

kamerade

ek laat my een oog toeval
en sit my vinger liggies op my oogbal
ek voel die ratse reaktiewe spierkragtigheid wat 
my oog heen en weer katrol

met my vinger in sagte aanraking met
die flinke oog-aksie
besef ek net meer hoe
hard die oog deur die dag EN die nag werk
hoe ver en fyn sy kan sien

ek hou my handpalms warm en 
saggies oor my twee oë
ek murmureer 'n innige dankie vir 
hierdie twee kamerade
wat so mooi na my kyk

Friday, 20 August 2021

versot

ek kan nie myself tot in soete ekstase lek nie
maar ek kan wel diep en eroties my digkuns inlek
en al haar donker holtes wakker en verruk lek

as ek eers ons verhouding op hierdie vlak gekry het
sal Digkuns my nooit verlaat nie
sy sal versot wees op my krullende krioelende tong!

Tuesday, 17 August 2021

rogbrood en lemoensap

                vir Kim

jou liefde is die sagte, koubare tekstuur
van jou handgemaakte rogbrood
jou omarming is die soete doop
van jou varsgeparsde winter-lemoensap

die nasmaak bly talm onder my verhemelte
as ek my laaste maal op aarde kan kies 
moet dit dít wees -
               jóú rogbrood en jóú lemoensap

die herinnering van ons liefde
plant ek soos ‘n veld vol rog in my hart
en die lemoene sal soos helder sonne
oor ons dorstige tonge skyn

Thursday, 5 August 2021

ek sit onder ‘n geel kombers

ek sit onder ‘n geel kombers in
‘n kafee in Onrus met ‘n rustige hart
ek voel skielik so trots op myself dat
ek myself aan die lewe kon hou tot hier
ek is nog nie omgery deur ‘n kar
geen wilde dier my in sy bek gekry
geen dodelike gif gesluk
geen moordenaar tot my slagaar aangetrek nie
geen water my verdrink nie
van geen van my hooggeklimde berge afgedonder nie

ek het in hierdie 41 jaar voluit geleef
sommige kere op die rant van risiko
en hier sit ek - lewendig - onder die geel kombers in
‘n kafee in Onrus met ‘n tevrede hart en dig daaroor

ek tel elke sekonde van my oorlewing
elke voeteval
elke oogwink
elke sprong
elke duik
elke struikel
elke sweetdruppel
elke lagbui
elke lied
elke uiting van liefde
elke gevoel van oorwinning
elke smelt in moedeloosheid
elke hoesbui
elke verte wat nader gekom het

Thursday, 15 July 2021

suig

die seesussing suig my in soos
my asem my insuig na my dieper
beter self soos die digkuns my insuig
na die kern van die heelal soos die suikerbekkie
die nektar deur die erikas suig so suig
die papier aan hierdie pen om die woorde
soos moedersmelk uit die uiers van die 
sillabes te suig soos my fietswiele aan 
die klippe en grond suig om my regop
deur die fyn-trap-balans te hou
soos my tone aan die sand en see suig
om die omvangrykheid van die oseaan
deur my sole in te suig
soos my kop droom om aan 
jou lippe te suig dat ek al suigend
hoort aan die aarde aan die grond
aan myself aan jou aan die heelal

die poëtika van suig is 
dat suig nie ewig kan suig nie
aan suig kom daar 'n einde
maak die meeste van die suig
vir so lank daai suigkrag bly klou
verruk jouself aan die suig

Friday, 9 July 2021

hoe lekker om soms die see te vergeet

woorde val in skemering oor die blad
ek moet raai wat hulle sê en wil sê
hoor ek 'n dringende lyflose stem deur my ore dring

hoe lekker om soms die see te vergeet, te vermy
en die aand tien voor tien in die middel van hierdie gedig
wakker te word en skielik die see te hoor
asof vir die eerste keer
daai opwinding van nuwe ontdekking deur
die ore te voel bruis

dankie lyf
dankie sintuie
dankie psige
dat julle elke dag in staat is om te vernuwe 
en van vars en vooraf die lewenssmake te proe!

Wednesday, 7 July 2021

do you?

various considerations and questions in case of thinking about Love, God, Covid, Your President, Moral Code, Heart, Food, Genes, Art, High Standards, Money, Fame etc etc)

do you fear it?
do you dodge it?
do you walk carefully around it?
do you simply know it?
do you acknowledge it?
do you deny it?
do you get imprisoned by it?
do you defend it?
do you attack it?
do you bow to it?
do you honour ir?
do you question it?
do you answer it?
do you rise above it?
do you strengthen through it?
do you feel it?
do you dance with it?
do you allow it?
do you mock it?
do you believe it?
do you fight it?
do you accept it?
do you doubt it?
do you flow with it?
do you growl at it?
do you exchange it?
do you rename it?
do you unname it?
do you calumnize it?
do you slander it?
do you abba it?
do you laugh at it?
do you sleep on it?

Wednesday, 30 June 2021

vanaand

        Konsert op die Shigeru Kawai vleuel klavier,
        Tatham Art Gallery
        Pietermaritzburg

vanaand kom ons staan saam
binne die oseaniese uitspansel
van hierdie grootse instrument

kom ons gooi ons kwesbaarheid
ons vreugdes, ons vrese
ons drome, ons honger
in haar golwe

haar getye giet 
die frekwensies in heilige harmonieë
stralend uit vingers -
sagte skadu's ululeer 
oor die klaviatuur

Tuesday, 29 June 2021

my hart klop tennisballe in my keel

my hart klop tennisballe in my keel
so opgewonde is ek
om my digkuns te skryf

die warm intimiteit van ‘n gedig
wat op die diepste geankerde kern van my tong lê
daai diep wete en stuiptrekkende gevoel van die gedig
net voordat sy gebore word
verruil ek vir niks in die wêreld nie!

Friday, 25 June 2021

dit is wat 'n hart doen

dit is wat 'n hart doen
wat 'n roos doen
wat 'n vagina doen
wat 'n sampioen doen
wat 'n cumuluswolk doen
wat die getye doen
wat die jellievis doen
wat die dansende lyf doen
wat die iris in die oog doen
 - blommende bomontploffings

Wednesday, 23 June 2021

naaldekokers

        vir Kim

soos ‘n duisend naaldekokers
vlieg jou liefde oor
die meer van my hart

***

like a thousand dragonflies
your love flies over
the lake of my heart

Monday, 21 June 2021

soos 'n pomoloog

kan ek soos ‘n pomoloog
die groei en oes van my gedigte benader
ek wil net so graag hê my vrugtedigtebome
moet dik skaduwees oor die warm aarde gooi

ek kies woord

die woord of die nie-woord - 
dit is die keuse

ek kies woord
want woord is klank is golf 
is sussing is bedaring 
is baanbreker wat weet
hoe om brug te bou tot 
in die ordening van
die groot chaos

Sunday, 20 June 2021

ek skryf in groen ink vanaand

'n week en 2 dae laas digterlik geskryf
kom ek kyk wat etter peul vloei
drup kook stroom 
kartel spat
val
stotter sikloon
gis stoot beur uit my uit

versag my voorkop
lei die senuwees weg van die hart
geen plooi 
geen spanning
geen senuwees
geen vrees 
selfs geen asemsnak of hartklop 
gaan in die pad staan tussen my en die digkuns

ek skryf in groen ink vanaand
want ek glo in die blare-groei
van my sillabes